Do 25 Feb: Genade Onbeskryflik Groot

Lees Psalm 40:1-6

“Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder…Hy het my ’n nuwe lied in die mond gelê…(3,4).

Dr. Billy Graham vertel van ’n graf in die hoek van die kerkhof van die Olney Parish Church, met die volgende grafskrif: “John Newton, clerk, once an infidel and libertine, a servant of slaves in Africa, was by the rich mercy of our Lord and Saviour Jesus Christ preserved, restored and appointed to preach the faith he had long laboured to destroy”  Newton was die seun van ’n seekaptein wat betrokke was by die handel op die Middellandse See. Sy ma is dood toe hy 6 jaar oud was. Na twee jaar op skool, op die ou­der­dom van 11 jaar, sluit hy by sy pa se bemanning aan. On­sedelikheid, losbandigheid en mislukking word sy le­wenspad. Sy pa verwerp hom. Hy word in die tronk ge­gooi en verneder. Hy word later deel van die beman­ning van ’n sla­weskip. Hy haal hom die haat van sy baas se negervrou op die hals en word “’n slaaf van sla­we”. Die lees van die boek Imitation of Christ deur Tho­mas à Kempis bring hom tot besinning. In ’n seestorm waarin hy byna omkom, kom hy tot bekering.

Op 39-jarige ouderdom word hy evange­lie­dienaar. Vir 15 jaar was hy pastor van die Olney Parish Church. Hy het talle lie­dere geskryf en in samewerking met sy vriend, Wil­liam Cowper, het hulle ’n liederebundel uitgegee. Sy be­kendste lied, “Amazing Grace”, vertel sy eie verhaal:


Amazing grace! How sweet the sound,

 that saved a wretch like me.

I once was lost but now am found,

 was blind but now I see.


Die slegste van die slegtes word deur die Here ge­red. Die Here Jesus het mag om ’n stukkende mens nuut en heel te maak. Wanneer ’n mens tot bekering kom gebruik hy nie sy eie krag om goed te word nie. Hy word met God se krag gered en goed gemaak. Spur­geon sê van bekering: “…every child of God is not manplanted, nor self­planted, but Godplanted. Every true heir of heaven owns the great Husbandman as his planter.”  En Paulus skryf só oor die Christene in 1 Korintiërs 6:9-11: “En so was party van julle juis ook… maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.”

Twee of drie jaar voor John Newton se dood, sy oë was te swak om self te lees, het ‘n kollega elke oggend saam met hom ontbyt genuttig en dan vir hom die Skrif gelees. Een bepaalde oggend was die Skrifdeel uit 1 Korintiërs 15, en veral vers 10: “Maar deur die genade van God is ek wat ek is…” Vir ‘n paar minute was daar stilte. Toe sê John Newton: “I am not what I ought to be. How imper­fect and deficient I am! I am not what I wish to be, al­though I abhor that which is evil and would cleave to that which is good. I am not what I hope to be. Soon I shall put off mortality, and with it all sin and imperfection. Though I am not what I ought to be, nor what I wish to be, nor yet what I hope to be, I can truly say I am not what I once was, a slave to sin and Satan. I can heartily join with the apostle and say that by die grace of God,  I am what I am.”

“Here, vandag dank ek U vir u werk in my hart.”