LEES: Efesiërs 6: 10 – 20
“…bid gedurig vir al die gelowiges. Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak” (18,19)
‘n Predikant was besorgd oor die geestelike lewe van ‘n meisie, wat lang ure in ‘n fabriek moes werk. Hy het geweet sy is ‘n kind van die Here, maar hy doen by haar navraag of sy, te midde van haar besondere gebonde lewe, deur haar werk by dié bepaalde fabriek, ooit nog tyd kry om vir die Here ook iets te doen. Sy het geantwoord soos hy gevrees het. Haar werksprogram laat haar net nie toe om ook nog betrokke te raak by kerklike werk nie. “Maar,” voeg sy by, “elke aand koop ek ‘n koerant en neem dit na my kamer toe.” Geskok sê die dominee: “Dis goed om die koerant te lees, maar ek kan nie sien hoe dit met ons gesprek iets te doen het nie.” Sy verduidelik geduldig: “Ek blaai eerste na die persoonlike advertensies se afdeling toe. Ek lees die geboortekennisgewings. Dan bid ek vir elke baba by naam – dalk bid niemand anders ooit vir hulle nie. Dan lees ek die huweliksaankondiginge en bid vir elke paartjie afsonderlik dat die Here hulle moet lei en help. Dan lees ek die doodsberigte en bid vir die bedroefdes wat agtergebly het vir krag en geloof.” Die dominee is diep aangedaan toe hy van haar af wegloop. In haar swakheid en eenvoud is sy met ‘n gebedsbediening besig wat hom beskaam. Sy was ‘n krag in die hand van die Here en niemand sal weet watter seën haar manier van voorbidding vir mense en vir die Here se koninkryk gebring het nie.
Voorbidding is ‘n groot en magtige bediening. As ons die koerant lees en vir die mense wat by die nuusberigte betrokke is sou bid, hoeveel seën kan daar nie vir die wêreld daaruit voortvloei nie? Ons moet vir die Here getuies wees, ook werkers, maar ons grootste krag kan wees, as ons op ons knieë is en vir die Here se koninkryk voorbidding doen.
In Die Spoorwegbode, Junie 1981, staan hierdie woorde: Deur die eeue is heersers onttroon, leërs verslaan, geweldenaars tot vernedering gebring, herlewings begin, omdat ‘n vasberade enkeling, of ‘n handjievol desperate gelowiges, op God vertrou en Hom aangeroep het.
“Here, vandag bid ek vir die uitbreiding van U koninkryk.”