LEES: Spreuke 27: 1 – 5
“Beroem jou nie op die dag van môre nie, want jy weet nie wat die dag sal bring nie.” (1)
Op 8 Oktober, 1871, preek die beroemde prediker, D. L. Moody, voor die grootste gehoor wat hy ooit in Chicago voor hom gehad het. Sy teks was: “Wat moet ek dan doen met Jesus, wat genoem word Christus?” (Mat.27:22). Afsluitend, gee Moody sy gehoor die raad: ‘Neem hierdie vraag huis toe. gaan dink daaroor, en volgende Sondag gaan ons na Gólgota en die kruis toe, en dan besluit ons wat doen ons met Jesus van Násaret.’” Die bekende sanger, wat in Moody se dienste opgetree het, Ira D. Sankey, sing die sluitingslied.
Op daardie oomblik dring die gelui van brandweerklokke tot hulle deur. Wat later as Chicago se groot brand, bekend geword het, oorval die saal met die mense nog binne-in. Die saal self is tot as verbrand. In die brand is meer as 1000 mense doodgebrand, baie van hulle wat in die diens was.
Moody se opinie oor wat gebeur het, wil ek graag in die Engels oorneem:
“Moody said it was the greatest mistake he ever made – telling his hearers to postpone their decision till the following Sunday.” Dit kan so maklik met ons ook gebeur. Ons word in die hart getref deur `n preek of getuienis en wat in Openbaring 3:20 geskryf staan, gebeur met ons. In ons hart hoor ons Jesus sê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou en hy met My.” En nou ons oomblik van besluitneming: Ons maak vir Jesus ons hartsdeur oop en nooi Hom in. Of ons stel uit en ons verloor die groot geleentheid, wat vir ons die verskil van `n ewige hemel of `n ewige verdoemenis sal bring. Maak oop die deur en nooi Hom in.
“Here, vandag hoor ek U klop en ek maak my hart se deur oop.”