'n Goeie woord

Lees 3 Johannes v.1,2

“…Gaius, my vriend, wat ek waarlik liefhet… Ek was baie bly toe hier medegelowiges kom en van jou trou aan die waarheid vertel…”

‘n Onderwyseres gee eendag vir haar leer­linge, elkeen ‘n skoon vel papier, met die opdrag om die name van hulle klasmaats op die papier te skryf. Dan moet hulle, onder el­ke naam, die mooi­ste ding waar­aan hulle oor dié leer­ling kan dink, neer­skryf. Dit was stil in die klas terwyl elkeen bietjie rondkyk, dink en skryf. Na die klasperiode neem sy al pa­piere op. Daar­die Saterdag, skryf sy op aparte velle papier, vir el­k­een wat die ander van hulle geskryf het. Maandagoggend gee sy vir die klas elkeen hulle lys, van hulle maats se kommentaar oor hul­le.  Sy skryf oor hulle reaksie: Before long, the entire class was smiling. “Really?” they whispered. “I never knew that I meant anything to anyone!” and, “I didn’t know others liked me so much.” No one ever mentioned those papers in class again. The exercise had accom­plished its purpose. The students were happy with themselves and with one another.

‘n Paar jaar later sneuwel Mark, een van die leer­­­­linge, in ‘n geveg in Vietnam. Die onderwys­eres woon sy be­grafnis by. Die kerk was ge­­pak met sy vriende, meeste in uniform. Een vir een het hulle by die kis verbyge­loop om van hom afskeid te neem. Die onderwys­eres het laaste ver­by ge­loop. Een van die soldate wat as draer opge­tree het, kom na haar toe. “Was u sy on­der­wys­eres?”, vra hy. Sy knik: “ja”. “Hy het baie van u ge­praat,” sê die soldaat. Mark se pa en ma is ook daar. Hulle wag om met haar te praat. “Ons wil jou iets wys,” sê die pa. “Hulle het dit by hom gekry na hy gesneuwel het.” Hy gee vir haar ‘n vel papier wat dui­delik oor en oor oopgemaak en toe­gevou is. Onmid­del­lik herken sy dit as Mark se lys oor wat sy maats van hom geskryf het. Sy ma sê: “Baie dan­kie dat u dit ge­doen het. U kon sien dit was vir hom kosbaar.” Die an­der medeskoliere van Mark begin ook nader­staan. Char­les glimlag skaam: “Ek het ook nog my lys.” Chuck se vrou sê: “Chuck het gevra ek moet sy lys in ons huwe­liks­album plak.” Marilyn sê: “Ek het myne ook nog. Dit is in my dagboek.” Vicki maak haar handsak oop en haal haar gehawende lys uit. “Ek dra myne oral saam waar ek gaan. Ek dink meeste van ons het nog ons lys­te.” Die onderwyseres gaan sit en begin huil. Sy huil oor Mark wat dood is en oor al sy maats wat krag ge­put het, uit die goeie dinge wat hulle maats oor hulle geskryf het. Die skrywer van die storie sluit af: “Please, tell the people you love and care for, that they are special and important. Tell them, before it is too late.”

Die goeie wat ons van ‘n ander weet en van hulle dink, en as húlle dit weet, maak ‘n belangrike deel van ‘n goeie samelewing uit. Dit is ‘n belangrike ele­ment van die Christenlewe wat Christus by sy volge­linge soek: “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet me­kaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook lief­hê” (Joh.13:34). “Lewe in liefde soos Christus ons ook liefgehad het…” (Ef.5:2). “Bo dit alles moet julle me­kaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte een­heid saambind” (Kol.314). In feitlik elkeen van sy sendb­riewe vermeld Paulus iemand anders se deug. Die goeie  wat hy van ander ge­weet het, het hy bekend gemaak.

“Here, vandag dink en praat ek goed van ’n ander.”

'n Dag lank

Lees Psalm 90

“Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe” (10).

Op `n kerkklok, in `n Vrystaatse dorpie, soos ek ver­staan, is dié woorde ingraveer: Na korte dag, die lange nag; na korte tyd, die ewigheid. By ons vinnige vaart einde van die jaar toe, is ons opnuut bewus van hoe kort die tyd is en hoe vinnig dit ver­bygaan. `n Grys­aard het my eens uit sy rystoel so aange­spreek: “My lewe het soos `n droom verby gegaan Ek wou nog leef, toe is dit verby.” `n Hoog­ge­plaas­de man, prokureur en politikus, begaafd, in al sy onderneminge suksesvol, het skielik siek ge­word en onverwags by sy einde gekom. Om hom op te beur, deur hom oor sy prestasies te laat praat, vra `n vriend hom, hoe hy oor sy lewe voel, as hy oor sy briljante loopbaan terugkyk. Sy antwoord, as komen­de van `n denkende man, in die volle aangesig van die ewigheid, was treffend en onvergeet­lik: “My suksesse ten spyt, voel ek nou dat my lewe `n mis­luk­king was. Ek het nie een van die groot doeleindes waarvoor die lewe eintlik gegee is, bereik nie. Nou is dit te laat.” On­ge­lukkig het hy nie gesê oor watter lewens­waar­des hy toe gedink het nie. Maar wat hy gesê het, kom hierop neer: `n Lewe net op die aard­se bestaan gefokus, is `n lewe misge­le­we. Dit is `n droewige einde.

Jesus het gesê: “…wat sal dit `n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly” (Mark.8:36). Elke mens maak sy eie lewenskeuse en die keuse van sy le­wenseinde en ewigheids­be­stemming. Ge­lukkig is dit nooit te laat om `n koersverandering te maak nie. Vir die mis­dadiger aan die kruis was dit `n laat uur, maar geluk­kig het hy met sy vuil, mis­lukte verlede langs Jesus ge­hang. En gelukkig het hy volle gebruik van sy goeie kans ge­maak. “’Jesus, dink aan my wan­neer U in u koninkryk kom.’ Jesus antwoord hom: ‘Ek ver­seker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees’” (Luk.23:42,43). “…Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie” (Joh.6:37).

 “Here, vandag kies ek die lewe met en by U.”

Maak tog seker

Lees Matteus 25: 1 – 13

“Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof toe, en die deur is gesluit” (10).

In Signs of the Times, vertel G. E. Garne, hoe hy en sy vrou, op die John Ken­nedy-lug­ha­we, moes kyk, hoe hulle vliegtuig sonder hulle vertrek.

Hulle het ses bedrywige we­ke in die V.S.A. ge­had en was nou op pad huis toe, na hulle twee kin­dertjies toe, wat hulle in die sorg van vriende ge­laat het. Hul­le harte het gebrand van verlange na hulle kin­ders en hulle het ook gehoor hoe die kin­ders al na hulle ver­lang. Self­versekerd en opge­wonde, het  hulle die aand die ont­vangs­toonbank gena­der. Die ont­vangs­klerk het sy be­spre­kings­­lys deurgegaan, sy kop geskud.

