Di 26 Jan: Getrouheid Beloon

Lees Hebreërs 12:1-3

“…laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus…(1)

Keiser Joseph II het in 1781 onherken­baar as ‘n gewone burger deur sy ryk gereis om te sien wat onder sy mense aangaan, ver­tel W.L.Lang in Wal­ter Baxendale se Dictionary of Illu­stra­tions. In die dorpie La­ken­stein gaan hy as Graaf Falken­stein in ’n her­berg tuis­. Die aand hoor hy die men­se praat van ge­heim­sin­nige samekomste in ’n huis net buite die dorp. Die opwinding bou op toe iemand nuus bring van geheimsinnige fi­gu­re wat een-een met don­ker lan­terns en kopdoeke oor hulle gesigte ge­trek juis nou be­sig is om daar aan te kom. Hulle besluit dat ’n paar van hulle on­der­soek moet gaan in­­stel. Die keiser, aan hulle bekend as Graaf Fal­kenstein, wil graag self gaan kyk wat aan­gaan. Hy word as leier aangewys.

Terwyl die ander wagstaan klop hy aan die huis se deur. Die inwoner, Senitz, maak die deur oop. “Wat soek jy hierdie tyd van die aand by ’n eerlike man se huis?” vra hy vir sy on­be­kende be­soeker. “As jy regtig ’n eerlike man is,” antwoord die keiser, “het jy niks te vrees nie.” Met dié woorde stap die keiser ook sommer in. In die voor­kamer sit ’n groe­pie mense om ’n tafel. Op die tafel lê ’n boek oop. Die keiser neem op ’n bankie plaas. “Gaan voort met wat julle besig is om te doen,” sê hy vir Senitz.  Senitz gaan sit op sy plek by die oop boek en almal om die tafel draai na hom toe, om met aandag te luister wat hy lees. “Ek lees verder,” sê Senitz, en gaan dan voort: “God het die wêreld so lief ge­had dat Hy sy enigste Seun gegee het, so­dat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te oordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie…” (Joh.3:16-18). Terwyl Se­nitz lees, verduidelik hy sommige tekse en van die ander, wat om die tafel sit, spreek ook gedagtes oor die Skrif uit. Na ’n kort rukkie onderbreek die keiser Senitz. Met trane in sy oë sê hy: “Om te dink dat ek op hierdie vreemde manier vir die eerste keer deel kon word van mense wat weet hoe om die Bybel te lees en te verstaan!” Toe hy van hulle afskeid neem, vra hy Senitz dringend om op sy eerste besoek aan Wenen by die paleis vir graaf Falkenstein te vra. Hy beloof om in te tree vir hierdie verdrukte mense wat so in die geheim die Here moet dien. Senitz het gou daarna Wenen toe gegaan. Hy moes uitvind graaf Falkenstein is niemand anders as keiser Joseph II self nie. Die keiser het hom met groot hartlikheid ontvang. Hy oorhandig aan Senitz ’n perkamentrol waarop hy die Dekreet van Verdraag-saamheid (Edict of Tolerance) geskryf het. Toe Senitz dit ooprol om beter daarna te kyk, kry hy ’n som geld met ‘n briefie by: “Vir die oprigting van ’n kerk”.

Op die gewel bokant die ingang van die Protes­tant­se Kerk in Lakenstein kan steeds gelees word: “Die Ga­we van die Keiser.” Met hul volhardende getrouheid aan die evangelie van die Here Jesus Christus het Senitz en sy medegelowiges, godsdienstige en burgerlike vryheid gewin vir die protestante, wat vir een en ’n half eeu onder verdrukking geleef en aanbid het.

Getrouheid aan die Here, al kos dit ’n prys, het groot be­loning. Dit is Hebreërs 11 se boodskap: volhard om God te vertrou en te gehoorsaam. Abraham, Jacob, Josef, Moses, almal het bedreigde vooruitsigte gehad. “Die smaad ter wille van Christus het hy (Moses) ’n groter rykdom geag as die skatte van Egipte omdat hy na die beloning uitgesien het… Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien” (Heb.11:26,27).

“Here, vandag versterk u woord my om U te dien.”