LEES: Romeine 8: 24 – 28
“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk…(28)
Die ywerige getuie vir die Here Jesus Christus, Bernard Gilpin, is onder die bewind van Koningin Mary Tudor vir sy protestantse geloofsoortuigings tot die dood veroordeel. Oor hom skryf Naismith: “Each morning and each night het repeated during his imprisonment: ‘We know that all things work together for good to them that love God’”. Die dag van sy teregstelling breek aan. Op pad na die plek van sy teregstelling, onder die ruwe begeleiding van sy wagte, val hy en hy breek sy been. Hy is sondermeer terug geneem na sy gevangenisterrein. Op sy bed het hy gelê en kreun van pyn. Sy tronkbewaarder het hom aanhoudend geterg oor sy teks van God se bewaring. Later is hy na `n hospitaal verskuif. Sy enigste antwoord vir die spottende bewaarder was: “Dit bly steeds die waarheid.” Dit was ook werklik sy ervaring, want terwyl hy in die hospitaal lê het Koningin Mary gesterf. In haar plek het Elizabeth die troon bestyg. In die proses is Bernard Gilpin vrygestel en hy kon huis toe gaan waar hy die nodige sorg ontvang het en sy been weer gesond geword het.
Soms gebeur dinge met ons wat teenstrydig met die sorg van die Here lyk, maar dan vind ons dit is juis die weg waarlangs die Here vir ons die beste laat gebeur.
“Here, vandag glo ek U laat deur U krag met my die beste gebeur.”