LEES: Lukas 18: 18 – 27
“Maar hy antwoord: ‘Al hierdie dinge het ek van my kinderdae af onderhou.’ Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hom: ‘Een ding kom jy nog kort …’” (21,22)
Abraham Lincoln, seker Amerika se merkwaardigste president, het sy moeder op negejarige ouderdom verloor. Sy het sy Bybelse opvoeding so stewig gelê, dat dit sy lewenskoers gerig het. Hy het self gesê, in tye van versoeking kon hy haar stem hoor, soos sy hom die Here se wet geleer het: “Ek is die Here jou God jy mag nie … steel nie …” en so meer. Eerlikheid was so ’n uitstaande kenmerk van Lincoln, dat hy die bynaam Honest Abe gekry het. Toe hy die politieke arena betree, het hy met hewige en vernederende opposisie te make gekry. Hy is beskryf as onaantreklik, ongeletterd, verwaand en onopgevoed. Onderweg na Washington het iemand vir hom ’n vlaggie, met hierdie woorde daarop, gegee: “Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan” (Josua 1:9). Hierdie woorde het vir hom ’n bron van inspirasie geword. Lincoln het hom tot die woord van God gewend vir krag en leiding. Dit het sy karakter gevorm. Saam met sy eerlikheid het beleefdheid, nederigheid en insig ontwikkel. Tog het iets by hom ontbreek. Een van sy lyfwagte het dit so beskryf: “The misery that dripped from Lincoln as he walked, was caused by his lack of personal religious faith.”
Hoe kon gesê word die godsdienstige, eerbare Abraham Lincoln ontbreek aan persoonlike geloof? Hy het aan God gedink as ‘n Almagtige, veraf Wese, wat die heelal en die geskiedenis van die mensdom beheer. God was nie vir hom ‘n persoonlike en liefdevolle Vader, wat in die offer van sy eie geliefde Seun, vir hom, Abraham Lincoln, met volle vergifnis van al sy sondes as sy kind aangeneem het nie.
Lincoln wou die slawe bevry. Dit het tot die Amerikaanse Burgeroorlog gelei; vir Lincoln ‘n tyd van groot smart en geestelike foltering. Toe word sy seun siek. Dag en nag het hy by sy seun se bed gewaak. Die verpleegster wat hom daardie dae moes oppas, was ‘n ywerige, belydende Christin. Sy het in die donker waakure dikwels met Lincoln oor Christus en sy verlossingswerk gepraat. Sommige dink dit is veral sy wat ‘n instrument was tot Lincoln se geloofsoorgawe aan Christus.
Kort na die dood van sy seun het hy Gettysburg besoek. Die groot slag van die Burgeroorlog het dáár plaasgevind. Duisende op duisende houtkruise het die grafte van die gesneuweldes aangedui. Daar het hy van aangesig tot aangesig met Jesus Christus gekom en ‘n geloofsoorgawe aan Christus gemaak. Hy het vir ‘n vriend geskryf: “Toe ek Gettysburg toe gegaan het, was ek nie ‘n Christen nie, maar daar by Gettysburg het ek my hart vir Christus gegee.” In die argief van die New York Presbitriaanse Kerk van Washington is ‘n brief, deur Lincoln onderteken, waarin hy getuig dat hy nou gereed is om sy geloof in Jesus Christus as sy Verosser openlik te bely. Die brief is gedateer, Dinsdag, 13 April 1865. Maar 24 uur later, Woensdagaand, 14 April, het die sluipmoordenaar, John Wilkes Booth, president Abraham Lincoln in die Ford Teater doodgeskiet. Die belangrike man, het net betyds sy belangrikste besluit, reg geneem.
“Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras, soos dié van ‘n veldblom wat oopgaan: as die woestynwind daaroor waai, is dit weg en sy plek vir altyd leeg. Maar onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien …” (Ps.103:15-17)
“Here, vandag dank ek U vir die lankmoedige en volgehoue werking van u Heilige Gees in my hart om my betyds by redding te bring.”