Lees Spreuke 28:12-18
“Wie sy sonde wegsteek moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en
daarvan afsien sal genade ontvang” (13)
’n Dief het een nag by ’n kerk in Buffalo, New York, ingebreek, vertel Charles F.
Fuller in sy boek, Heart-to-Heart Talk. Hy het die gemeente groot skade berokken.
Die vorige dag was daar ’n fondsinsameling en die dief het die kluis oopgebreek
en die geld geneem. Die nuus van die inbraak het vinnig versprei. Die volgende
dag verskyn ’n kennisgewing op die kerk se kennisgewingbord: As die persoon wat
by die kerk ingebreek het met die predikant skakel, sal hy belangrike nuus kry.
’n Koerant het die dominee geskakel en wou weet wat die belangrike nuus is wat hy
aan die inbreker gaan meedeel. Die dominee se antwoord: “As ons ons sondes
bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van
alle ongeregtigheid” (1Joh.1:9).
Dit is die evangelie se voortdurende goeie nuus, vir enige oortreder, wat weet hy
het sonde gedoen en hy bely dit aan die Here. ’n Vrou het eens na ’n dominee toe
gekom met haar twee hande vol nat sand. Op sy verbaasde vraag na die betekenis
van haar optrede, antwoord sy: “Dit is ek en my sondes wat so baie soos hierdie
seesandkorrels is. Wat máák ek daarmee?” en sy gaan droewig aan die huil. “Gaan
terug strand toe en maak ’n hoop sand, so groot as wat jy kan. Terwyl jy kyk wat
die branders met die hoop sand maak, lees jy hierdie teks,” en hy skryf woorde op
’n velletjie papier en wikkel dit onder haar een duim in, wat die handvol sand
vashou. Sy kyk na wat hy geskryf het en sy verstaan. ’n Bly glimlag breek deur op
haar droewige gesig. Die dominee het geskryf: “U sal al hulle sondes in die
diepsee gooi” (Miga 7:19). God vergewe ons heeltemaal op grond van die groot prys
wat die Here Jesus Christus betaal het. “Ek het jou oortredinge, jou sondes,
uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke”(Jes.44:22).
“Here, vandag bely ek onomwonde al my oortredinge aan U.”