LEES: Kolossense 3: 13 – 17
“En laat die vrede van God…in julle harte heers en wees dankbaar (15).”
Twee lidmate van `n gemeente, `n Brown en `n Thompson, het oor `n onbeduidende saak verskil. Die onenigheid het verhard tot hatigheid en vyandskap. In die kerk het hulle so ver as moontlik van mekaar af gesit. `n Vriend van albei, het bedruk geraak, oor die vyandigheid tussen die twee manne. “Ek gaan `n vredemaker wees en doen wat ek kan om die breuk tussen my twee vriende te heel”, het hy hom voorgeneem.
Hy het eerste na sy vriend Brown toe gegaan. Na `n rukkie se gesels, vra hy vir Brown: “Wat dink jy van my vriend, Thompson?”. “Wat ek van hom dink?” bruis Brown dadelik op. “Hy is veragtelik in my oog!” “Maar,” sê die vredemaker, “jy moet toegee, hy is baie goed vir sy gesin.” “Ja, dis waar, dit moet ek ook toegee,” antwoord Brown nou kalmer.
Die dag daarna gaan die vredemaker na Thompson toe. Na `n bietjie lekker gesels, sê hy vir Thompson: “Ek was bietjie by Brown en weet jy wat sê hy oor jou?” Thompson antwoord: “Nee, maar ek kan my net indink, watter vuil en slegte dinge, hy oor my sal kwytraak.” “Wel,” sê die vredemaker, “ek weet nou nie so reg nie, maar hy het gesê jy is baie goed vir jou gesin.” “Wat! Het hy dit van my gesê?” “Ja, ek het dit met my eie ore uit sy mond gehoor,” vryf die vredemaker dit bietjie in. “Maar, sê my wat jy van Brown dink?” “Ek dink hy is `n skurk en `n skelm!” vaar Thompson teen Brown uit. “Maar enstig geneem,” sê die vredemaker, “moet jy toegee hy is eintlik `n eerlike en betroubare man.” “Ja, ja,” gee Thompson toe, “hy is eerlik, maar wat het dit met alles te doen”?
Die volgende dag besoek die vredemaker weer vir Brown. “Ek was so bietjie by Thompson,” sê hy so tussen die gesels deur. “Weet jy wat hy van jou sê?” Brown is dadelik die ene ore. “Ja?” “Hy sê jy is `n eerlike man.” “Jy is nie ernstig nie,” antwoord Brown. “Nee, ek is regtig ernstig. Ek het dit uit sy mond gehoor.”
Die volgende Sondag sit die twee vorige vyande by mekaar in die kerk. Elkeen se opinie van die ander het verander, omdat elkeen iets goeds van die ander gesê het en dit is aan hulle oorgedra.
So ontstaan `n vyandskap ook. As iemand vir jou kom vertel, dié of dáárdie persoon het dié slegte ding van jou kwytgeraak, is dit maklik om kwaad te word en nie weer met daardie een te doen te wil hê nie. So word vrede bevorder, as ons aan iemand iets goeds kan oordra, wat `n ander van hom/haar gesê het.
“Here, vandag wil ek iets goeds aan iemand oordra.”