“Onmoont­lik!” roep  Garne  uit. “Ons het weke ge­le­de die be­spreking ge­doen. Daar móét ’n fout wees.” Sekerlik was daar ’n fout, maar dit was nie die lugdiens se fout nie. Dit was hulle eie fout! Hulle is uit­druk­lik ingelig, hulle moet ’n paar dae na die be­spre­king, be­vestiging vra. Maar, hulle was te besig en het dit na­ge­laat. Bui­tendien was dit slegs ’n for­ma­li­teit en hulle het dit nie ernstig beskou nie. Hul­le het die fout gemaak om te veel as van­selfsprekend te aan­vaar. Hulle was seker al­les sal op die einde vir hulle reg uitwerk. Met trane in die ma se oë en ’n knop in die pa se keel, moes hulle sien hoe die vliegtuig, op sy vaart huis toe, sonder hulle op­styg.

Daar is die baie groter teleurstelling waar­oor Jesus ons gewaarsku het, sluit die ver­tel­ler sy storie af: “Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie…’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê: ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af…’” (Mat.7:22,23). Die Bybel waarsku ons, om van ons roeping en verkiesing, seker te maak. Die skry­wer se eie woorde: “Day by day we must make it our busi­ness to confirm our covenant with Jesus Christ. Do it to­day and each day until He comes. We cannot afford to be disappointed in that critical hour.”

“Here, vandag wil ek sekermaak van my ewige le­we.”

Iemand sien

Lees Psalm 11 : 4 – 7

“Die Here is in sy heilige tempel! Die Here is op sy troon in die hemel! Sy oë is oop, sy oë keur die mensekin­ers”

Twee broers het op ‘n plattelandse dorp ‘n win­kel gehad, vertel Sunday School Times. Hulle kom agter, goed verdwyn van die rakke af, veral klein items. Dit klop nie met hulle kontantregister nie. Hulle kry ‘n plan, om agter die gebeure te kom. Hulle boor van die solder af ‘n gaatjie in die pla­fon. Hulle maak beurte om die kliën­te deur die gaatjie in die plafon dop te hou. Wat hulle sien,   verstom hul­­le. Van die dorp se inwoners, ook per­sone van wie hulle dit nooit sou verwag nie, neem goed wat  nie by die betaaltoonbank vir betaling aan­ge­bied word nie. Die skuldiges is nie direk ge­kon­fron­teer en beskuldig nie. Hulle het dit net so in­di­rek bekend laat word, daar is in die plafon ‘n gaatjie,  waardeur kliënte dopgehou kan word. Die stelery het dadelik opgehou. Dit was vir hulle daar­na amusant, om te sien hoe van die kliënte ongemerk dak toe loer om die gaatjie te ontdek.

’n Mens se lewe lê oop en bloot voor die Here, elke tree wat jy gee, sien Hy (Spr.5:21). Die wete dat die Here alles in ver­band met ons sien, be­hoort vir ons ‘n dissipline in ons lewe te bewerk, maar dit moet vir ons ook ‘n bemoe­diging wees. God sien nie net wat ons doen nie, maar ook wat met ons gebeur. God hou ons nie soos ‘n skeids­regter dop, net om te sien waar ons skeef trap nie, maar Hy hou sy oë ook op ons soos ‘n vader, om vir ons te sorg. ‘n Ma wat haar kind lief het, sien die stoutigheid en as dit nodig is straf sy haar kind, maar sy is ook baie gou om die kind te hulp te snel as daar vir die kind moeilik­heid opduik. “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou” (2 Kron.16:9).

“Here, vandag weet ek U sien my.”

Hulle sê dankie

Lees Efesiërs 1: 1 – 14

Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God…” (6,7).

’n Generaal van die Engelse magte en ’n Reg­ter van Indië reis op ’n besigtigingstoer deur Indië­­, vertel Power. Hulle kom in ’n behoeftige Mos­lemstreek. ’n Aantal vroue van ’n sendingstasie in die omgewing ontmoet en onthaal hulle. Die In­die­se Regter is baie beïndruk deur die netheid en vrien­delikheid van die vroue. Hy sê vir die Gene­raal­: “Ek verstaan nie dat sulke be­skaaf­­de en ont­­kelde dames, in hierdie vuil en ver­armde deel van die stad, werk nie.” “Ja, dit is regtig uitsonderlik,” antwoord die ge­­ne­raal, “tensy ’n mens natuurlik hulle motief verstaan.” “Dit is juis my probleem met hulle: hoekom doén hulle dit?” “Hulle motief is dankbaar­heid.” “Dankbaarheid! Wat het ons arm mense ooit vir hulle gedoen, om enige dank­baar­heid by hulle te verwek? Sê dít as­se­blief vir my.” “Om dit te verduidelik sal neer­kom op die belang­rike verskil tussen ons twee se godsdienste,” sê die Generaal.  “Ek sal luister,” antwoord die Reg­ter. “Ek sal dit met ’n verhaal moet verduidelik,” sê die Ge­ne­raal. “Ek luister. Ek is gretig om dit te hoor,” verseker die Regter hom. Die Generaal ver­tel van die boer wie se grond onder hom uitver­koop moes word. Hy kon nie sy skuld betaal nie. Kort te vore het hy ’n baie wel­ge­stelde buurman gekry. Net voor die uitverkoping sou plaasvind, laat die bank die ban­krot boer weet, sy buurman het sy skuld vir hom betaal.

Die Generaal sê: “Daar­die boer kon nooit op­hou om sy dankbaarheid teenoor die vreem­de buurman te betoon nie.” Die Regter knik. Die Generaal vervolg: “Ons groot skuld, wat ons verlo­re moes laat gaan, is deur Jesus Christus vír ons betaal. Ons is vry. Ons hoéf dit nie terug te werk aan Hom nie. Maar as ons dink waaruit Hy ons verlos het en die prys wat dit Hom gekos het, het ons net die diepste dankbaarheid teenoor die Here Jesus en wil ons enigiets wat ons kan vir Hom doen.”

Hierdie dankbaarheid lê aan die wortel van elke offer­vaardige optrede in belang van die evangelie van die Here Jesus Christus. Hoe duideliker die besef is van wat Christus vir ons gedoen het, en waaruit Hy ons verlos het, hoe groter  is die lewensoffer wat gebring word. Dit was die geheim van Paulus se tota­le offervaardige lewe. “…ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê” (Gal.2:19,20).

 “Here, vandag wil ek my dankbaarheid, vir U groot gawe aan my, betoon.”

Hoe weet 'n mens?

Lees Titus 1: 1 – 4

“…dié waarheid wat lei tot die diens van God en wat hoop gee op die ewige lewe. God wat sy woord hou, het die ewige lewe lank gelede aan ons belowe” (2).

