Hulp in Nood

LEES: Psalm 40

“Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op `n rots gestel; Hy het my gange vasgemaak (3).”

Terwyl Richard Almo, van Pittsburgh, huis toe stap, na sy nagskof by Jones and Luaghlin Steel Works, kyk hy af in die vlei, langs die Penn-Lincoln Highway. Hy verbeel hom hy sien `n man se kop bokant die vlei se modderige bodem uitsteek. Hy klouter af na die vlei toe en werklik, dit is `n lewende man se kop. Die man sit in die modder van die vlei­bodem vas. Hy het reeds stadig, tot byna by sy ken, in die die moeras weggesak. Hy kon nie praat nie. Sy mond is vol modder. Hy kan net sy oë heen en weer draai. Later is vasgestel dat hy vir 18 ure in daardie posisie vasgevang gesit het.

Richard spring weg na die nabygeleë polisie­stasie toe. Die brandweer word in kennis gestel. Dapper manne, gestut deur takke wat van die bome afgekap is, kruip in die vlei af, tot waar die man in die moeras vassit. `n Tou word onder sy arms vasgebind en hy word opgegtrek uit sy posisie, wat kort voor lank sy graf sou wees, as Richard hom nie opgemerk het, en die polisie- en brandweermanne nie so vinnig en dapper kom help het nie. Hy is vir skok en longontsteking hospitaal toe geneem.

Dit was vir hierdie man `n genadige uitredding. `n Mens kan fisies in so `n nood situasie beland. `n Mens kan ook finansieël in so `n toestand verstrik raak. `n Mens se grootste nood is, wanneer `n mens geestelik, in jou hart, in die modder van hierdie wê­reld insink. Die skrywer van hierdie gebeurtenis skryf, en ek haal sy eie woorde aan: “How aptly this incident illustrates our plight before the Saviour extri­cated us from the quagmire of sin and degradation!”

Dit is van hierdie geestelike, verlore toestand, wat Dawid in sy Psalm 40 sing: “…my ongeregtighede het my ingehaal en ek kan nie sien nie.Hulle is meer as die hare van my hoof, en my hart het my verlaat. Laat dit U behaag, Here, om my te red; Here maak tog gou om my te help!” Dit is in dié toestand en nood, dat ons ons toevlug neem tot God se groot redding, deur die Here Jesus Christus: “Hy wat geen sonde gedoen het nie…wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is (1 Petrus 2:22-24).”

“Here, vandag kom soek ek by U redding.”