'n Stroom wat skoonmaak

LEES: 1 Timótheüs 1; 12 – 20

“…die Skrif sê naby jou is die Woord, in jou mond en in jou hart (8).”

Die storie van Die Steenkoolsak is deur Wi­l­na Swart, van die Kaapse Sinodale Senior­-pensi­oenafdeling, vir my gestuur.

‘n Ou man het met sy kleinseun in die ber­ge gewoon. Die knaap het 'n baie hoë ag­ting ge­had vir sy ou­­p­a, en soos dit maar gaan, het hy probeer na­boots wat Oupa doen. Oupa se ge­woonte was om elke og­gend, dou voor dag op te staan, die ou­ kool­­­stoof aan die brand te kry, en dan vat hy sy ou ge­hawende Bybel en gaan sit in die lekker warm kom­buis, by die tafel en lees uit die Bybel. Die klein­seun het Oupa dopgehou, en ook sy Bybel gaan haal, en net soos Oupa sog­gens by die kombuis­ta­fel gaan sit en lees. Maar iets het die knapie baie gepla: "Ou­pa, ek weet nou nie so mooi nie," sê hy een oggend, "ek probeer ook die Bybel lees soos Ou­pa, maar ek verstaan nie wat ek lees nie. En as ek die slag verstaan, dan waai dit by my ore uit, en netnou het ek alweer alles ver­geet wat ek gelees het. Ek meen - wat is nou die nut daarvan as ek tóg alles vergeet?" Oupa het diep gedink, en toe sien hy 'n leë steenkoolsak, pikswart ge­vlek van die roet, lê langs die stoof.

 "Boetie, gaan haal vir Ou­pa 'n sak vol wa­ter in die stroompie hier onder, asseblief,” vra hy die seun. Gretig om Oupa te plesier, spring die knaap daar weg met sy goiingsak, en laat vat af stroom­pie toe. Dis harde werk om die sak vol te kry, maar hy byt vas, en met die druppende sak hardloop hy terug huistoe. Natuurlik was die sak dolleeg gelek teen die tyd dat hy by Oupa aan­kom. "Ai man!", sug Oupa. "Jy sal maar weer moet gaan probeer jong!" Daarmee suiker die knaap weer af ri­vier­tjie toe met sy sak. Hierdie slag hardloop die outjie terug met sy sak water, so vinnig as wat sy beentjies hom kan dra, maar steeds is dit verniet, want natúúrlik is die sak weer leeg by sy aankoms. "Nee Oupa," blaas hy uit­asem. "Dis on­moont­lik - hierdie sak lek!", en daar­mee gooi hy die sak eenkant en gaan gryp 'n em­mer. "Nee Boetie", keer Oupa hom, "ek wil nie 'n emmer water hê nie, ek wil 'n sak water hê! Toe jong, jy kan dit mos doen! Jy probeer net nie hard genoeg nie."

Die seun het lankal besef hy is be­sig met 'n ge­jaag na wind, maar hy wil só graag vir Oupa ple­sier. Met sy lekkende vrag, hard­loop hy so vinnig as wat hy maar kan, die bul­tjie weer op na Oupa toe. "Nee Oupa, dit werk nie!", huil-sê die outjie moe­de­loos. "Kyk hoe hard pro­beer ek, maar niks gebeur tog nie!" "Dink jy rêrig daar het niks gebeur nie?" vra Oupa. "Kyk dan 'n slaggie na die sak. Wat sien jy anders aan die sak as toe jy begin het?" Met 'n vraag in sy oë be­kyk hy die sak - wat kan Oupa tog bedoel? Skielik besef hy, die sak is skoon - al die steen­kool­stof is uitgewas! "Oupa, die sak is skoon­ge­was! Maar ek verstaan nog nie, Oupa?" "Boetie", sê Oupa, "dis wat gebeur wan­neer jy die Bybel lees. Miskien verstaan jy nie alles wat jy lees nie, en dalk vergeet jy amper alles wat jy so hard pro­beer ont­hou. Maar terwyl jy lees gebeur iets met jou - jou bin­ne­kant verander - jy word as't ware skoon­gewas van binne af, terwyl jy die Bybel lees.”

In die Bybel praat God met ons en dit dring deur na ons innerlike lewe toe en bring nuutheid.

 “Here, vandag lees ek u Woord met my hart.”

'n Kosbare onrus

LEES: Markus 10: 17 – 27

“Hy val voor Jesus op sy knieë en  vra Hom. ’…wat moet ek doen om die ewige lewe te ve­r­kry?’” (17)

Dr. Forbes Winslow, patoloog en deskundige op die gebied van sielkundige proble­me, is deur ’n jong Fransman besoek. Hy het van invloedryke per­so­ne in Frankryk, o.a. Napoleon III, aan­be­ve­lings­brie­we saamgebring. Dr. Winslow vra vir die jongman: “Wat is eintlik die probleem?” “Ek weet nie,” antwoord hy, “maar ek is net binne-in my­self ontsteld. Ek kan nie slaap nie.” “Het jy geld ver­loor?” “Nee, nie on­langs nie.” “Is jy in jou eer of re­pu­tasie ge­krenk?” “Nee.” “Verstoot jou vrien­de jou?” “Nee.” “Wat pla jou dan snags dat jy nie kan slaap nie?” Die jongman kyk dr. Winslow in die oë: “Ek is ’n on­gelowige. My vader was ’n ongelowige. Godsdiensdinge is nooit tersprake nie, maar as ek snags in my bed lê, kom die saak van die ewigheid in my op. Is daar ’n ewigheid? Waar gaan ek in die ewigheid aanland? Ek kan snags aan niks anders dink nie. Wat gaan ek met myself in die ewigheid maak? Dit wil my gek maak. Ek kan nie slaap nie.”