Hoe weet ’n mens jou siel is veilig vir die ewig­heid? Daar is ’n manier.        ’n Skip het in ’n hewige storm, naby die kus, ge­strand. Vier matrose het die rotsagtige kus bereik. Hulle het teen die rotse begin uitklouter om buite be­reik van die woeste inko­mende gety te wees. Tot hulle ontsteltenis besef hulle, hulle het tot op die hoogste punt, van die lae reeks rotse geklim, waar die vinnige, inko­men­de ge­ty hulle tog nog kan be­reik. Dit is donker. Hulle sien nie verder as hulle onmid­del­like staan­plekkie nie. Hulle hoor hoe die see hoër op­kruip na hulle toe. Hulle is op die punt om hulle aan die genade van die branders oor te gee, met die hoop dat hulle miskien iewers hoër uitspoel, toe een van hulle, om sy ewewig op die rots te verstewig, met sy hand op `n plant druk en dit vas­gryp. So nat as wat dit is, weet hy dadelik dit is nie see­gras nie, maar ’n plant met ‘n wortel. Vir ’n oom­blik verlig ’n weerligstraal die omgewing en hy her­ken die plant as seevinkel. Dit is ’n plant wat altyd hoër as die hoogwatermerk groei. Met groot blyd­skap lig hy sy mak­kers in. Hulle is veilig, die branders sal nie tot by hulle kom nie. Die eenvoudige plant, en die man se kennis van die plant, het vir hulle in hulle donker nood, veiligheid gewaarborg. Hulle het vei­lig op die rots bly staan, ongerieflik, maar veilig, en gehoor hoe die water later teruggaan. Na dagbreek is hulle gesien en na veiligheid geneem.

In ons lewe raas en dreig die branders van twy­­fel, versoeking, teleurstelling, mislukking in ons gemoed. Hoe kan ons weet ons siel is veilig vir die ewigheid? Ons het ook ’n waarborg, baie sekerder as die seevinkel. God se beloftes! Die Here se woord is ons sekerheid. Ons is ge­­seënd om dit swart op wit te hê. Het u in Jesus Christus vir die redding van u siel vertrou? Indien só, dan, sê God, het u die ewige lewe. “Maar aan almal wat Hom aan­ge­neem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg ge­gee om kinders van God te word” (Joh.1:12). “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Joh.3:16). Die Heilige Gees wek in ons die behoefte na redding, na die ewige le­we; wek in ons die begrip van Jesus se plaas­ver­vang­ende dood aan die kruis; wek in ons die vertroue in Jesus as redder; wek in ons die optrede om Jesus in die gedagte of met woorde, aan te neem as my Verlosser; wek in ons die versekering, nou is ek kind van God, my sonde is vergewe, ek het die ewige lewe. God belowe dit!

“Here, vandag glo ek U belofte: ek het die ewige lewe.”

Hartsbegeertes

Lees Psalm 73:21-28 Ou Vertaling.                       

“Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie” (25).

Een aand, net met sononder, staan ek en kyk hoe mot­te, deur ’n sterk neonlig aangetrek, in hul menigtes in ’n elektriesge­laai­de rooster vasvlieg en verskroei. Twee skoelap­pers kom aangevlieg. Ek hou dop wat met hulle gaan gebeur. Sonder om eers na die aantreklike lig te kyk, vlieg hulle verby, teen die on­der­gaande son in, na ’n akkertjie blomme toe. Blom­me – nie lig­te nie – is die natuurlike liefde van skoenlappers.

N. Naismith skryf, hy het ’n kort navorsing, oor hartsbegeertes ge­doen. Vir ’n student ­vra hy watter drie dinge begeer hy die meeste. Hy het geant­woord: “Boeke, gesondheid en stilte.” Elkeen het volgens sy gedrags­om­gewing eie be­geertes gehad. Vir ’n boemelaar  was, kos, klere, en warm­te, een koue oggend die belangrikste.” Die ant­woorde van men­se uit ‘n skare het neer­gekom op: “Ryk­dom, ple­sier, roem.” ’n Handear­beider het gesê: “Meer loon, meer ontspanning, meer vermaak.” Drie jong­­mans het vol lag na me­kaar geloer en al drie het een woord geantwoord: “Meisies.” Toe vra hy vir ’n betreklik arm man wat oor ’n lang tyd die ge­drag van ’n toegewyde Chris­ten openbaar het. Hy het ook een woord geantwoord, maar toe daarop uit­ge­brei: “Christus. Maar ek sal dit op drie ma­niere sê. Ek wil graag in Christus wees, soos Christus wees en met Christus wees.” “…om Chris­tus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom gee ek alles prys …”(Fil.3:8,9).

’n Mens is gelukkig as die Heilige Gees hierdie gesindheid in die hart opgewek het. “Ons is deur ons sondige be­geer­tes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het…Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredinge, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! … in Christus…het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee…” (Ef.2:3-6).

“Here, vandag begeer ek om nader aan U  te leef.”

God se Woord

Lees Hebreërs 4: 12 – 13

”Die woord van God is lewend en kragtig. dit  is skerper as enige swaard met twee snykante…Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart” (12)

Dr. R. A. Torrey skryf: “Die Bybel is nie net die mees geliefde Boek in die wêreld nie; dit is ook die mees ge­hate Boek. Die wyse waarop iemand met die Bybel om­gaan is ’n baie betroubare aanduiding van die hart se gesindheid teenoor God.” Dan noem hy ’n paar maniere waarop mense met die Bybel omgaan.

Die mens wat God onbeskaamd haat, sê hy, haat die Bybel openlik. Hy verag die Bybel, spot daarmee en sal al­les in sy vermoë doen om dit vals te bewys en dit te on­dermyn. Talle ateïste en agnostici dit al probeer doen.

’n Ander houding jeens die Bybel, sê dr. Torrey, is om die Bybel te respekteer, maar dit nooit te lees nie. Die Bybel word erken, maar op ’n afstand gehou. Dit is vir hom ’n vreemde en geslote Boek. Hy is nie ’n doelbewuste vyand van God nie, maar ’n vreemdeling.

Dan noem dr. Torrey die ander houding teenoor die Bybel. Die Bybel word geken en gelees, maar uit plig. Daar is nie vreugde in die omgang met God se Woord nie. Dit is ’n sware taak wat verrig moet word, want die persoon is nog nie God se kind nie, maar ’n kneg wat onder dwang staan en vrees vir straf as hy die plig van die lees van die Bybel sou verwaarloos.

