Die Hindernis

LEES:  Johannes 12: 44 – 50

”Ek het as `n lig in die wêreld gekom sodat elkeen wat in My glo , nie in die duisternis sou bly nie (44),”

`n Boer het `n vreugdelose geestelike lewe van neerlaag gevoer. Met sy boerdery het dit tog heel goed gegaan. Waarom sy ongelukkigheid? Hy sê eendag vir `n vertroude mede Christen: “As ek kniel om te bid, klap `n oneerlike ding wat ek gedoen het my deur die gesig.” Hy het hooi van `n naburige boer gekoop. Voor hy kon betaal, is die buurman oorlede. Hy het na die administrateur van die oorledene se boedel toe gegaan. “Is daar dalk `n rekening teen my in die saak?” “Daar is niks op rekord teen jou nie,” word hy gerusgestel. Vir `n rukkie het hy die onbetaalde hooi uit sy gedagte gestel. Soos die tyd verloop kom daar `n skaduwee oor sy lewe. Hy kon geen vordering in sy geestelike lewe maak nie. God het hom van sy oneerlikheid oortuig. Na `n slapelose nag het hy besluit, hy gaan na die weduwee toe en vertel haar van sy versuim en betaal die rekening met rente. Toe hy so met die weduwee dit regmaak, kom hyself ook sommer reg en hy weet hy is nou ook weer met God reg. `n Nuwe krag en vreugde het in sy lewe gekom.

As ons aan die Here behoort sal die lig van die Heilige Gees die verkeerde dinge wat ons geestelike lewe ongelukkig maak vir ons uitwys. Die enigste raad vir `n bewussyn van `n verkeerde ding in die Christen se lewe is om dit aan die Here te bely en die verkeerde ding so goed soos moontlik in die reine te bring. “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig…ons het `n voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige (1 Joh.1:9 & 2:2).”

   “Here, vandag wil ek my oortreding bely.”