Ma 8 Feb: Waar ons trap

LEES : Hebreërs 10: 26 – 31

“Hoeveel swaarder straf dink julle, sal hy verdien, wat die Seun van God vertrap het…? (29).”

`n Skotse plantkundige, lê plat op sy maag in `n skaapweiveld, deur sy mikroskoop, na `n heide­blomkelk en kyk. Hy is onbewus van die her­der wat hom nader, totdat dié se skaduwee oor hom val. Die botanis kyk op en sê vir die herder: “Kom, kyk hier deur my mikroskoop, na julle blomme.” Die ruwe ou herder sien vir die eerste keer die blom, in al sy wonderlike skoonheid, deur `n mikroskoop vergroot. Terwyl hy kyk begin trane oor sy verweerde gesig loop. Hy kom tot homself en rig hom stadig op. Hy sê vir die plantkundige: “En om te dink, al hierdie jare vertrap ek hulle sommer net so onder my ou rowwe voete!”

Walter. B. Knight wat dit vertel, voeg by: “There is a greater act of sacrilege, or wanton dese­cration, of which we can be guilty. We may trample ‘the Rose of Sharon,’ the Lord Jesus Christ, beneath ou feet.” Vir die manne wat Jesus ge­kruisig het was dit maklik om op Hom te trap, op Hom te spoeg, Hom te verag. Hulle het Hom nie geken nie, nie geweet wie Hy is nie.

Hoe doen óns dit? Dit is seker eerstens hoe ons oor Hom voel, die tyd wat ons aan Hom af­staan, van Hom of oor Hom praat, sy Naam misbruik as ons praat, ander oor Hom spot. In kort, watter plek die Here Jesus in ons lewe inneem, kan selfs dui dat ons sy kruisiging minag. Dit is ernstige woorde wat in Hebreërs 10:28,29 staan: “As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming…hoeveel swaarder straf dink julle sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van  genade gesmaad het?”

“Here, vandag buig ek om Jesus te aanbid.”