“Ek kan jou nie help nie,” sê dr. Winslow, “Maar ek kan jou na Iemand verwys wat jou kan help.” Dr. Winslow neem sy Bybel wat op sy tafel lê, maak dit oop en lees: “So lief het God die wêreld gehad, dat hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh.3:16). ’n Trek van veragting kom om die mond van die Frans­man. “Dr. Winslow, wil u vir my sê dat ’n man van u verhewe wetenskaplike posisie daardie afgeleef­de bygeloof van Jesus glo?” Dr. Winslow ant­woord: “Ja, ek glo in Jesus Christus, en ek glo die Bybel. Dit is hierdie geloof in Jesus Christus wat die Bybel my geleer het, wat voorkom het dat ek geword het wat jy nou is.” Die man laat sak sy kop. “As ek eerlik wil wees, moet ek ten minste gewillig wees om dit te oorweeg, nie waar nie? Sal u my verder onderrig, asseblief.”

Met Jesaja 53: 5 as basis het dr. Winslow die jongman help verstaan, sodat hy kon glo: “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wil­le van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom en deur sy wonde het daar vir ons genesing ge­kom.” Vier dae later het die jongman na Frank­­ryk teruggekeer, ’n dissipel van Jesus Christus met die blye vooruitsig van die ewige lewe, in plaas van vrees vir die onbe­kende ewigheid.

“Here, vandag glo ek en neem u geskenk van die ewige lewe aan.”

Hunkering na Vrede

LEES: Handelinge 16: 24 – 31

“Menere, wat moet ek doen om gered te word?”Toe sê hulle: “Glo in die Here Jesus en jy sal gered word..(30,31).”

Dr. Walter Wilson, wat as evangelis bekend geword het as “a great soulwinner”, `n groot sielewenner, was `n vervaardiger van tente,  voor God hom as voltydse evangelieprediker geroep het. In sy groot tentbedryf het hy in sy kantoor, enige klein beserings wat enige van sy baie werksmense opgedoen het, sommer self behandel. Eendag kom `n vrou in sy kantoor in. Die naald van die groot naaimasjien waarmeesy moet werk, het haar een vinger deursteek. Dr. Wilson het die beseerde vinger goed verbind. Voor sy na haar masjien teruggegaan het, laat hy die superintendent die veiligheid van die masjien ondersoek. Die verslag van die superintendent was: “Geen foute nie. Ek kan nie verstaan hoe die ongeluk kon plaasvind nie.”

`n Paar dae later kom dieselfde vrou na dr. Wilson se kantoor toe. Sy krimp haar hand van pyn. Die naald het weer haar vinger deursteek. Dr. Wilson berispe haar saggies oor haar onverskillige hantering van haar masjien. Sy bars uit in trane.  “O, dr. Wilson,, vir weke is ek al so ongelukkig. Ek weet u is `n besige man. Ek het my vinger moedswillig seergemaak om hier by u te kon uitkom. Ek is nie gereed om te sterf nie, maar ek is so ongelukkig ek wil nie meer leef as ek nie kan vrede  vind nie. Ek het gehoor u kan my help!”

Dr. Wilson het dadelik haar behoefte begryp. Hy het die vreugde kon smaak om haar na die Here Jesus te lei en te help om die vrede van bekering te vind. As `n mens se hart bewus word van sonde­skuld voor God en die werklikheid van vir ewig ver­lore te wees, is daar geen ander raad, vir dáárdie onrus, as om by die Verlosser, die Here Jesus, uit te kom nie. Vir ons almal staan die weg na Hom toe oop. Hy nooi ons: “Kom.” Bid net en vra Hom: “Here Jesus, kom asseblief in my hart en red my.” Glo Hy het gehoor en in u hart ingekom, met sy groot vergifnis van sonde deur sy bloed van sy kruis.

“Here, vandag vra ek u reddingskrag ook in my hart.”

Hulp in Nood

LEES: Psalm 40

“Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op `n rots gestel; Hy het my gange vasgemaak (3).”

Terwyl Richard Almo, van Pittsburgh, huis toe stap, na sy nagskof by Jones and Luaghlin Steel Works, kyk hy af in die vlei, langs die Penn-Lincoln Highway. Hy verbeel hom hy sien `n man se kop bokant die vlei se modderige bodem uitsteek. Hy klouter af na die vlei toe en werklik, dit is `n lewende man se kop. Die man sit in die modder van die vlei­bodem vas. Hy het reeds stadig, tot byna by sy ken, in die die moeras weggesak. Hy kon nie praat nie. Sy mond is vol modder. Hy kan net sy oë heen en weer draai. Later is vasgestel dat hy vir 18 ure in daardie posisie vasgevang gesit het.

Richard spring weg na die nabygeleë polisie­stasie toe. Die brandweer word in kennis gestel. Dapper manne, gestut deur takke wat van die bome afgekap is, kruip in die vlei af, tot waar die man in die moeras vassit. `n Tou word onder sy arms vasgebind en hy word opgegtrek uit sy posisie, wat kort voor lank sy graf sou wees, as Richard hom nie opgemerk het, en die polisie- en brandweermanne nie so vinnig en dapper kom help het nie. Hy is vir skok en longontsteking hospitaal toe geneem.

Dit was vir hierdie man `n genadige uitredding. `n Mens kan fisies in so `n nood situasie beland. `n Mens kan ook finansieël in so `n toestand verstrik raak. `n Mens se grootste nood is, wanneer `n mens geestelik, in jou hart, in die modder van hierdie wê­reld insink. Die skrywer van hierdie gebeurtenis skryf, en ek haal sy eie woorde aan: “How aptly this incident illustrates our plight before the Saviour extri­cated us from the quagmire of sin and degradation!”

Dit is van hierdie geestelike, verlore toestand, wat Dawid in sy Psalm 40 sing: “…my ongeregtighede het my ingehaal en ek kan nie sien nie.Hulle is meer as die hare van my hoof, en my hart het my verlaat. Laat dit U behaag, Here, om my te red; Here maak tog gou om my te help!” Dit is in dié toestand en nood, dat ons ons toevlug neem tot God se groot redding, deur die Here Jesus Christus: “Hy wat geen sonde gedoen het nie…wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is (1 Petrus 2:22-24).”

“Here, vandag kom soek ek by U redding.”