Dr. Torrey noem die vierde houding: liefde vir die Woord van God. Die persoon honger na die Brood van die lewe omdat hy deur wedergeboorte God se le­we in sy hart ontvang het. Hy bestudeer die Bybel, omdat Hy God steeds beter wil leer ken. In die Bybel vind hy die Persoon van Christus. Al aan­skou hy Christus in die Bybel soos in ’n spieël, bring die Heilige Gees Christus se heerlikheid in sy hart en sinne in. “Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. En terwyl ons almal met onbe­dekte gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na die­selfde beeld…deur die Here wat die Gees is” (2 Kor.3:17,18). So iemand verstaan die Bybel en ver­lang daarna soos ’n kind na sy vader se brief sal verlang. Uit die Bybel ontdek hy wat God alles aan hom belowe.

“Here, vandag wil ek U Woord met blydskap lees.”

Gelei deur sy kind

Lees Lukas 18: 15 – 17

“Laat die kindertjies na my toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle” (16).

In Die Bode van September 2000, die kwar­taal­blad van die Transnet Christelike Unie, skryf Leon Jones hierdie aandoenlike ervaring oor hom­self:

“Dit word laat,” sê ek vir my sesjaar oue seun­tjie. “Jy moet solank gaan inkruip.” Vandat ek en my vrou drie maande tevore van mekaar ver­vreemd ge­raak het, en ek my eie plek gekry het, bring Greg elke tweede naweek, by my in my woonstel deur. “Gaan ons nie eers bid nie?” vra hy heel onskuldig. Van kleins af het ons hom geleer en gehelp om voor sla­pens­tyd sy gebedjie op te sê, en dit was vir hom belangrik. Maar vanaand was dit reeds laat ek ek het nog baie werk gehad om te doen. Ek skakel my rekenaar aan en hoop hy sal sien ek is besig – miskien kan ons van­aand oor­slaan! “Wanneer kom Pa?” kerm hy egter. Ek dink by myself: laat ons dit agter die rug kry. Hy sal my tog nie ophou pla nie. Ons is na sy kamer toe en ek gaan langs hom op die bed sit, maak die Bybel oop en rammel ’n paar verse af. Toe ek die Bybel toemaak, kniel hy langs die bed. “Wie gaan eerste bid, Pappie?” “Bid jy maar eerste, my kind,” sê ek en hoop dit gaan nie lank neem nie. Ek het nog baie werk gehad. “Liewe Jesus,” begin hy, sy han­de onder sy ken gevou. “Dis Greg hierso.” Hy kyk op na my en glimlag ingenome met homself. Hy maak sy oë weer toe. “Ek het vandag ’n lekker dag gehad. Ek het met die dogterjie hier langsaan gespeel. Haar naam is Susan.” Hy bly weer stil en kyk op na my. “Weet lie­we Jesus dat Pappie en Mammie nie meer saam­ bly nie?” vra hy ernstig. “Hy weet,” antwoord ek stug. “Liewe Jesus, dis weer Greg hier,” bid hy ver­der. “Ek gaan môre weer terug na Mammie toe; so ek wil net vra dat U moet mooi kyk na Pappie en Su­san ook en…” Hy hou op en kyk bekommerd na my. “Susan se Pappie bly ook alleen, en sy van is ook Jones. Sal liewe Jesus nie deurmekaar raak nie?” “Nee, Greg,” kreun ek. Wanneer gaan hy tog klaarkry? “Is Pa seker?” “Ek is baie seker, Greg,” sê ek nou effens onge­dul­dig. “Hy weet wie’s ek en Hy weet wie’s Susan se pa.” “Is Pappie nou kwaad vir my?” “Nee, ek is nie kwaad nie, Seun – maar mens bid nie soos jy nie. As jy bid, praat jy met die Here. Jy kan nie ’n bietjie met Hom praat en dan weer ’n bietjie met my nie. Dis ’n ernstige saak om te bid.” “Soos die grootmense in die kerk?” “Soos in die kerk, ja!” Hy sluit weer sy oë. “Onse Vader, wat in die Hemel is…” Hy loer onderlangs vir my. “Ek bid vir Pappie en vir Mammie…ee…” Hy bly weer stil. “Is dit beter, Pa?” Skielik voel ek skuldig. Weg was sy spontaniteit en ek kon sien hy weet nie wat om verder te bid nie. “Greg, ver­geet wat ek gesê het – bid soos jy altyd gebid het – praat met die Here soos voorheen.” Hy glimlag verlig. “Liewe Jesus, dis weer Greg; Ek wil so graag hê Pappie moet te­rug­kom huistoe…” Ek onthou skielik hoe gelukkig ek en my vrou voorheen was; die liefde wat ons gedeel het en hoe wonderlik dit is om ‘n seun soos Greg te hê. Vir ’n oom­blik probeer ek dink waar dinge dan so ver­keerd ge­loop het. Was dit die stres van my werk? Was dit af­val­lig­heid van die Here? Verwag ons te veel van mekaar? Of was dit iets anders. Greg het gou aan die slaap geraak en ek het na my eie kamer toe gegaan, die deur agter my toegetrek en by my bed gekniel. “Here Jesus, dis Leon hier. Daar is iets waaoor ek met U moet praat.”

Wanneer ons, met watter probleem ookal, by hierdie plek kan uitkom, gaan die lig vir ons op. Ek wens so die vertelling het voortgegaan, om ons in te lig hoe hy saam met Greg na sy vrou toe terug is. Ek glo dit is wat gebeur het. Want die Here het belowe, as ons só nederig en af­hanklik kom bid, steek Hy sy hand uit en doen vir ons die on­moont­like. “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie…Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën” (Mark.10:14,16).

 “Here, vandag kom ek my saak soos ’n kind vir U vertel.”

Drie knoppies om te druk

Lees Johannes 16: 25 – 33

“Van daardie dag af sal julle in my Naam bid en hoef Ek nie julle voorspraak by die Vader te wees nie, want die Vader self het julle lief…” (26).

Sekere plaaslike regerings in Japan, gebruik ‘n toestel om die welstand en veiligheid van bejaar­des in hul­le ge­bied te monitor, skryf Neil Verwey vir ons uit Japan, na aanleiding van ’n be­rig in die Yumuiri News 2005-11-29. ‘n Ontvangstoestel  wat met elektromagnetiese golwe werk, word in ‘n be­­jaar­de se tuiste opgestel. ’n Wel­syn­wer­ker stuur dan elke oggend ‘n boodskap uit en die bejaarde kan dan antwoord, deur net een van drie knoppies te druk: wel, onwel, of  bel my. Die stads­raad van Wako, is een van die eerstes wat die stelsel by sy plaaslike tuisbe­stuurs­verenigings aanbeveel het. Hulle leen nou die toe­stelle aan die alleenlopende bejaar­des van die stad uit. “Ons wil hê ons seniorburgers moet weet ons is be­kommerd oor hulle,” spreek een van die amp­tena­re sy besorgdheid vir bejaardes uit. “Ons wil  hulle help wan­neer hulle dit nodig het.”

