Ma 22 Feb: Boggelrug

LEES:   Psalm 28

“Die Here is my sterkte en my beskermer, op Hom het ek vertrou. Hy het my gehelp. Daarom is ek bly en wil ek Hom loof met my lied” (7).

Op Sondag 5 September 1971, wil Ray Sted­man sy preek: The Way to Whole­­­­ness, beter toelig, om God se getrou­heid, liefde en krag te beklemtoon. Hy vertel:

’n Klein boggelrugseuntjie het saam met al sy maats ’n paar Bybelverse uit die kop geleer. By ’n aanddiens kry die kin­ders geleent­heid om hul tek­se voor te dra. Boggelruggie wil soos die an­der, ook op die ver­ho­gie voor die preekstoel klim, om sy tekse op te sê. Hy struikel op die ver­hoog. Een van die seuns in die gehoor sien dit en hy skreeu uit – sy eie woor­de; ek kan die wrede woor­de nie mooi in Af­rikaans vertaal nie: “Hey, cripple, why don’t you get the pack off your back?” ’n Mens kon ’n speld hoor val, toe die seuntjie stop en in trane uitbars. ’n Man staan in die mid­del van die gehoor op en stap na die verhoog toe. Hy sit sy arms om die seun. Hy sê: “Ek weet nie watter soort mens so iets sou sê nie, maar ék wil net sê, die dapperste per­soon in hierdie saal van­aand, is hierdie seun­­tjie. Hy is my seun en ek is trots op hom.” Met daardie woorde buig hy af en tel die seun­tjie op en dra hom na sy sitplek toe. Ray Stedman sluit af met hierdie woorde: “It is exactly what God does for us. In the bruised, hunch­back, broken fashion of our lives we do our best, and then we stumble and make a mess of things, as it were. The Lord Jesus says, ‘Oh, you’re Mine. I’m proud of you. I love you.’”

Die Here se woord bevestig hierdie be­sker­­ming van die Here vir almal wat Hom wil dien. “Die Here my God help my; wie sal my dan skuldig ver­klaar?” (Jes.50:9). “Daarom kan ons met ver­troue sê: ‘Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie; wat kan ’n mens aan my doen?’” (Heb.13:6). Laat ons met ons ge­bre­ke en al die Here dien en sy werk doen.

“Here, vandag dien ek U in swakheid.”