LEES: Johannes 3: 16 – 21
“God het nie sy Seun na hierdie wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie” (17,18)
In 1829 is George Wilson in Pennsylvania tot die dood veroordeel, omdat hy ‘n poskoets beroof en moord gepleeg het. Pres. Andrew Jackson het hom begenadig, maar hy het die vryspraak verwerp. Wilson se standpunt was: dit is nie ‘n vryspraak, tensy hy dit aanvaar, nie. Die hooggeregshof moes uitsluitsel gee. Hoofregter John Marshall het soos volg besluit: “A pardon is a paper, the value of which depends upon its acceptance by the person implicated. It is hardly to be supposed that one under sentence of death would refuse to accept a pardon, but if it is refused, it is no pardon. Geoge Wilson must be hanged.” Tot die einde toe het Wilson volhard in sy weiering van die begenadiging en is toe gehang.
Regter Marshall was reg: dit is moeilik om te glo ‘n veroordeelde persoon sal sy begenadiging verwerp. So iets gebeur by hoë uitsondering, indien ooit weer, wat ons aardse lewe betref. Wat die ewige doodsvonis van ons siel betref, is dit ‘n bedroewende, algemene verskynsel. Christus het aan die kruis gesterf en so ons doodsvonnis, op Homself, geneem en dit volbring en daarom spreek God ons vry van die ewige dood wat ons sondes verdien. Die vryspraak moet ook aangeneem word. “…aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh.1:12). Iemand gaan verlore, nie omdat hy gekies het om verlore te gaan nie, maar omdat hy geweier het om God se vryspraak in Christus aan te neem.
“Here, vandag neem ek u vryspraak aan”