So ‘n stelsel sal vir alle bejaardes ‘n nuttige be­vei­liging wees. Gelukkig het God ook vir sy kin­ders ‘n soortgelyke stelsel beskik. Dit word in Filippense 4:6,7 beskryf: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” Ons geloofstelsel het ook drie knop­­pies: gebed, smeking en danksegging,. Die eerste knop­pie word deur Jakobus 5:13 beklemtoon: “As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid.” Ons het hulp en by­stand van God nodig. Dus die knoppie van gebed. Die tweede knoppie word aangewys deur Psalm 50:15: “Roep my aan in die dag van benoudheid: ek sal jou uithelp….” Ons is in die moeilikheid, dit is ‘n krisis en ons het die Here by ons nodig om ons te help. Dus die knop­pie van smeking. Die derde knop­­­pie, danksegging, word deur Psalm 103:2 be­klem­­toon: “Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade ver­geet nie.” As dit met ons goed gaan, moet ons die Here met lof van ons laat hoor.

“Here, vandag wil ek U in al my omstandighede aanroep.”

Die vier kêrels

Lees Kolossense 3: 1 – 17

“…soek die dinge daarbo…bedink die dinge wat daarbo is” (1,2.)

Die effens komiese storie, van die meisie met die vier kêrels, het Lize Breedt en Nols en Lorraine Fourie vir my gestuur. Ek het dit ervaar as ’n storie met ’n belangrike boodskap.

Dié meisie, het 4 kêrels ge­had. Die eerste een het sy verskriklik lief gehad en al haar aandag aan hom gegee en hom gepamperlang. Die tweede kêrel het sy ook baie lief­ge­had en hy was vir haar baie werd. Die derde kêrel was vir haar ook kos­baar. Hy was haar ver­troueling en as sy ’n pro­bleem ge­had het of advies no­dig gehad het, het sy na hom toe ge­gaan. Aan die vier­de kêrel het sy haar nie eintlik gesteur nie. Hy was baie lojaal teenoor haar. Hy het groot opofferinge gemaak om haar te beskerm en haar besittings te be­waak. Sy het omtrent nooit van hom notisie ge­neem nie. Toe word die meisie siek en haar dae was getel. Sy vra die eeste een. “Ek het jou so lief en ek het so baie moeite vir jou gedoen en jou so baie ge­sken­ke gegee, gaan jy my nou help?” “Nooit!” roep hy uit en maak hom dadelik uit die voete. Sy vra haar tweede kêrel. “Ek het jou my le­we deur liefgehad. Ek het vir jou baie moeite gedoen. Gaan jy nou by my bly. Die tweede kêrel skree: “Nimmer!” Hy hol weg. Verslae wend sy haar tot haar der­de kêrel. Hy was darem altyd op­reg en simpatiek teen­oor haar.  “As ek sterf sal jy saam met my wees en my bystaan?” pleit sy by hom. “Ek kan nie,” antwoord hy. “Ek sal tot by jou graf by jou bly, maar meer kan ek nie doen nie.”  Toe hoor sy ’n stem. Dit is die vierde kêrel. Maer en ver­waar­loos staan hy daar. Vol berou sê die meisie: “Ek moes baie meer aandag aan jou be­stee het. Ek het jou so ver­waar­loos en nou is jy die enigste een wat by my sal bly.”

Dit is ’n verhaal wat in elkeen van ons se eie lewe af­speel. Ons het elkeen ook die vier geliefdes. Daardie eer­ste, meesgeliefde kêrel, is ons liggaam. Ons maak dit so lekker moontlik vir hom. Maar die liggaam laat ons by ons dood som­mer da­de­lik in die steek. Die tweede kêrel is ons be­sittings. Ons is lief vir ons geld, ons huise ons motors, ons juwele. Hierdie tweede kêrel laat ons ook sommer in die steek. Die derde kêrel is ons vriende en familielede. Hulle gaan ’n ver end saam met ons. Bly by ons sterfbed. Loop saam graf toe. Maar daar eindig ons geliefdes se by­stand. Die laaste kêrel wat omtrent nie aandag ge­kry het nie, is ons siel. Die siel gaan saam ewig­­heid toe, maar die siel kry in die gewone lewe die minste aandag en versorging. Ons moet ons orde dus omruil. Eerste ons kosbare siel. Ons moet die siel met he­melse klere van eerlikheid, liefde, geduld, geloof klee en met die Woord van God voed. Die een wat ook nie heel­temaal ge­noeg aandag gekry het nie, is ons vriende en fa­milielede. Hulle is kosbaar en verdien baie aan­dag. Na ons besittings moet ons met ver­stan­dig­heid omsien en dit ver­stan­dig gebruik. Ons moet nie toelaat dat dit oor óns heers nie. Die liggaam moet versorg word, skoon gehou en gesond gehou word. Al hierdie elemente is belangrik, maar ons siel moet nom­mer een staan. As ons siel en ons verhouding met God nommer een is, val die ander sake van ons lewensverband in die regte posisie.

“Here, vandag is my verhouding met U en u koninkryk in die hemel van eerste belang vir my.”

Die hartelose koetsier

Lees: 2 Korintiërs: 4:16-18

“Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid … wat ewig bly.” (17)

Een winterdag was ’n koets onderweg van Deer Lodge na Misoula. Die pad het oor Flint Creek gegaan. Die enigste twee pas­sasiers, ’n vrou en haar baba, wou in die erge koue verkluim. Die koetsier, wat hulle stip dop­ge­hou het, het die eerste tekens van verkluiming, lome­rig­heid, by die vrou opgemerk. Hy het stilgehou en die vrou uit die koets getrek. Terwyl sy wankelende langs die koets staan, klim hy terug op die koets en ry weg. “My kind! My kind!” gil sy en hardloop strui­ke­len­de agter die koets aan. Die koetsier hou aan met ry. Gil­lende hardloop sy al sterker. Die koet­sier ry bietjie vin­niger. Hygend hou die vrou aan met hard­loop. Beur­telings roep sy na haar kind en dan skel sy weer op die koet­sier. Na meer as ’n half kilometer hou hy sy pe­rde in. Uitasem en warm kom sy by die koets aan. Hy laat haar in­klim, plaas die kind teen haar warm liggaam en vou hulle met ’n warm kombers toe. Sy harde optrede het albei se lewens gered.

God bemerk gevare wat ons bedreig. Seën en goed­heid sal nie die gewensde uitwerking op ons le­we hê nie. Hy plaas ons in omstandighede wat hard en pynlik is, maar dit bewerk ons redding en be­houd. Sodra sy doel bereik is met die swaarkry wat Hy aan ons uitmeet, wend Hy Hom ontfer-mend tot ons om ons te troos en te seën.

So het die Here met Israel gehandel: “Ek gaan haar wingerde en haar vyebome verwoes …Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê en … ’n poort na ’n nuwe toekoms maak.” (Hosea 2:11,13,14).

