LEES: Lukas 15: 11 – 24
“En hy het opgestaan en na sy vader gegaan. En toe hy nog ver was, het sy vader hom
gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik
gesoen” (20)
`n Jong seun in sy tienderjare en `n ouer man, `n afgetrede leraar, is die enigste
passasiers in die treinkompartement. Hulle het nog nie met mekaar gesels nie, maar
die jongman lyk so bekommerd, dat die ou dominee besorgd vir hom vra of vir hom
iets kan doen. Na `n klein rukkie en woorde heen-en-weer wen die ou dominee die
jong seun se vertroue. Hy open sy hart vir die ouer man en vertel hom hoe hy
weggeloop het van die huis af en die hele familie in skande gedompel het. Hy het
nou spyt hy het dit gedoen en hy is oppad huis toe. Hy weet nie of hy welkom gaan
wees nie. Hy het vir sy ma geskryf en sy het hom van haar liefde verseker en sy wil
hom graag terug hê by die huis. Maar die pa is `n probleem. Hy wil nie hoor daar
van dat die seun terugkom nie. Nou is die seun oppad terug, sonder om te weet
watter ontvangs hy gaan hê. Hy het weer `n brief van die ma af gehad, waarin sy
skryf, as die pa inwillig om hom terug te ontvang, sal sy `n wit doek aan `n lang
boom, wat in die tuin groei, ophang. Die boom is sigbaar van die treinspoor af. Die
ou dominee bied aan om `n ogie te hou oor die saak en die seun kan bietjie lê en
rus.
Die verhaal van die Verlore Seun soos Jesus dit in
Lukas 15 vertel het, is baie bekend. Teen baie mistrappe in, het die seun se vader
hom met groot liefde terug ontvang. Jesus het die hart van sy Vader onthul in die
verlore seun se verhaal. Hy het die liefde van God vir sy verlore kind en die
hartlike verwelkoming wat hy kan verwag as hy na God toe gaan, geskilder. Die ou
dominee sit en wag om te sien hoe die situasie in hierdie geval gaan ontwikkel.
Die seun het aan hom `n draai beskryf, wat hulle sal kry net voor hulle by die huis
sal verbygaan. Die ou leraar besef hulle gaan nou om daardie draai, en wat hy sien
laat hom die seun met `n klap op die boud regop sit. “Tyd vir vreugde!” roep die ou
dominee uit asof dit hy is wat verwelkom word. Die gelykenis werk in die
praktiese lewe uit soos Jesus dit geskilder het. Die boom is letterlik oortrek
met stroke wit lappe. Hy is oor en oor welkom by die huis wat hy so lelik verlaat
het.
Dit teken vir óns, wat wil terugkeer na God toe, wat afhanklik is van sy liefde en
genade, die prentjie wat Jesus in ons harte wou oordra. “God het jou lief. Kom”
“Here, vandag neem ek hierdie boodskap hart toe en ek kom na U toe.”