Vry 19 Feb: Die Veilige Pad

LEES: Psalm 51: 8 – 15

“Maar U verwag opregtheid diep in ‘n mens se hart; laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe” (8)

In die Junie 1992 Reader’s Digest, se ru­briek Life’s Like That, vertel Will Hedrick hoe hy ge­leer het eerlikheid is vir ’n mens die vei­lig­ste pad.

Eendag, gedurende sy etensuur, gaan hy gou na ’n boekwinkel toe om ’n boek te koop. Hy be­sluit om met sy kredietkaart te betaal. Die boek­winkel is vol mense. Die twee assi­stente ag­ter die toonbank is oorhaastig en verward om al­mal in die drukte te bedien. Sy kredietkaart word van die een meisie na die ander aangegee. Uiteindelik is sy transaksie deur en hy stap uit met sy boek. Buite gekom, sien hy hy het albei die koop­be­wyse gekry, sy eie en die handelaar s’n. “I thought to myself that I’d just got a free book. However, by the time I sat down at my desk, my conscience was be­gin­ning to bother me, and I reached for the te­le­phone.” Een van die twee as­sis­tente wat hom bedien het, antwoord die tele­foon. Hy verduidelik die situasie en beloof om die handelaar se koop­be­wys na werk terug te be­sorg. Die winkel­assistent antwoord: “I’m glad you called. You left your credit card on the counter.”

’n Eerlike lewenswyse is veilig vir ’n mens self en dit is veilig vir die persoon met wie ’n mens te doen het. En dit is aangenaam in God se oë as ’n mens eerlik optree. “Die opregtheid van eer­like mense bepaal hulle koers; die valsheid van onbetroubares bring hulle ondergang” (Spr.11:3).

“Here, vandag wil ek in alles eerlik optree.”