Hoog Gevra

LEES: Johannes 16: 21 -28

“Voorwaar,voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee (23).”

`n Twaalfjarige dogter, Carol Ann Miller in Oxon Hill, Maryland, het `n hartprobleem gehad wat `n hoog­gespesialiseerde en gevaarlike operasie nodig gemaak het. Sy het ook `n skaars tipe bloed nodig gehad – B-negatief – vir `n bloedoortapping, voor die dokters die operasie sou begin. Die nodige bloed kon nêrens gekry word nie. “Ek sal aan President Eisenhower skryf en hom vra om my te help om die bloed in die hande te kry, dink Carol Ann by haar­self. Só het sy aan hom geskryf, en ek gee die briefie se eie woorde: “My Dear President: The sur­geons want to close up a hole in my heart. If you know anyone who has B-negative blood, please call my mother. It is very important!”

Die meisietjie se versoek het die president bereik en hom diep getref. Hy maak dadelik kontak met die rooi­kruis en ook met die dokters in Walter Reed Hos­pital. Baie gou word 20 pt. van die bloed beskikbaar gestel aan Carol Ann se dokters.

Hoe `n voorreg is dit nie, selfs een van God se kleinste en onbelangrikste kinders, kan na die troon van genade gaan en daar word in `n tyd van nood, betyds hulp gegee. Wat ons behoefte ook mag wees, God sal dit voorsien. Ons Verlosser Jesus se belofte is seker en be­troubaar: “Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verky (Mark.11:24).”

“Here, vandag bid ek in U Naam vir my nood.”

Gooi die reddingstou uit!

LEES: Lukas 19: 1 -10

“Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was (10).”

 `n Boer naby Milton, Pennsylvania, het stuk­­­ke ys uit die Susquehanna River gehaal om in sy yskamer te pak. `n Massiewe stuk drywende ys, tref sy boot en breek die tou, waarmee hy die boot aan `n boom, op die wal van die rivier, vasge­­maak het. Die vol rivier voer die boot dadelik, tussen die stukke ys deur, rivier af. Iemand wat dit sien gebeur en sy gevaar besef, spring op sy perd en jaag stroomaf terwyl hy vir help­ers roep. Baie van die wat hom hoor, kry haas­tig toue bymekaar en gaan na `n brug toe, wat ver­der  stroom af geleë is. Hulle staan op die brug en laat hang die toue, van die brug af oor die rivier. Nie lank nie of hulle sien die boot kom. Die boer staan in die boot wat al halfvol water was. Hy was nat en koud.

Toe sien hy die toue wat van die brug af hang. Die vinnige stroom bring sy boot by die brug en hy gryp die naaste tou. Die ander man­ne trek hom op en bring hom na veiligheid toe op die brug.

Walter Knight, wat hierdie insident vertel, maak hierdie toepassing: “Imperiled souls are floundering on life`s tempest-tossed sea. The black waters of defeat and despair will over­flow them, unless we throw out the lifeline with hands quick and strong.”

Sulke bedreigde mense is rondom ons. Ons taak, as die volgelinge van die Here Je­sus, is om die tou van redding, die evan­gelie van die kruis, na hulle uit te gooi. Die Hei­lige Gees ken almal se harte en die evangelie­woord wat ons, op een of ander manier, by iemand bring, word deur die Gees van God gebruik om so `n verlore mens te red.

“Here, vandag vra ek u krag om u reddingswoord aan iemand oor te dra.”

Feit nie gevoel nie

LEES: JESAJA 53 : 1 – 12

“Maar Hy is ter wille van ons oortedinge deurboor, terwille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom (5) .”

Tydens `n diens, wat `n vrou met `n be­swaarde hart bygewoon het, het die preek, wat oor bekering en redding van sonde ge­gaan het, haar diep. Sy het na die diens met die predikant gaan praat oor haar probleem. Hy het vir haar Jesaja 53:6, die profetiese woord wat op Jesus wys, gelees: “Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die Here het  die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.” Hy het haar gehelp om te ver­staan, sy moet die belofte van vergifnis en redding wat die Here vir ons in sy Woord be­loof, glo en aaneem. Sy moet in Jesus ver­trou, dat Hy haar sonde vergewe het en sy  nou `n kind van God is. Sy het dit verstaan en geglo en met blydskap huis toe ge­gaan. Haar seuntjie was by haar en hy het alles gehoor en ook verstaan waaroor dit gaan.

Die volgende oggend kom sy met betraan­de oë eetkamer toe. Haar blydskap van die vorige aand is weg. “Wat pla vir Ma?” vra die seuntjie. “Ag,” antwoord sy, “gisteraand het ek gevoel ek is gered en God het my aange­neem. Nou voel dit soos `n droom. Ek is be­vrees ek het my vergis.” Die seuntjie hardloop en gaan haal sy ma se bybel. “Ma, soek vir ons Jesaja 53:6 op.” Sy kry die vers. “Lees dit vir ons, asseblief.” Sy lees dit hard­op: “..die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.” “Is Ma seker die vers is nog daar?” vra die seuntjie weer. “Ja, seuntjie,” antwoord sy. “Maar dan is ma se sonde mos op Jesus gelê,” sê die verstandige seun. Die ma begryp wat haar seuntjie vir haar porbeer sê. Sy neem God op sy woord ongeag wat haar gevoelens ook is. Toe sy dit insien en aanvaar, kom die vorige aand se vrede weer terug in haar hart. Sy ís vergewe, God hét haar aangeneem, ongeag haar gevoelens. Hierna het sy in haar geestelike lewe gevorder.

“Here, vandag wil ek, opgrond van U Woord se belofte, glo.”

