Die Herders

LEES: Johannes 10: 11 – 18

“Ek is die goeie herder en Ek ken my eie en word deur my eie geken (14).”

Eerw. Leslie Miller vertel hoe hy en `n vriend in die omgewing van Casablanca in Noord­-Afrika in die veld gaan wandel het. Hulle kyk na die horison en word verstom deur `n stofwolk wat opstyg. Soos dit nader kom, maak hulle dofweg die vorm van skape in stof uit. `n Paar oomblikke later sien hulle, wat vir hulle gelyk het na duisende skape, wat verbystroom na die waterkuile toe. Sy woor­de: “What a sight it was to see all those sheep plunge their heads into the sparkling, refresing waters!” Na hulle dors versadig was, staan die skape lui en tevrede rond. `n Half­dosyn of wat van die plaaslike herders wat ná die skape daar aangekom het, begin in ver­skil­lende rigtings loop. Een van hulle draai om en sing `n trillende lied, wat Leslie Miller glad nie kon verstaan nie, maar `n groot aantal van die gemengde klomp skape spits die ore, draai die koppe, beur uit die groot trop skape uit en hardloop na die herder toe en volg hom toe hy aanstap. Die res van die klomp skape bly rustig staan. Die ander herders wat weg­ge­stap het, begin ook een na die ander die­selfde ding doen en elke keer skuur `n klomp van die skape tussen die massa uit en volg hulle herder. Eerw. Miller sê: “How thrilled I was to see that never-to-be-forgotten sight! Before my eyes had been portrayed the meaning of the words spoken by die Good Shepherd.” Dit is wat Jesus gesê het, na Hy Homself die goeie herder genoem het: “En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit  en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken.” Die skape volg nie `n ander herder as hulle eie herder nie.

Jesus het ons ook ingesluit by sy skape wat Hom volg, want Hy gaan voort: “Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder (Joh.10:14-16).” Die van ons in wie se harte die Heilige Gees die behoefte aan die Here Jesus laat ontwaak het, behoort aan hierdie skape. `n Skaap kan verdwaal, wegraak. Van so `n skaap het Jesus in sy gelykenis in Matthéüs 18 gesê: ”As iemand 100 skape het en een van hulle verdwaal, sal Hy…op die berge die verdwaalde een gaan soek…” En Jesus gee as rede vir die gebruik van hierdie gelykenis van die skape: “Want die Seun van die mens het gekom om te red wat verlore is.”

“Here, vandag is ek een van u skape wat U volg.”