LEES: Matteus 21: 18 – 22
“As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra” (22).
Frances Johnson doen op ’n dag met ’n stuk of twintig Indiërmeisies van die Sendingweeshuis van Poona, uit Matteus 21 Bybelstudie. Hulle lees vers 21: “Julle sal vir hierdie berg kan sê: ‘Lig jou op en val in die see!’ en dit sal gebeur.” Een van die meisies vra: “Kan dit regtig gebeur?” Frances weet dadelik hoekom sy dit vra. Rondom Poona is dit baie bergagtig. Die weeshuis staan reg agter ’n hoë kop. In die winter verdwyn die son gou agter die kop en die weeshuis lê van vroeg middag af in die koue skaduwee. As dié kop kon verdwyn, sou dit vir almal ’n groot bate wees. “Kan dit regtig gebeur?” vra die meisie weer. Frances se geloof het vir so ’n dramatiese gebeurtenis kortgeskiet. “Kom ons bid almal daaroor,” probeer sy uit die hoek kom. Hulle bid saam en almal vra die Here om die kop weg te neem.
Juis op daardie tydstip moet Frances vir ’n paar weke weggaan. Toe sy die meisies groet moes sy beloof om saam met hulle aan te hou bid dat die Here die kop sal wegneem. Dit was ’n halfhartige belofte. ‘n Paar dae na haar vertrek, daag ’n staatsamptenaar by die weeshuis op. Sy departement wil ’n grondherwinningsprojek langs die baai aanpak. Hulle het grond nodig om ’n stuk van die baai op te vul. Hulle wil die hele kop by die weeshuis koop. Die transaksie word gou beklink. Binne ’n paar dae dawer en dreun dit om die weeshuis soos die stootskrapers en vragmotors die kop se grond wegry see toe!
Frances kan haar oë nie glo toe sy na ’n paar weke by die weeshuis tuiskom nie. Die kop het verdwyn. Dit lê in die see! Die laat middagson skyn warm oor die weeshuis. Die meisies se geloof is beloon. Jesus se belofte is bewaarheid.
God se wonderwerke bestaan nie altyd in bo-aardse, dramatiese gebeurtenisse nie. Hy orden omstandighede en bestuur menseplanne op ’n wyse wat sy wil ’n werklikheid maak. En waar omstandighede en menseplanne te kort skiet vir wat moet gebeur, gebruik God sy wonderwerkende krag, want Hy is almagtig. As ons verhouding met God reg is, en deur Jesus Christus sy kinders is, kan ons Jesus se belofte ernstig opneem en met die Heilige Gees se ondersteunende krag, van ons hemelse Vader die dinge vra wat ons nodig het. “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie in woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat volgens sy besluit geroep is” (Rom.8:26-28).
“Here, vandag bid ek vir dit wat ek nodig het.”