”Here, ek wil vandag nadink oor my swaarkry en na U luister, sodat U my weer kan help en seën”

Die einde tel

Lees Hebreërs 9:23-28

“’n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel” (27).

Hoewel hy die seun was van ‘n toegewyde pre­dikant, het Adoniram Judson tydens sy uni­ver­si­teitsdae ‘n ateïs as vriend gekies. Judson het so onder sy invloed gekom, dat hy kort voor lank net so ‘n lasteraar en bespotter van geloof geword het. Judson het die teater as beroep gekies en by ‘n teatergroep aange­sluit. Een nag het hulle in ‘n plat­telandse hotel oor­gebly. In die kamer langs­aan dié van Judson was ‘n man besig om te sterf. Die dor­pie het nie ‘n hospitaal gehad nie. Judson moes luis­ter na die man se kreune en uitroepe in sy wor­ste­ling met die dood. In die nanag het dit stil geword. Die volgende oggend het Judson ver­neem die man is dood. Tot sy verbystering moes hy uitvind dit is sy eertydse, on­gelowige uni­versiteitsmaat.  Die parmantige spotter se einde het Judson verskrik. Só ‘n einde wil hy nie hê nie. Die geloofswaarhede waarmee hy in die pas­torie groot­geword het, het soos ‘n vloed na hom toe terug­gekeer. Met berou het hy hom tot God gekeer. Hy het die weg goed geken.

Was dit sy gelowige ouers se gebede wat hom in­gehaal het? God is genadig. Dit was God se be­stemming, dat hierdie weg­loop­skaap van die Goeie Herder, só sou inkom. Betyds het die Heilige Gees, daar in ‘n vreemde hotel, sy Verlosser Jesus weer na hom toe gebring.“…hy gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry. En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers” (Luk.15:4,5).

“Here, vandag verlang ek dat U na my toe kom.”

Deur 'n sleutelgat gesien

Lees Spreuke 18: 1 – 15   – Lewende Bybel

”As ’n mens sommer jou opinie oor ’n saak gee voordat jy mooi geluister het waaroor dit gaan, is jy dom en sal jy in die skande kom” (13)

’n Plaasseun het eenkeer masels gekry en moes in ’n donker kamer in die plaashuis bly, sodat sy oë nie deur die sonlig beskadig word nie, soos sy ouers geglo het. Die tyd het hom gou verveel en hy het by sy buitedeur ge­kniel en deur die sleu­tel­gat gekyk wat buite aangaan. Hy kon nie wyd sien nie. Hy kon net die dinge sien wat in die nou sigveld van die sleutelgat by die deur verbygaan. Een oggend kom sy pa se spog perd by die deur verby, gelei deur ’n stalwerker. Die perd se pens en bene is vol bloed. Dadelik is die seun kwaad. Die slegte werker, dink hy, hy het die perd natuurlik oor ’n doring­draad laat spring en die perd het homself beseer. Hy won­der wat sy pa met hom sal maak. Hy verdien om ter­deë gestraf te word. Net toe ver­skyn sy pa in sy gesigs­veld en hy sien hoe sy pa met die werker praat en oor die perd se pens streel. Hy kan nie hoor wat gepraat word nie, maar hy word eintlik warm net by die gedagte wat sy pa nou vir die werker sê. Bietjie later kom loer sy pa by hom in. Die eerste waarna hy vra, is wat sy pa met die slegte werker wat die perd verniel het, gaan maak. Sy pa gaan sit op die bed. ”Nee, Seun, daar is nie fout nie,” sê hy bedaard. “Die perd was siek en die werker was so oplettend om dit raak te sien en vir my daarvan te vertel. Ek het dadelik die vee­arts laat kom en hy het bloedgelaat. Dit is die bloed wat jy aan die perd moes gesien het. Jy het deur die gaatjie te min gesien en daarom het jy ’n ver­keerde gevolgtrekking gemaak. Leer nou van­môre hierdie goeie les: moet jou nooit uitspreek oor iets wat jy net deur ’n gaatjie gesien het nie.”

Dit is die groot gevaar om uit te praat oor iets wat mens net by iemand anders gehoor het. ’n Ver­standige mens kry eers die feite voor hy sy gevolg­trekking maak. Ons onderlinge verhoudinge, en veral ons verhouding as Christene met mekaar, vra vir versigtigheid in ons beoordeling van mekaar: “Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde” (Ef.4:2).

“Here, vandag wil ek versigtig wees in wat ek van ’n ander hoor en dan van die ander dink.”

Weggooi klei

LEES: Jeremia 18:1-10

“Soos klei in die pottebakker se hand , so is julle in my hand…” (6)

’n Predikant wat nuut in ’n potte­bak­kers­dorp aangekom het, het ’n man wat potte­bak­ker van beroep was, by sy huis besoek. Hy was as jongman roekelose en losbandig. In die netjiese en aangename sitkamer staan  twee groot, pragtige kruike in ’n glaskas. Met opregte bewondering roep die dominee uit: “Dis pragtig. Hulle moet baie waardevol wees. Waarvoor sal jy sulke kruike verkoop?” Die man antwoord met ’n glimlag: “Hierdie twee kruike is onbetaalbaar duur. Ek sal vir geen geld in die wêreld van hulle afstand doen nie. Hulle het vir my lewensbetekenis. Jare gelede was ek ’n dronkaard, `n dobbelaar en baklei­er, wat sy siel aan die duiwel verkoop het. Eendag het ek uit nuuskierigheid in ’n evan­geliediens beland. Wat die man gepreek het, het my geskud. Op pad terug huis toe, loop ek by ’n rommelhoop verby en sien daar ’n stuk klei weggegooi lê. Ek neem dit huis toe, knie dit goed deur en maak toe hierdie twee kruike daaruit. Ek dink daarna by myself: As ek uit ’n stuk waar­de­lose, weggooi klei sulke kruike kon skep, kan God uit my verinneweerde lewe ook iets maak. Ek het net daar neergekniel en myself in God se hande oorgegee. Hy het van my ’n nuwe mens gemaak.”

Die man het nie homself probeer verbeter het nie. Dit is ’n onmoontlike taak. Hy het na Jesus gevlug. “Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is….” (Ef.2:22-24).

“Here, ek wil vandag my lewe aan U oorgee.”

Waar is Hy heen?

Lees Amos 4: 7 – 13 – Ou Vertaling

“…maak jou klaar om jou God te ontmoet…(12).

Die skokkende nuus het soos pyle deur die gan­ge en sale van die paleis gevlieg: Die koning is dood! Hy is dood in sy bed gevind, vertel Robert J. Morgan in Stories, Illustrations and Quotes.

