Lees Efesiërs 1: 3 – 10 (Jare gelede se geldwaarde)
“God…het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is” (3).
‘n Man kom een aand kort van draad, weens probleme by die werk, laat tuis. Sy 5-jaaroud seuntjie wag hom by die deur in. Hy groet sy pa. Kry ‘n kortaf “Ja, naand” terug. “Mag ek Pa iets vra?” kom dit weer van die seuntjie af. “Ja, vra.” “Hoeveel geld kry Pa vir ‘n uur se werk?” “Dis nie jou saak nie,” antwoord die pa ergerlik. “Ek wil net graag weet. Asseblief, sê vir my,” pleit die outjie. “As jy dan moet weet, $20 ‘n uur.” Die seuntjie kyk hoopvol op na sy pa toe. “Pa, kan ek asseblief $9 by Pa leen?” Nou is die pa woedend. “Al hoekom jy wil weet hoeveel ek in ‘n uur maak, is om by my te leen. Toe, kamer toe met jou. Klim in die bed, en dink hoekom jy so selfsugtig is. Ek werk lang ure elke dag en ek het nie lus vir speletjies nie.”
Gehoorsaam gaan die seuntjie stilletjies na sy kamer toe en maak die deur toe. Die pa gaan sit op ‘n stoel en word al kwater oor sy seun se uitvraery. Hoe durf hy sommer so geld vra! Na ‘n uur kalmeer hy. Hy sit en dink. Dalk was hy darem te kras met sy seuntjie. Miskien het hy tog iets nodig, en hy vra nie dikwels geld nie. Die pa staan op en gaan na sy kamer toe. “Slaap jy, Seunie?” vra hy. “Nee, Pa, ek is wakker,” antwoord hy met ‘n klein stemmetjie. Die pa gaan in. “Ek het weer daaroor gedink,” sê hy. “Dit was vir my ‘n lang en harde dag en toe haal ek dit op jou uit. Hier is die $9 wat jy gevra het.” Die seuntjie sit dadelik regop. Hy straal. “Ag, dankie, Pa!” sê hy verlig. Hy trek sy kussing weg. Onder die kussing lê ‘n paar gefrommelde note. Hy haal dit uit, stryk dit plat en tel dit. Hy tel sy pa se geld by. Die pa wil weer ergerlik raak. “Hoekom vra jy geld terwyl jy al soveel het?” vra hy. Die seuntjie verduidelik: “Want ek het nie genoeg gehad vir wat ek wou doen nie. Nou het ek genoeg. Ek het nou $20. Kan ek ‘n uur van Pa se tyd vir my koop?”
Hoe het die pa hierop gereageer? Ongelukkig sê David A. Sargent, van wie die storie af kom, nie vir ons nie. Ons kan ons eie voorstelling maak. Ralph Waldo Emerson maak hierdie geestelike voorstelling: “The only gift is a portion of thyself. There is Another who loves you and me…and gave us a tremendous gift: the gift of HIMSELF.” So getuig Paulus van hierdie groot geskenk wat God vir ons gegee het: “Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê” (Gal.2:20). Die Here Jesus het nie net ‘n gedeelte van Homself of ‘n porsie van sy tyd vir ons gegee nie, Hy het Homself geheel aan ons gegee, Hy het vir ons gesterf, en Hy gee al sy tyd, sy ewige lewe, vir ons. Dis nie ons wat die Here se aandag moet afdwing of afkoop nie. Hy is gedurig besig, om ons aandag en ons oorgawe aan Hom, te soek.
“Here, vandag gee ek my hele lewe vir U.”