Waardelose Voordeel

LEES: Johannes 3: 16 – 21

“God het nie sy Seun na hierdie wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie” (17,18)

In 1829 is George Wilson in Pennsylvania tot die dood veroordeel, omdat hy ‘n poskoets beroof en moord ge­pleeg het. Pres. Andrew Jackson het hom be­genadig, maar hy het die vryspraak verwerp. Wil­son se standpunt was:  dit is nie ‘n vryspraak, tensy hy dit aanvaar, nie. Die hooggeregshof moes uit­sluit­sel gee. Hoofregter John Marshall het soos volg be­sluit: “A pardon is a paper, the value of which de­­pends upon its acceptance by the per­son im­plicated. It is hardly to be supposed that one un­­der sen­­tence of death would refuse to accept a par­don, but if it is refused, it is no pardon. Geoge Wilson must be hanged.” Tot die einde toe het Wilson volhard in sy weiering van die begenadiging en is toe gehang.

Regter Marshall was reg: dit is moeilik om te glo ‘n ver­oor­deelde persoon sal sy begenadiging ver­werp. So iets gebeur by hoë uitsondering, indien ooit weer, wat ons aardse lewe betref. Wat die ewige doodsvonis van ons siel betref, is dit ‘n bedroe­wen­de, algemene ver­skyn­sel. Christus het aan die kruis gesterf en so ons doods­vonnis, op Homself, geneem en dit volbring en daarom spreek God ons vry van die ewige dood wat ons sondes verdien. Die vrys­praak moet ook aangeneem word. “…aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh.1:12). Iemand gaan verlore, nie omdat hy gekies het om verlore te gaan nie, maar omdat hy geweier het om God se vryspraak in Christus aan te neem.

“Here, vandag neem ek u vryspraak aan”