Drie minute nodig

LEES: Lukas 23: 39 – 43

“Jesus antwoord hom: ‘Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in  die paradys wees” (43)

Dr. A. J. Gordon besoek ‘n sterwende man in die hos­pitaal. “Vriend, ek sien jy is baie siek – is jy gereed vir wat voorlê?” Die man kyk wan­hopig na hom. “As ek net twee of drie weke gespaar kan word, kan ek dalk gereed wees, maar die dokter sê ek het net ’n paar uur om  nog te leef!” “Hoekom het jy drie weke nodig?” vra dr. Gordon. “Jy kan in drie minute se tyd gered word.” Dr. Godon maak sy Bybel oop by Joh. 1:12: “Maar aan almal wat Hom aan­ge­neem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” Die man luis­ter met al sy aandag en begrip kom in sy oë. Hy maak sy oë toe en soos ‘n man wat ‘n lewensprong maak, bid hy: “Ek glo U het vir my gesterf, Here Jesus. Ek neem U nou aan as my Verlosser.” Dr. Gordon skryf: “Short­ly, he went into eternity thanking and praising the Lord for saving him!”

Ons verlossing is volledig voltooi toe Jesus aan die kruis gesterf en uit die dood opge­staan het. Deur die werking van die Heilige Gees verstaan ons dit in ons hart. Saligheid is ‘n geskenk wat ons neem. Geen bykoms­ti­ge inspanning word vereis nie. So is die man op sy sterfbed in die hospitaal gered in mi­­nu­te se tyd. So word elkeen van ons gered. So is die moordenaar aan die kruis gered.

“Here, vandag glo ek, ek is gered deur u genade.”

Die Vredemaker

LEES: Kolossense 3: 13 – 17

“En laat die vrede van God…in julle harte heers en wees dankbaar (15).”

Twee lidmate van `n gemeente, `n Brown en `n Thompson, het oor `n onbe­duidende saak verskil. Die onenigheid het verhard tot hatigheid en vyand­skap. In die kerk het hulle so ver as moontlik van mekaar af gesit. `n Vriend van albei, het bedruk geraak, oor die vyandigheid tussen die twee manne. “Ek gaan `n vredemaker wees en doen wat ek kan om die breuk tussen my twee vriende te heel”, het hy hom voorgeneem.

Hy het eerste na sy vriend Brown toe gegaan. Na `n rukkie se gesels, vra hy vir Brown: “Wat dink jy van my vriend, Thompson?”. “Wat ek van hom dink?” bruis Brown dadelik op. “Hy is veragtelik in my oog!” “Maar,” sê die vredemaker, “jy moet toe­gee, hy is baie goed vir sy gesin.” “Ja, dis waar, dit moet ek ook toegee,” antwoord Brown nou kalmer.

Die dag daarna gaan die vredemaker na Thomp­son toe. Na `n bietjie lekker gesels, sê hy vir Thomp­son: “Ek was bietjie by Brown en weet jy wat sê hy oor jou?” Thompson antwoord: “Nee, maar ek kan my net indink, watter vuil en slegte dinge, hy oor my sal kwytraak.” “Wel,” sê die vredemaker, “ek weet nou nie so reg nie, maar hy het gesê jy is baie goed vir jou gesin.” “Wat! Het hy dit van my gesê?”  “Ja, ek het dit met my eie ore uit sy mond gehoor,” vryf die vredemaker dit bietjie in. “Maar, sê my wat jy van Brown dink?” “Ek dink hy is `n skurk en `n skelm!” vaar Thompson teen Brown uit. “Maar enstig ge­neem,” sê die vredemaker, “moet jy toegee hy is eintlik `n eerlike en betroubare man.” “Ja, ja,” gee Thomp­son toe, “hy is eerlik, maar wat het dit met alles te doen”?

Die volgende dag besoek die vredemaker weer vir Brown. “Ek was so bietjie by Thompson,” sê hy so tussen die gesels deur. “Weet jy wat hy van jou sê?” Brown is dadelik die ene ore. “Ja?” “Hy sê jy is `n eerlike man.” “Jy is nie ernstig nie,” antwoord Brown. “Nee, ek is regtig ernstig. Ek het dit uit sy mond gehoor.”

Die volgende Sondag sit die twee vorige vyande by mekaar in die kerk. Elkeen se opi­nie van die ander het verander, omdat elkeen iets goeds van die ander gesê het en dit is aan hulle oorgedra.

So ontstaan `n vyandskap ook. As iemand vir jou kom vertel, dié of dáárdie persoon het dié slegte ding van jou kwytgeraak, is dit mak­lik om kwaad te word en nie weer met daardie een te doen te wil hê nie. So word vrede bevorder, as ons aan iemand iets goeds kan oordra, wat `n ander van hom/haar gesê het.

“Here, vandag wil ek iets goeds aan iemand oordra.”

Die Skuilplek

LEES: Psalm 91– Nuwe Lewende Vertaling.

“As die Here jou toevlug is, as die Aller­hoog­ste jou skuilplek is, sal geen kwaad jou tref en geen ramp naby jou tent kom nie… (9,10,)

Op ‘n dag staan Charles Wesley, be­roem­de skrywer van Engelse kerkliedere, voor sy oop venster, droewig oor die pragtige somer­land­skap en uitkyk. Hy was baie swaarmoedig oor groot beproe­wings wat hy op daardie tydstip ervaar het. Skie­lik word sy aandag getrek deur ‘n voëltjie wat heen en weer voor die huis verby vlieg. Hy sien hy ‘n valk wat op die voëltjie afpeil. Wanhopig probeer die voëltjie die valk ont­wyk, maar daar is geen skuilplek nie. Toe sien hy die oop venster en die man wat daar staan. In sy groot gevaar vlieg hy by die ven­ster in en met kloppende hartjie kruip hy on­der Wesley se baadjie in. Wesley sit sy hand sag op die verskrikte dingetjie. Na ‘n rukkie gee die valk sy prooi prys en vlieg weg. Toe alles veilig lyk, maak Wesley by die ven­ster sy baad­jie oop en laat die voëltjie vry uitvlieg. Diep geraak deur die ge­beur­tenis skryf Charles Wesley ‘n lied wat uitdrukking gee aan sy her­nude geloof.

Jesus wat my liefhet, Heer,

laat my veilig by U skuil.

Kyk, die waters, wind en weer,

dreig en ruk en trek my neer!

Help my, Heiland, ag, ek vrees!

