LEES: Lukas 19: 29 – 35
“…as julle (in die dorp) inkom, sal julle `n eselsvul vind…maak hom los en bring hom…die Here het hom nodig”. (30,31)
Dit lyk soms aan `n persoon se gedrag en vermoëns of hy/sy onbevoeg is om deur die Here gebruik te word. En soms voel `n mens oor jouself ook so. So `n seun was klein Isaac Watts. Hy was `n regte klein rymelaar. Hy kon feitlik niks sê nie, of hy het `n rympie daarvan gemaak. Een oggend tydens die gesin se oggendgodsdiens terwyl sy pa nog bid – sy pa was `n predikant – lag hy skielik. A.Naismith skryf: “This brought down the godly minister’s wrath on his frivolous son.” Hoekom het hy gelag, wou sy pa en die ander gesinslede weet. Hy antwoord: “There was a rat for want of stairs; he climbed up the rope to say its prayers.” Sy pa staan op en maak gereed om die onmoontlike mannetjie soos nodig te tugtig. Maar klein Isaac skree terug: Oh father, do some pity take; and I shall no more verses make.” Ongelukkig vertel Naismith nie verdere insidente van die seun nie, tot een oggend toe hy saam met sy pa by hulle kerk is, vir die Sondag diens. In daardie dae is slegs Psalms in die kerkdienste gesing, en dit is waardig, maar nie hartlik gesing nie. Vyftienjarige Isaac sê vir sy pa, die predikant: “The singing of God’s praise is the part of worship nighest to heaven, but its performance among us, is the worst on earth.” Sy pa antwoord: “Gee ons iets beter!” Nou skryf Naismith: “And he did so in over 600 hymns. One of the finest and best known has as its theme ‘The Cross of Christ’:
When I survey the wondrous cross
on which the Prince of glory died…
En óns ken dit goed:
As ek die kruishout gadeslaan,
waaraan die Hemelkoning hang,
is al my pogings enkel waan,
verfoei ek trots en selfbelang.
Kyk hoe sy hand, sy hoof, sy voet
sy smart en liefde saam vetoon;
hoe liefde^en smart mekaar ontmoet
hoe doringvlegsels Hom daar kroon!
Ek weet nie hoeveel van ons Afrikaanse geestelike liedere van Isaac Watts af kom nie, maar oor die genoemde lied het ek in die groot Hallelujaboek gaan kyk, en onder, in die hoek van die lied, staan sy naam. Vir hoevele was hierdie lied nie al `n boodskap en troos nie.
Die Here kán iemand wat onbevoeg lyk, gebruik. Op die esel wat die dissipels gebring het, het Jesus oorwinnend Jerusalem binnegery. “En die wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep: ‘Geseënd is die koninkryk wat kom in die Naam van die Here… (Mark.11:7-10)’”
“Here, vandag wil ek, al voel ek onbevoeg, vir U bruikbaar wees.”