Lees 2 Korintiërs 9: 6 – 15
“Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes…want God het die blymoedige gewer
lief. En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk…(6-8).
Twee studente van die Leland Stanford-Universiteit, moes vir hulle studiegelde
werk. Hulle fondse het gedaal en hulle moes planmaak vir meer inkomste. Hulle
beplan ’n konsert waarin die Poolse pianis, Ignace Paderewski, ’n
klavieruitvoering sou gee. Die beroemde kunstenaar se bestuurder het ’n waarborg
van $2 000 gevra. Die twee studente het dit voorsien en die konsert aangebied.
Die aand se opbrengs was $1 600. Hulle het hulle saak aan Paderewski gestel en aan
hom die volle $1 600 en ’n skuldbewys van $400 oorhandig. “Nee, manne,” antwoord
Paderewski, “dit sal nie werk nie.” Hy het die skuldbewys opgeskeur en die $1
600 aan hulle teruggegee. “Trek julle onkoste af en gee vir julle elkeen 10% van
die bedrag en laat ek die balans kry.” Die jare het verby gerol en die Tweede
Wêreldoorlog het uitgebreek. Paderewski het met alle mag gewerk om sy hongerige,
sterwende Poolse landgenote te help voed. Paderewski het planne beraam om iemand
in die buiteland om hulp te nader. Voor hy sy plan kon uitvoer, begin duisende ton
voedsel instroom om die hongeriges te voed. Na al die reëlings getref is om die
voedsel reg uit te deel, gaan Paderewski Parys toe om Herbert Hoover, die
skenker, persoonlik te gaan bedank vir sy wonderlike hulp. “Dis alles reg, mnr.
Paderewski” antwoord Hoover hom. “Ek het besef die nood is groot en ek is
gelukkig in ’n posisie om te help. Buitendien, u sal dit seker nie onthou nie,
maar u het eenkeer, toe ek en ’n studentemaat in die moeilikheid was, ons uit ons
ellende gehelp.”
Wat ons vir ’n ander doen, lyk soms vir ons gering, maar God, wat ’n goeie gewer
liefhet, sal vir ons sorg as ons die dag in nood verkeer. “Gee, en vir julle sal
gegee word: ’n goeie maat, ingestamp, propvol…” (Lukas 6:37-42) .
“Here, vandag wil ek ook iemand wat nood het, help.”