 Hoor die woeste winde huil!

U beskerm my swakke vlees –

laat my lewe vrede wees!

            Dit is lied 578 in ons eie Liedboek.

“Here, vandag kom ek by U skuil.”

Die Sirkus Optog

Lees Lukas 16: 19 – 31

“Daar was ’n ryk man wat duur en deftige klere gedra  en elke dag feestelik en weelderig geleef het….Die ryk man het …gesterwe en is begrawe…” (19,22)

’n Sirkus sou ’n plattelandse dorpie be­soek. Daar het ’n seuntjie gewoon, wat nog nooit in sy lewe ’n sirkus gesien het nie. Hy was byna dood van opgewondenheid oor die vooruitsig om ’n sirkus te sien. Niks sou hom daar kon weghou nie. Vroeg die oggend al het hy sy plek langs die straat, waar die sirkusoptog sou verbygaan, ingeneem. Sy pa het vir hom ‘n R10-noot, vir toegangsgeld vir die vertoning gegee. Uiteindelik verskyn die op­tog. Mense juig en dromme slaan, die op­ge­tooide diere en die helderkleurige waens be­weeg stadig verby. Heelvoor, die olifante, dan die perde, dan kamele, toe die akro­ba­te, daarna die hokke met die leeus, die tiere en ander diere. Die seuntjie was hees ge­skree en byna uitasem van al die opgewon­den­heid. Heel laaste kom die harlekyn met al­lerlei ma­newales verby. Toe hy dansend, met oop hande uitgestrek, regoor die seun­tjie kom, sit die seuntjie sy R10-noot in die har­le­kyn se hand. Die harelkyn kyk verbaas, maar neem dit en gee ’n dankbare, besondere hoë bok­sprong. Die sirkusoptog verdwyn om die hoek. Die seuntjie gaan tevrede en gelukkig huis toe. Hy het die sirkus gesien, dink hy. Hy wis nie, dit was nog maar net die optog, en dat die eintlike vertoning die aand gaan plaas­­vind nie. In sy onkunde het hy dood te­vre­de sy R10, wat vir die vertoning bedoel was, vir nog net die optog betaal.

Die huidige lewe in hier­die wêreld is ook nog  net ‘n optog – dan kom die ware ge­beu­re – die vertoning – die ewigheid. Ons moet ons aardse lewe verstandig gebruik en ook ge­niet, soos mense met ’n sirkusoptog maak. Maar ons R10-noot, ons innerlike lewe, ons siel, moet ons bewaar vir die vertoning, vir die aan­breek van die ewigheid. Laat ons ons R10-noot nie in die hande van die wêreldharelekyn plaas nie, maar dit in die hande van die Here Jesus, die koning van die he­mel, oorgee.

 “Here, vandag plaas ek my lewe in U hande.”

Die probleem van die kol

LEES: 1 Johannes 1: 5 – 10

“As ons ons sondes bely , Hy is getrou en reg­verdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle onge­regtigheid te reinig (9).”

In Rod and Staff vertel `n man, hy stap op `n dag straataf, by `n winkel verby. Op die sypaadjie is `n man besig om die glas, van die groot uitstal­venster, te was. Daar is een vuil kol wat hy net nie kan wegkry nie. Hoe hy ookal probeer, die kol wil net nie verdwyn nie. Hy vryf dit met baie seep en water. Hy ge­bruik later `n growwer doek. Maar niks help nie. Elke keer as hy die skuimende seep weg­was, sit die kol maar nog steeds daar. Toe ontdek hy die probleem. Hy roep na iemand toe binnekant van die winkel: “Die kol is aan die binnekant!”

“Baie probeer om die siel, van sy kolle skoon te kry,” maak die skrywer die toepas­sing. “Hulle was dit met trane van berou; hulle skrop dit met die seep van goeie voorne­mens; hulle skuur dit met die seemsleer van `n morele voorskrif (chamois of morality), maar die bewussyn van die vuilkol wil nie verdwyn nie. Die probleem is, dit is in die binnekant van die siel. Niks behalwe die bloed van Jesus, aangewend deur die kragvolle werking van die Heilige Gees, kan die binnekant van die hart, waar die vuil kol eintlik vassit, skoonkry nie.” Die man se eie woorde “Nothing but the blood of Jesus, applied by the mighty power of the Holy Spirit, can cleanse the inside.”

Die swakheid van die mens se wil, kry net nie oorwinning oor daardie lelike ding nie. Telkens word die handeling of gesindheid of neiging herhaal. Eers wanneer `n mens die sondige drif in eerlike woorde aan God bely. En die Heilige Gees reinig die hart met die bloed van die Here Jesus en gee dan ook die nodige, innerlike geloofs­krag in die ver­houding met God, ervaar die kind van die Here die oorwinning waarna hy so verlang het.

“Here, vandag kom ek hierdie ding, wat my so strem in my verhouding met U, bely.”

Die Krag Binnekant

LEES: Efésiërs 3 : 14 – 21

“…dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon…(16,17).”

In The Christian Herald vertel iemand, hoe hy en vriende, op `n ruwe, stormagtige dag oor die onstuimige see staan en uitkyk. Een van die kykers sê: “Ek het `n stoomskip dopgehou wat teen die aanslag van die stormwind en die hoë branders vorentoe beur. Hoe hou so `n skip koers? Dit is vir my `n vraag – hoe doen `n skip dit?” Daar was net een antwoord op daardie vraag. Die verteller in die Herald het die persoon geant­woord. “Dit is die krag in die skip, wat dit vermag om die teëwerkende krag­te rondom, die hoof te bied.” Hy skryf voorts: So is dit ook met God se kinders. Nou gebruik ek die skrywer se eie woorde: “God’s children are hindered by obstacles, thwarted by keen cut­ting winds of misfortune; buffeted and bruised by the  surging waves of sorrow, bereavement, disappointed hopes; and we wonder how they can keep on their course se bravely and brigth­ly.” Hoe hou Christene koers ongeag die teëwerkende elemente? Hulle het `n ge­heim in hulle harte; hulle is bewus van `n krag in hulle, wat nie van nature in hulle woon nie. Die Heilige Gees het hulle geleer om saam met Paulus te sê: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee (Fil4:13).”

