Di 23 Feb: Swaartekrag en Lewe

LEES: Romeine 8: 10 – 17

“En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opge­wek het, in julle woon, dan sal Hy wat Chris­tus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike lig­game lewend maak deur sy Gees wat in julle woon  (11).”

`n Pa en sy seuntjie loop een lentedag in die lieflikheid van hulle blomryke tuin. Die seun­tjie vra: “Pa, wat is swaartekrag?” “Swaar­tekrag, Seun, is die wet of aard in die natuur, wat alles grond toe trek. As jy `n klip gooi, trek dit `n rukkie in die lug, en val dan op die grond. As `n appel in die boom te ryp word en sy stammetjie breek, val die appel uit die boom uit op die grond. As jy sou hardloop en jou voet haak vas, val jy op die grond. Swaartekrag beteken die grond trek alles af grondtoe. “Maar Pa,” sê die seun, “kyk na daardie pragtige tulpe. Hulle staan regop en swaai saam met die wind, maar hulle beur net boontoe, soos dit vir my lyk.” “Dis waar, my seun, maar dit is omdat `n ander wet in hulle werksaam is: die wet van die lewe. Dit is sterker as swaartekrag en hulle is vry van die swaar­tekrag solank hulle lewe in hulle het. Maar die aarde wag vir hulle. Laat een net verdroog of afbreek, en dadelik val hy aarde toe. Kyk al die blare op die grond. In die boom, in kontak met die boom se lewe sit hulle styf in die boom vas. Laat een net van die boom loskom, en dadelik fladder dit af aarde toe.”

Die pa en sy seun het, dalk onbewus, ook `n belangrike geestelike beginsel loop en be­spreek. Die krag en werking van swaartekrag is gelyk aan die dood vir ons in ons geestelike lewe. Selfs in Jesus se geval was die natuurlike swaartekrag aan die werk. Hy moes met spykers vasgeslaan word om nie van die kruis af te val nie. Sy fisiese dood was beeld van die geestelike dood. Jesus se opstanding het vir ons geestelike lewe ge­bring. Soos die tulpe in die blomtuin lewenskrag het om boontoe te reik, het Jesus se opstanding die lewe gebring wat Hom uit die graf laat opstaan het, maar wat ook vir ons innerlike geestelike lewe bring. “Maar as Christus in julle is, dan is die liggaam dood van weë die sonde, maar die gees is lewe van weë geregtigheid. As ons hart gereeld besproei word deur die woord van God en die grond om die tulp word d.m.v. gebed en belydenis van sondes, skoon gehou, bly daardie tulp, ons geestelike lewe, opreik boontoe. Ons ervaar die wet van die gees­te­like swaar­tekrag gedurig, en slegs die inwoning van Jesus, deur sy Gees in ons hart, kan ons oorwinning gee: Paulus skryf: “Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is geestelike dinge. Want wat die vlees bedink is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede (Rom. 8:5,6)”.

“Here, vandag wil ek my geestelik lewend hou deur omgang met U.”