“Waar is hy heen?” vra een van die koning se slimste raadgewers. “Seker hemel toe,” antwoord die ander. “Nee,” sê die eer­ste man ernstig, “ek dink nie so nie. Ek dien die ko­ning al jare lank. Ek het baie saam met hom, oral heen, op sy togte saamgereis. Hy was lief om te reis en hy het altyd uitvoerig vir sy togte voorberei en daaroor ge­praat. Ek het hom nooit oor die hemel hoor praat nie. Dit is ’n be­stemming waaroor hy nooit na­vraag gedoen het en ‘n reis waarvoor hy nooit voorsiening gemaak het nie.”

Jesus het ons gewaarsku: “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min” (Mat.7:13,14). Die jaar is halfpad. Dit is ’n gunstige tyd om ook oor ons ewigheidsbestem­ming na te dink. Hoe­kom was dit vir die Seun van God nodig om met so ’n diep vernedering aarde toe te kom en met soveel lyding te sterf? Jesus gee die antwoord aan die wat beswaar gemaak het omdat Hy die tollenaar, Saggeus, gered het: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom ..­.Die Seun van die mens het…gekom om te soek en te red wat verlore is” (Luk.19:9,10). Jesus het na ons, as men­se, toe gekom om ons van die ewige dood te red. Maar in ons alle­daag­se lewe gaan ons soos die koning by Hom verby. Ons verbeur óns geleent­heid om die hemel toe te gaan.

 “Here, vandag dink ek aan my einde.”

Vreemde

LEES: Handelinge 8:26-40

“Filippus het…gehoor dat die man uit die profeet Jesaja lees… die Skrifgedeelte wat hy gelees het was dit: ‘Soos ’n skaap is Hy gelei om geslag te word…’” (30)

’n Hond kom een aand by ’n kamp van Sjin­ese Shang­tun­soldate, ingedrentel met ’n bek vol blad­­sye van ’n Bybel wat hy iewers beetgekry het, vertel King’s Business. Die soldate beur dit uit sy bek en lees dit nuuskierig. Hulle volg die hond toe hy koers kry en kom by ’n sen­ding­hos­pi­taal in daardie om­gewing uit. Hulle vra vir meer van daardie soort leesstof. Dit is gretig vir hulle ge­gee. Dr. Goforth en ’n Sjinese evangelis besoek die kamp, hou ’n paar dienste en versprei meer lees­stof. ’n Goeie twee honderd van die soldate het agterna persoonlik met dr. Goforth en sy werkers oor hulle geloof en verlossing gepraat.

Die Bybel en evangeliese leesstof het groot krag om mense na die Here toe te trek. Die Heilige Gees gebruik die evangelie wat gepreek word of ge­lees word, om in mense se harte te werk, geloof op te wek en die Here Jesus aan hul­le bekend te maak. So word Christene in hulle gees­telike lewe versterk en onbekeerde men­se tot red­ding gebring. Mens­li­ke lippe en menslike hande is nodig om hierdie heils­middele te versprei.  Ons lippe en ons hande moet dit doen. “…na Stefanus se dood…is die gelowiges uit­me­kaar gejaag….na Fenisië, Siprus  en Antio­gië toe …die evangelie dat Jesus die He­re is, verkon­dig… Die Here het die gelowiges ge­help, sodat daar baie mense tot geloof gekom en hulle tot die Here bekeer het” (Han.11:19-21). Dit is ’n groot voor­reg met groot ewige loon as die Bybel of blaadjie of traktaatjie wat u vir iemand gegee het, die middel tot een of meer mense se bekering kan lei. Ons doen verspreidingswerk; die Heilige Gees doen bekeringswerk.

“Here, vandag wil ek u evangelie aan iemand gee.”

Vir my

Lees Romeine 3:21-26

“Almal het gesondig en is ver van God af, maar hulle word…vrygespreek vanweë die verlossing deur Christus Jesus”  (23,24).

Hangkop, hande diep in sy sakke, sleep­voetend en kreupel, strompel John Scott wa­terfront toe. Dis aand. Die don­ker, roe­rende seewater is sy bestemming. ’n Skielike, har­­de uitroep laat hom in sy spore vassteek: “Ge­krui­sig! Hulle het Hom ge­kruisig!” Hy kyk ver­skrik rond. Wie het geskree? Nou sien hy die half­ver­steek­te dokkesaaltjie. ’n Man op die ver­hoog is besig om te preek. Natuur­lik. Dit is Son­dagaand. Godsdiens en kerk het nog nooit in John Scott se le­we plek gehad nie. Vanáánd tref dáárdie woord hom in die kern van sy lewe. Hy het dit sién ge­beur. Dáárdie wrede ervaring dryf hom waterfront toe.

’n Jaar tevore is hy oorlog toe. Hy is ernstig gewond. Daarna bly hy siek. Ontslaan uit die weermag, onbevoeg vir oorlog of werk, dwaal hy in Bristol se strate rond. “Niemand gee om vir my nie!” skreeu sy gedagtes. Dít en sy skokervaring, dryf hom waterfront toe.

Hy gaan die saal versigtig binne en gaan sit. Die pre­diker se woorde begin hom boei. Hy raak by die ver­telling betrokke. “’n Paar maande gelede,” vertel die prediker, “was die Britse en Duitse magte in ’n deel van Frank­ryk slaags. ’n Britse sol­daat het ernstig ge­wond in ’n bomkrater tussen die gevegs­li­nies geval en bly lê. Sy vriend skreeu vir hulle of­fi­sier: ‘My maat lê daar! Ek gaan hom haal!’ Hy het plat­geval en na sy maat toe begin kruip. In die krater sien die gewonde man hoe sy maat nader en nader kruip. Amper daar,” ver­tel die prediker verder, ”sien ’n vy­­andelike pa­trollie die maat. Slaan hom plat en sleep hom weg. Teen ’n hout­af­dak spalk hulle hom oop; kruisig hom en laat hom in die versengende hitte hang om te sterf.” Toe die pre­­diker die woord “gekruisig” uit­spreek, verdon­ker John Scott se ge­sig. Die pre­diker gaan voort: “Hul­le het gedink die man in die bomkrater is dood en hulle het hóm met rus ge­laat. In die bomkrater het die ge­won­de man mag­teloos, doodstil, alles sien gebeur: die brutale wreedheid, die gekruisigde man se ly­ding en sta­dige dood. Hy sal nooit kan vergeet hoe sy vriend sy lewe só gegee het om hom te probeer red nie.” Na ’n oom­blik van stilte sluit die prediker sy preek af: “Onthou ú nog die Man wat ook só vir u gely en ge­sterf het? Wat het u al gedoen om u dank­baarheid en u liefde vir Hóm te bewys?”

Die diens eindig en John Scott sluip vinnig deur toe. Die prediker is ook daar en by die deur lê hy sy hand op John se skouer. “My seun, het jy al die He­re Jesus, wat vir jóú gekruisig is, aangeneem as jóú redder?” “Nee,” antwoord John, “maar ek wil. Ek het nooit geweet die evangelie is oor so iets nie. Van­aand verstaan ek dit. Ek verstaan dit baie goed. U sien. Ek was die gewon­de soldaat in die bomkrater. Ek het gesien hoe sterwe Bill vir my.”