“Here, vandag steun ek op u krag.”

Die Koperslang

Lees Numeri 21: 4 – 9

“Moses het toe ‘n koperslang gemaak en dit op ‘n paal gesit. As iemand wat deur ‘n slang gepik is, na die koperslang opkyk, het hy bly leef” (9).

D. L. Moody, die bekende prediker, ver­tel  hoe hy een nag, tydens die Amerikaanse Burger­oor­­log, na die hospi­taaltent toe geroep is. ‘n Ge­wonde man het hom nodig gehad. Hy sê vir Moo­dy: “Ek het u laat roep om my te help sterf.” Moody antwoord: “As ek jou in my arms die koninkryk van God kon indra het ek dit dadelik gedoen. Maar ek kan nie. Jy moet in jou hart in Christus as jou Ver­losser ver­trou. Hy sal jou in sy arms in God se ko­ninkryk in­dra.” Die man het sy kop geskud. “Hy kan my nie red nie. Ek het te veel gesondig.” Moody noem een na die ander van die belof­tes van redding in die Bybel vir hom, maar hy bly net pas­sief lê. Toe sê Moody vir hom: “Ek gaan nou vir jou ‘n gesprek lees, wat Jesus met ‘n man, wat ook ang­­stig oor die ewige lewe was, gehad het.” Moody lees vir hom in Johannes 3 Jesus se ge­sprek met Nikodemus. Terwyl Moody lees maak die man sy oë oop en vestig dit strak op Moody.  Toe Moody by die woorde in vers 14 kom: “Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê,” val die man hom in die rede. “Staan dit net so daar?” “Ja,” bevestig Moody dit. “Ek het nie geweet dis in die Bybel nie. Lees dit weer, asseblief.” Hy lig hom in die bed effens op en stut hom op sy elmboë, sy hande styf in mekaar geklem. Na Moo­dy die woorde weer gelees het, sê die man: “Dis goed. Lees dit nog ‘n keer.” Na Moody die woorde ‘n derde keer gelees het, lê die man te­rug, maar die strak uitdrukking op sy gesig het nou plek ge­maak vir ‘n uitdrukking van ont­span­ne vre­de. Die man se lippe beweeg. Moody leun voor­oor om te hoor wat hy sê. Hy prewel: “Soos Moses die slang in die woestyn opgehef het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Hy maak sy oë oop. “Dis genoeg; u hoef dit nie weer te lees nie.” Die volgende oggend het Moody gaan kyk hoe dit met die man gaan. Hy was reeds dood en sy bed was leeg. Die verpleër op diens sê vir Moody: “Na u weg is, was hy baie kalm. Hy het net kort-kort herhaal: ‘Wie in Hom glo sal nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe hê.’”  Christus het vir ons sonde geword toe Hy aan die kruis gehang het. Al ons sonde het Hy daar gedra, sodat ons vergifnis kan ontvang en deel kan kry in die ewige le­we. “Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons” (Rom.8.34). Ons kan met vry­moe­dig­­heid ons toevlug tot Hom neem.

 “Here, vandag vertrou ek in U vir my redding.”

Die Hindernis

LEES:  Johannes 12: 44 – 50

”Ek het as `n lig in die wêreld gekom sodat elkeen wat in My glo , nie in die duisternis sou bly nie (44),”

`n Boer het `n vreugdelose geestelike lewe van neerlaag gevoer. Met sy boerdery het dit tog heel goed gegaan. Waarom sy ongelukkigheid? Hy sê eendag vir `n vertroude mede Christen: “As ek kniel om te bid, klap `n oneerlike ding wat ek gedoen het my deur die gesig.” Hy het hooi van `n naburige boer gekoop. Voor hy kon betaal, is die buurman oorlede. Hy het na die administrateur van die oorledene se boedel toe gegaan. “Is daar dalk `n rekening teen my in die saak?” “Daar is niks op rekord teen jou nie,” word hy gerusgestel. Vir `n rukkie het hy die onbetaalde hooi uit sy gedagte gestel. Soos die tyd verloop kom daar `n skaduwee oor sy lewe. Hy kon geen vordering in sy geestelike lewe maak nie. God het hom van sy oneerlikheid oortuig. Na `n slapelose nag het hy besluit, hy gaan na die weduwee toe en vertel haar van sy versuim en betaal die rekening met rente. Toe hy so met die weduwee dit regmaak, kom hyself ook sommer reg en hy weet hy is nou ook weer met God reg. `n Nuwe krag en vreugde het in sy lewe gekom.

As ons aan die Here behoort sal die lig van die Heilige Gees die verkeerde dinge wat ons geestelike lewe ongelukkig maak vir ons uitwys. Die enigste raad vir `n bewussyn van `n verkeerde ding in die Christen se lewe is om dit aan die Here te bely en die verkeerde ding so goed soos moontlik in die reine te bring. “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig…ons het `n voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige (1 Joh.1:9 & 2:2).”

   “Here, vandag wil ek my oortreding bely.”

Die Herders

LEES: Johannes 10: 11 – 18

“Ek is die goeie herder en Ek ken my eie en word deur my eie geken (14).”

