'n Kosbare onrus

LEES: Markus 10: 17 – 27

“Hy val voor Jesus op sy knieë en  vra Hom. ’…wat moet ek doen om die ewige lewe te ve­r­kry?’” (17)

Dr. Forbes Winslow, patoloog en deskundige op die gebied van sielkundige proble­me, is deur ’n jong Fransman besoek. Hy het van invloedryke per­so­ne in Frankryk, o.a. Napoleon III, aan­be­ve­lings­brie­we saamgebring. Dr. Winslow vra vir die jongman: “Wat is eintlik die probleem?” “Ek weet nie,” antwoord hy, “maar ek is net binne-in my­self ontsteld. Ek kan nie slaap nie.” “Het jy geld ver­loor?” “Nee, nie on­langs nie.” “Is jy in jou eer of re­pu­tasie ge­krenk?” “Nee.” “Verstoot jou vrien­de jou?” “Nee.” “Wat pla jou dan snags dat jy nie kan slaap nie?” Die jongman kyk dr. Winslow in die oë: “Ek is ’n on­gelowige. My vader was ’n ongelowige. Godsdiensdinge is nooit tersprake nie, maar as ek snags in my bed lê, kom die saak van die ewigheid in my op. Is daar ’n ewigheid? Waar gaan ek in die ewigheid aanland? Ek kan snags aan niks anders dink nie. Wat gaan ek met myself in die ewigheid maak? Dit wil my gek maak. Ek kan nie slaap nie.”

“Ek kan jou nie help nie,” sê dr. Winslow, “Maar ek kan jou na Iemand verwys wat jou kan help.” Dr. Winslow neem sy Bybel wat op sy tafel lê, maak dit oop en lees: “So lief het God die wêreld gehad, dat hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh.3:16). ’n Trek van veragting kom om die mond van die Frans­man. “Dr. Winslow, wil u vir my sê dat ’n man van u verhewe wetenskaplike posisie daardie afgeleef­de bygeloof van Jesus glo?” Dr. Winslow ant­woord: “Ja, ek glo in Jesus Christus, en ek glo die Bybel. Dit is hierdie geloof in Jesus Christus wat die Bybel my geleer het, wat voorkom het dat ek geword het wat jy nou is.” Die man laat sak sy kop. “As ek eerlik wil wees, moet ek ten minste gewillig wees om dit te oorweeg, nie waar nie? Sal u my verder onderrig, asseblief.”

Met Jesaja 53: 5 as basis het dr. Winslow die jongman help verstaan, sodat hy kon glo: “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wil­le van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom en deur sy wonde het daar vir ons genesing ge­kom.” Vier dae later het die jongman na Frank­­ryk teruggekeer, ’n dissipel van Jesus Christus met die blye vooruitsig van die ewige lewe, in plaas van vrees vir die onbe­kende ewigheid.

“Here, vandag glo ek en neem u geskenk van die ewige lewe aan.”