Ma 18 Jan: Waardering

LEES: 2 Timótheüs 2: 14 – 16

“Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as `n werker wat hom nie hoef te skaam nie…” (15)

Vir meer as 20 jaar het Olive Davies, die mense van `n klein Walliese myndorpie, as verpleegster gedien en ver­sorg. Die myndokter, dr. A. J. Cronin, het die geringe ver­goeding waarmee haar onbaatsugtige diens ver­goed is, verfoei. Na `n besondere veeleisende geval, het hy ge­waag om met haar daaroor te praat. “Nurse, why don’t you make them pay you more? It is rediculous that you should work for so little. God knows you’re worth it.” Daar was `n pouse soos sy staan en dink. Sy glim­­lag, maar haar oë het `n erns en dringendheid wat die dokter verbaas. “Dokter,” antwoord sy met `n erns wat by haar oë se kyk pas, “ as God weet, ek is dit werd, dan is dit ál wat vir my saakmaak.”

As God se goedkeuring en behae ons enigste lewens­maatstaf is, loop ons `n geseënde pad. Nie my voordele nie, maar God se tevredenheid, dit is wat dan tel. Dit is die kern van almal wat God teen groot opofferings dien se geheim. Ons verhouding met die Here Jesus en die werk van die Heilige Gees in ons, bring so `n gesindheid in die hart.

“Here vandag wil ek u liefde vir my so ken, dat u belange, u saak, my eerste belang is.”