Eerw. Leslie Miller vertel hoe hy en `n vriend in die omgewing van Casablanca in Noord­-Afrika in die veld gaan wandel het. Hulle kyk na die horison en word verstom deur `n stofwolk wat opstyg. Soos dit nader kom, maak hulle dofweg die vorm van skape in stof uit. `n Paar oomblikke later sien hulle, wat vir hulle gelyk het na duisende skape, wat verbystroom na die waterkuile toe. Sy woor­de: “What a sight it was to see all those sheep plunge their heads into the sparkling, refresing waters!” Na hulle dors versadig was, staan die skape lui en tevrede rond. `n Half­dosyn of wat van die plaaslike herders wat ná die skape daar aangekom het, begin in ver­skil­lende rigtings loop. Een van hulle draai om en sing `n trillende lied, wat Leslie Miller glad nie kon verstaan nie, maar `n groot aantal van die gemengde klomp skape spits die ore, draai die koppe, beur uit die groot trop skape uit en hardloop na die herder toe en volg hom toe hy aanstap. Die res van die klomp skape bly rustig staan. Die ander herders wat weg­ge­stap het, begin ook een na die ander die­selfde ding doen en elke keer skuur `n klomp van die skape tussen die massa uit en volg hulle herder. Eerw. Miller sê: “How thrilled I was to see that never-to-be-forgotten sight! Before my eyes had been portrayed the meaning of the words spoken by die Good Shepherd.” Dit is wat Jesus gesê het, na Hy Homself die goeie herder genoem het: “En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit  en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken.” Die skape volg nie `n ander herder as hulle eie herder nie.

Jesus het ons ook ingesluit by sy skape wat Hom volg, want Hy gaan voort: “Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder (Joh.10:14-16).” Die van ons in wie se harte die Heilige Gees die behoefte aan die Here Jesus laat ontwaak het, behoort aan hierdie skape. `n Skaap kan verdwaal, wegraak. Van so `n skaap het Jesus in sy gelykenis in Matthéüs 18 gesê: ”As iemand 100 skape het en een van hulle verdwaal, sal Hy…op die berge die verdwaalde een gaan soek…” En Jesus gee as rede vir die gebruik van hierdie gelykenis van die skape: “Want die Seun van die mens het gekom om te red wat verlore is.”

“Here, vandag is ek een van u skape wat U volg.”

Die Hemel

Lees 2 Korintiërs 4: 16 – 5: 10

“Ons weet dat, wanneer ons aardse woning  wat maar ’n tent is, afgebreek word, ons ’n vaste gebou in die hemel het. Dit is ’n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan” (5:1).

Robert J. Morgan vertel in sy boek Stories, Illu­stra­­tions and Quotes van die Amerikaanse toeris wat die 19de eeuse Poolse rabbi, Hofetz Chaim, tuis besoek. Hy is verstom dat die rabbi in ’n kamer met skraps meublement woon. Oral is net boeke. Hy vra: “Rabbi, waar is jou meubels.” Die rabbi ant­woord: “Waar is jóú meubels?” “My meubels?” vra die verstomde toeris. “Maar ek is net ’n besoeker hier. Ek reis net deur.” “Ek ook,” sê Hofetz Chaim.

Dit is die gesindheid wat die Here Jesus in sy volgelinge se harte soek: “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar…” (Mat.5:19,20). Dít is hoe Paulus dit beantwoord: “…ek beskou al­les as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde…ek maak my los van alles wat agter is en strek my uit na wat voor is…sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus” (Fil.3:8,13,14). Philip Yan­cy skryf in Christianity Today van die neiging wat ons ook ondervind: “…although 71% of Ame­ricans belie­ve in an afterlife, no one talks about it much…we simply ignore heaven, acting as if it doesn’t matter…”  ’n Ander evangeliese geleerde, Wilbur Smith, skryf in Biblical Doctrine of Heaven dat dit opmerklik is hoe min Bybel­ge­­leerdes oor die hemel as onderwerp skryf. Hy noem die skrywer oor Sistematiese Teologie, Shedd, as voor­beeld. In sy boek Dogmatic Theology wy hy twee blad­sye aan die hemel en 87 bladsye aan die onderwerp Eter­nal Punish­ment. David Wells, professor in die Mas­sa­chusetts Gordon-Conwell Theological Se­mi­­na­ry sê: “Ons verwag om in ons Evangeliese kerke pre­ke oor die hemel te hoor, maar ons hoor dit nie.” En David Van Biema beweer onder die opskrif: “Does Hea­ven Exist?” in die Time tydskrif van Maart 1997, dat die Christelike gemeentes in Amerika in hulle liedere van die hemel sing, maar uit hulle kansels nie preke daaroor hoor nie.

Die geleerde, Wilbur M. Smith, reken dat ons as Chris­­te­ne geen verskoning oor ons onkunde oor die hemel het nie. In 1649 het ’n boek deur Richard Baxter met die ti­tel The Saint’s Everlasting Rest verskyn. Baxter het op 35-jarige ouderdom ’n ineenstorting van sy gesond­heid gehad. “Expecting to die and wanting to prepare himself for leaving the world, he began to me­ditate on heaven and on heaven’s joys”, skryf Wilbur Smith. Elke dag peins hy ’n halfuur lank oor die hemel. Wat hy oor­dink het, het hy neergeskryf. Hy het gesond ge­word en sy aantek­eninge gebruik om sy boek te skryf. Daarin het hy hierdie treffende paragraaf geskryf: “It hath pleased our Father to open his counsel, and to let us know the very intent of his heart, and to acquaint us with the eternal extent of his love; and all this that our joy may be full and that we may live as heirs of such a kingdom and shall we now overlook all, as if He had revealed no such matter? Shall we live in earthly cares and sorrows, as if we knew of no such thing, and rejoice no more in it  than if the Lord had never wirtten it?”

In sy Woord lig God ons oorvloedig toe oor die hemel.

“Here, vandag wil ek in u Woord oor u hemel lees en peins.”

Die dief se plan

LEES: 1 Johannes 1: 5 – 9

“As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel…lieg ons…as ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself.“(5).

 `n Inbreker het by `n strandhuis inge­breek. In die afwesigheid van die strandhuis se eie­naar, het hy op sy tyd deur die huis ge­loop, en al die kosbarhede wat hy wou saam­neem, op die sitkamervloer neergesit. Hy begin sy buit in die sak pak wat hy saamgebring. Hy kyk op en kyk of daar aan die muur nie dalk nog `n kosbaarheid hang nie. Aan die muur hang `n afdruk van Guido se “Ecce Homo”. Die beroemde skildery van die do­ring­ge­kroonde Jesus. Die teer, deur­dring­ende kyk van Christus laat hom dadelik op­hou met sy inpakkery. Hy kon net nie voort­gaan met sy diewery, voor die oë van die Hei­land nie. Hy staan op. Hy draai die skildery om, met Christus se gesig na die muur se kant toe.  Met Jesus se gesig so weggedraai, gaan hy met `n geruste hart voort om sy buit alles in te pak en die huis daarmee te verlaat.

