Ma 1 Feb: Die Eerste Belang die Beste

LEES: Kolossense 3:23 – 25

“En wat julle ookal doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang, want julle dien die Here Christus”. (23,24).

`n Jong jodin het tot diep en oortuigende beke­ring gekom. Met `n hart vol liefde vir die Here Je­sus, begin sy dadelik by haar werk in `n groot firma getuig en met mense oor Christus praat. Van die firma se personeel kla by die firmapresident oor haar gesprekke met hulle. Die president het haar inroep en belet om verder met die werkers oor godsdiens te praat. A Naismith skryf oor haar reaskie: “All right,” she replied, “then I shall  have to leave, for I cannot work, where I cannot take my Saviour and witness for Him.” Die president het geantwoord: “As dit is hoe jy daaroor voel, moet jy maar jou posisie prysgee.” Sy het `n bejaarde moe­der gehad wat sy onderhou het, en sy kon nie dink waar sy weer dadelik werk sal kry nie. Maar sy antwoord die president: “Soos u sê, goed, ek gee my posisie in hierdie firma prys, want ek kan nie ontrou teenoor Jesus Christus wees nie.”

Terwyl sy die Saterdag van daardie selfde week haar kantoor opruim, word `n koevert van die pre­si­dent af na haar toe gebring. Sy verwag dit is haar skriftelike afdanking en skeur die koevert oop. Sy lees: “Ons het `n posisie in ons firma met groter ver­antwoordelikheid, as die een wat jy nou gevul het. Ook groter salaris. Ons beskou jou as die regte persoon om daardie pos te vul. Ons bied jou dit aan.”

Naismith skryf oor die oortuiging, waartoe die president moes gekom het, oor hierdie volgeling van Jesus; “One who is loyal to her Lord is one who will be loyal to her boss, if he does not ask her to do anything of which her Saviour would not approve.”

Nog nooit het iemand, in `n uitdagende krisis, aan die Here Jesus getrou gebly nie, of Hy kom na daardie volgeling van Hom terug met `n seën. In Johannes 15:9 sê Jesus: “Soos die Vader My liefgehad het, het ek julle ook liefgehad. Bly in hierie liefde van My.” Dit is vir ons almal `n geseënde plek.

“Here, vandag wil ek met u krag  in U liefde bly.”