Do 4 Feb: Ek sou Oopmaak

LEES: Openbaring 3: 14 – 22

“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom maaltyd hou…” (20)

`n Wyksbesoeker het by `n huis `n muur­ka­len­der af­ge­­gee. Die kalenderprent was `n reproduksie van Holman Hunt se skildery, wat die kloppende Heiland toon, vertel Moo­dy Monthly. Die ma van die huis, en haar seuntjie, het die kalender klaar opge­hang, toe die pa van sy werk af, vir sy mid­dag­ete op­daag. Dadelik soek die seuntjie sy aandag: “Kyk, Pap­pa! Wie is dit?” Die pa kyk na die prent, maar antwoord nie. Weer vra die seuntjie: “Pap­pa, sê vir my wíe is dit?” Uiteindelik sê die pa: “Dis `n man.” “Watter man, Pappa? Wat is sy naam?” Onwillig, maar gedwing deur die gre­tig­heid van die seuntjie, antwoord hy: “Jesus.” “Maar wat doen Jesus daar?” vra hy. “Hy klop aan `n deur.” “Hoekom klop Hy?” “Hy wil na­tuur­lik ingaan.” “Hoe­kom maak hulle nie vir Jesus oop nie?” Die pa eet stil­wyend voort. Die seuntjie bly oor Jesus en die toe deur uit­vra. Ernstig sê hy: “Ek sou vir Hom oopgemaak het. En Pappa?” Die pa begin baie on­ge­maklik voel, eet vinnig klaar en vertrek gou-gou terug werk toe. Die seuntjie se aanhoudende vrae oor Jesus en daardie toe deur het `n stroom van on­rus­tige gedagtes in hom ont­roer.

Hy kom eers weer van sy werk af na die seuntjie al gaan slaap het. Sy vrou vertel hom hoe die seuntjie die hele middag, tot na aandete en hy bed toe moes gaan, oor Jesus en die toe deur bly vra het. Die man en vrou gaan sit by mekaar. Albei erken die seuntjie se vrae het in húlle vrae ontketen, wat hulle lankal stilgemaak en on­der­druk het. Hulle erken aan mekaar hoe hulle die deur in hulle lewens vir Christus toegehou het. Hul­le kniel saam, bely hulle sonde en maak hulle harte oop en neem Jesus aan as hulle Verlosser.

Die klop aan die deur van die hart kom op baie ver­skillende maniere. Onder die luister na `n preek, `n skrifdeel met Bybellees, iets wat iemand sê, `n gebeurtenis, `n treffende nuus­be­rig in `n koertant, baie maniere. Die klop kan sag wees, eers amper onhoorbaar, maar dit hou aan en `n mens word be­wus van die Heilige Gees se werking in die hart en denke. Die klop kan ook hard en dringend wees, wat hewige aandoening in die gemoed teweeg­bring. Jesus se klop aan die deur van ons hart is egter `n innerlike bewussyn, die Here praat met my, Hy soek toegang in my lewe. Moenie die deur laat toe bly nie. Maak vir Jesus oop.

“Here, vandag maak ek die deur van my hart vir U oop.”