Met Jesus uit ons gedagte uit is die toe­gang na ons hart toe oop vir enige in­dring­ende begeerte. Die bewustheid van die Per­soon van Jesus, ons gedagte aan Hom, be­skerm ons teen oortreding. Ons geestelike vei­ligheid lê in ons daaglikse vernuwing van ons verhouding met die Here Jesus. Ge­meen­skap met Hom, kan vir ons `n veilige ves­ting teen versoeking wees. Met Jesus uit ons gedagte uit, is dit maklik om die ver­keerde ding te doen.

“Here, vandag vestig ek my oë op U.”

Die ander een ook

LEES: Efésiërs 1: 15 – 23

 …verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping…wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo…”(18,19)

Twee skilders het elkeen `n skildery ge­maak van die kruis van Christus en daarmee twee belangrike fases van die geestelike lewe na vore gebring. In die een skildery is `n groot kruis, omring met stormagtige branders. `n See­man, wat redding uit die stormagtige waters soek, klem met altwee hande vas aan die ruwe kruis. Hy wil lewe en hy doen die regte ding om sy heil te soek in die kruis wat binne sy bereik gekom het. Elkeen van ons moet hierdie fase in  ons lewe ken.  Dit is die weg tot die ewige lewe, redding uit die sondige wêreld wat ons omring. Geloof en vertroue in die kruisdood van die Here Jesus. Soos Romeine 3:23-25 dit uitdruk: “…want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Chrisus Jesus is…Hom het God voorgestel in sy bloed as `n versoening deur die geloof…” Dit is vir elkeen van ons die vasklem aan die kruis.

Die ander skilder het dieselfde prent gekilder, ook die kruis in die stormagtige branders en die seeman wat vasklem aan die kruis, maar hy het `n belangrike ander waar­heid bygebring. Die seeman klem met een hand vir lewe en dood aan die kruishout vas, maar sy ander hand is uitgestrek na `n ander man wat in die branders spartel, om hom ook na die veiligheid van die kruis te trek. Elkeen van ons wat die Here Jesus se redding leer ken het, moet omsien na ander wat dit nog nie bereik het nie. Daar is wonderbare beloning vir elkeen wat iemand anders ook tot redding gelei het.

“Here, vandag wil ek iemand anders vir U bereik.”

Waardelose Voordeel

LEES: Johannes 3: 16 – 21

“God het nie sy Seun na hierdie wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie” (17,18)

In 1829 is George Wilson in Pennsylvania tot die dood veroordeel, omdat hy ‘n poskoets beroof en moord ge­pleeg het. Pres. Andrew Jackson het hom be­genadig, maar hy het die vryspraak verwerp. Wil­son se standpunt was:  dit is nie ‘n vryspraak, tensy hy dit aanvaar, nie. Die hooggeregshof moes uit­sluit­sel gee. Hoofregter John Marshall het soos volg be­sluit: “A pardon is a paper, the value of which de­­pends upon its acceptance by the per­son im­plicated. It is hardly to be supposed that one un­­der sen­­tence of death would refuse to accept a par­don, but if it is refused, it is no pardon. Geoge Wilson must be hanged.” Tot die einde toe het Wilson volhard in sy weiering van die begenadiging en is toe gehang.

Regter Marshall was reg: dit is moeilik om te glo ‘n ver­oor­deelde persoon sal sy begenadiging ver­werp. So iets gebeur by hoë uitsondering, indien ooit weer, wat ons aardse lewe betref. Wat die ewige doodsvonis van ons siel betref, is dit ‘n bedroe­wen­de, algemene ver­skyn­sel. Christus het aan die kruis gesterf en so ons doods­vonnis, op Homself, geneem en dit volbring en daarom spreek God ons vry van die ewige dood wat ons sondes verdien. Die vrys­praak moet ook aangeneem word. “…aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh.1:12). Iemand gaan verlore, nie omdat hy gekies het om verlore te gaan nie, maar omdat hy geweier het om God se vryspraak in Christus aan te neem.

“Here, vandag neem ek u vryspraak aan”

Woorde vir die sterfbed

LEES: 1 Korintiërs 2: 1 – 5

“Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Chris­tus, en wel oor Hom as die gekruisigde.” (2)

Een van Engeland se grootste predikers, C. H. Spur­geon, het op sy sterfbed aan ’n vriend gesê: “My te­o­logie bestaan nou uit vier woorde: Christus ge­sterf vir my. Ek wil nie hiermee sê ek sal nie weer oor ander as­pekte van die geloofslewe preek as ek gesond word nie, maar hierdie vier woorde is genoeg om mee te sterf.”

Jesus Christus se kruisdood is die onfeilbare waarborg vir toegang tot God se ewige hemel na ons sterwe. Elkeen wat kan sê: “Christus het vir my ge­­sterf,” het deel gekry aan die ewige lewe en sal nie verlore gaan nie. “En dít is wat die Seun ons belowe het: die ewige lewe” (1 Joh.2:25). In Christus se kruisdood is ons son­­deskuld weggeneem: “Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir die wat  glo.” (Rom.3:25). Wie in Christus se kruisdood glo, daarin ver­trou en vir homself aanneem, ontvang die ewige le­we: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” (Joh.3:16).

Ons sterwe, die grootste krisismoment van gans ons lewe, is vir ons almal ’n vreesaanjaende  vooruitsig. Die angs word deur ’n opheffende verwagting van saligheid vervang, as ons weet: “Ek het Jesus Christus as my Saligmaker aangeneem en ek weet ek gaan hemel toe as ek sterf!”  En ons kan Hom vertrou. Hy sal iemand wat in sy redding glo, en dit aangeneem het, nie in die steek laat nie.

“Here, vandag weet ek U is my Verlosser.”