Hy en die prediker kniel saam. Die prediker maak sy By­­bel by Romeine 5:6 oop en lees die woorde: “Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe … God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars  was.” John het geglo en Christus met ’n eenvoudige gebed as sy Verlosser aangeneem.

“Here, vandag weet ek U het vir my gesterf. Ek glo en dank U.”

Vertrouende Blydskap

LEES: Romeine 15: 7 – 13

Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees” (13).

Mitridades, koning van oud-Asië, het groot vreug­de geput uit die snarespel van ’n ou mu­si­kant en ook groot liefde vir hom ontwikkel. Een og­gend word die ou man wakker en ont­dek sy huis is gedurende die nag met aller­hande kosbaar­hede gevul. Goue en silwer voorwerpe staan oral op die vloer en tafels rond, bediendes beweeg om hom, gereed om sy geringste wens uit te voer, ’n pragtige pur­per mantel lê vir hom gereed om aan te trek en voor sy deur staan ’n sierlike koets en wag om hom te neem waarheen hy wil gaan. Vin­nig begin die ou man sy verslete tas pak om pad te gee uit hierdie onbekende omgewing waar­in hy hom nou bevind. Die diensknegte het moeite  om hom  te oortuig, dit is nou sy­ne. Die koning het ’n ryk onderdaan se nala­ten­skap aan hom, die ou musikant, bemaak. Hy is nou die koning se vriend en gunsteling. Dit het lank geneem om hom te oortuig, maar toe dit tot hom deurdring, trek hy die pur­per­mantel aan, klim op die koets, en terwyl hy paleis toe ry, juig hy hard en aanhoudend: “Dis al­les myne! Dankie, my koning! Dis alles myne! Dan­kie, my koning!” Sy blydskap en liefde vir sy goedhartige vors het geen perke geken nie.

Dit was alles aardse rykdom waaroor hy so on­keer­baar bly was. En hy het dit ook so half en half met sy viool verdien. Hoe anders staan dit met ons: ons is onverdienstelike son­daars – nee, eintlik verdien ons straf! Al wat ons gedoen het, was om God te bedroef, teleur te stel en te onteer. Tog red God ons uit genade, skeld ons ons straf vry, en gee aan ons ’n rykdom waaroor Petrus juig: “Ons het ’n onverganklike en onbesmette en onver­welklike erfenis wat in die hemel be­waar is vir ons” (1Pet.1:4). Deur die Here Je­sus Christus het ‘n  onbeskryflike rykdom ons te beurt ge­val, maar ons glo dit nie, ons juig nie daaroor nie. Daar is so min blydskap by ons as Chris­tene, so min hartlike, warm liefde vir ons Verlosser, Jesus Christus.

“Here, vandag dank ek U en ek juig oor my rykdom in U ewige hemelse koninkryk.”

Vertrou en Sing

Lees Handeling 16: 16 – 35

“Teen middernag was Pau­lus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing…(24,25)

Jare gelede strand die Engelse stoomskip Stel­­­­la, in ’n hewige storm teen ‘n rotsagtige kus, vertel Roy Zuck. Twaalf vroue wat aan­boord was, is in ’n reddingsboot ge­plaas. Die onstui­mige see het die boot da­de­lik weg­gevoer. Hulle het ’n verskrikkende nag in die siedende storm deurgebring. Dalk sou hul­­le alle hoop opgegee het, as dit nie vir die Chris­ten­sange­res, Margaret Wil­liams, was nie. Sy het die verskrikte en skreeuende vroue tot be­da­ring gebring en kalm God gebid om hulle te red. Om almal se geloof te ver­sterk het sy ge­loofs­lie­dere begin sing. Deur die donker ure het haar helder stem oor die deinende bran­ders gegalm. Vroeg die vol­­­gende og­gend gaan soek ’n reddingsboot na hul­le. Die digte mis maak dit vir die le­wens­redders on­moont­lik om verder as ’n paar tree voor hulle te sien. Hulle hoor die singende stem van Mar­garet Wil­liams, wat uit die aria Elijah sing: “Oh, rest in the Lord, wait patiently for Him.” Hulle stuur op die klank van die stem af en die vroue is gered. Versterk ú geloof.

Bly by my,  Heer, terwyl die skadu’s daal;

Laat tans u lig my donker pad bestraal!

Daar is geen ander hulp of troos vir my –

Hulp van die hulpelose, staan my by!

U het my, Heer, van jongs af steeds behou,

Al was ek soms opstandig en ontrou;

Soos ek van U, was U nooit ver van my;

Wil tot die einde dan nog by my bly!

Vertoon u kruis, Heer, aan my sterwende~oog;

Skyn deur die skeemring, wys my na omhoog;

Reeds daag die lig, van aardse skadu’s vry –

O bly deur dood en lewe, Heer, by my!

 ”Here, vandag wil ek singende by U skuil”

Veilig

LEES:  Psalm 34: 16 – 23

“Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref, die Here red hom uit almal (20).

Stonewall Jackson en sy suster moes ’n diep, sterk vloei­ende, stroom, net onderkant die Niagra­val, oor­steek, vertel Our Daily Bread.. Die stroom het hulle bootjie so geruk en rondgegooi dat die vrou verskrik geraak het. Jack­son het haar arm stewig vas­gevat en na die twee roeiers gedraai. “Hoeveel keer het julle hier­­die stroom al oor­gesteek?” “’n Paar keer per dag, die laaste twaalf jaar, Meneer.” “Ooit omgeslaan en iemand laat verdrink?” “Nooit, so iets nie, Me­neer!” Jackson draai terug na sy suster toe. “Jy het gehoor? Tensy jy dink jy dit beter kan doen, sit net stil en vertrou hulle. Hulle ken die stroom.”

So het gelowiges deur die eeue God be­kwaam en getrou in hulle dreigende omstandig­hede be­vind. Kan ek God, my Vader in Christus Jesus, in hierdie moeilikheid van my vertrou? Sal Hy weet hoe om dit te hanteer? Israel? “Die Here julle God het julle voorspoedig gemaak in alles wat julle ge­doen het. Hy het sy oog oor julle gehou in hierdie groot woestyn, en in hierdie hele veertig jaar was die Here julle God by julle en het julle niks kort­gekom nie” (Deut.2:7). Die dissipels? “Skielik het daar ’n groot storm los­gebars…Jesus het in die agter­ste­we gelê en slaap. Hulle maak Hom wak­ker…Toe staan Hy op en bestraf die wind: ‘Hou op! Be­daar!’ …daar het ’n groot stilte gekom…Toe sê Hy vir hulle: ‘Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?’” Word rustig. Bid. Vertrou.

“Here, vandag bemoedig U krag en U getrouheid my.”