Do 18 Feb: Een in Christus

LEES: Galásiërs 3: 22 – 29

“….julle is almal een in Christus Jesus (28).”

Die Indian Christian vertel, dit is Sondagoggend in Kiangsu, Sjina, gedurende die Tweede Wêreld­oorlog. Kiangsu is reeds deur die Japanese magte ingeneem. Die diens word in `n klein Sjinese kerkie ge­hou. Die kerkie is feitlik stampvol, want die Chris­tene het in hierdie swaar tyd behoefte aan `n bewus­syn van God se nabyheid. Skielik is daar spanning in die gehoor en onderdrukte uitroepe van vrees word gehoor. Vroue klem hul babas teen hulle vas. Mans kom regop in hul sitplekke. `n Japanese sol­daat het by die oop kerkdeur ingestap en loop nou af in die paadjie na die preekstoel toe.  Die soldaat kom by die tafeltjie voor in die kerk. Sigbaar vir al­mal haal hy geld uit sy sak en hy sit `n bydrae op die tafeltjie neer. Alle vrees bedaar en `n bewussyn van verligting word voelbaar in die kerkie toe hy sê: “Ek is ook `n Christen. Ek verlang om saam met julle te aanbid.” Hy maak die liedereboek oop en noem `n lied. Kan ons dit sing, asb.” vra hy my `n glimlag. Die lied is “Blest be the tie that binds.” Almal staan op en die Sjinese en die Japanees sing hartlik saam:

Blest be the tie that binds,
our hearts in Christian love.”

Wat bring die eenheid tussen Christene? “Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus.” Dit is die groot droefheid wat uit ver­skeie van die sendbriewe spreek, wanneer die apostels oor twiste, eiesinnigheid en spanning in die gemeente moet skryf. Paulus skryf aan die Efésiërs: “…wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is, met alle nederigheid en sagmoedigheid met lank­moe­digheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en erns­tig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede (Ef.4:1-3).”

“Here, vandag wil ek my hart skoonmaak van enige verkeerde gevoel teen `n ander.”