Lees Hebreërs 5: 7 – 14
“Hoewel julle teen hierdie tyd self reeds onderrig behoort te gee, het julle weer nodig dat iemand julle in die grondwaarhede van die woord van God moet onderrig: (12)
Aan twee immigrante word elkeen ‘n plaas toegeken. Die grond is ewe groot en ewe goed. Van owerheidsweë is die grond gemeet en as hul eiendom beskryf. Alle wetlike aspekte is ten volle nagekom, sodat daar geen twyfel kon bestaan dat hulle die wettige eienaars van hulle grond is nie. Die een man het die dokumente bestudeer, met sy vuis teen sy papiere geslaan en uitgeroep: “Dis myne!” Vol moed en blydskap beplan hy sommer al daardie aand hoe hy die volgende dag die boerdery gaan aanpak. Dag vir dag werk hy om dit te ploeg, te saai, sy kampe te maak en sy huis te bou. Die ander man het die aand ook sy dokumente bestudeer en die nag daaroor gelê en dink. Hy voel effens onrustig oor die hele saak. Dit is so ‘n groot voordeel wat sommer so maklik, voel hy, in sy skoot geval het. Iewers verstaan hy dalk die dinge nie reg nie. Die volgende oggend ry hy dorp toe. In die aktekantoor gaan hy eers weer 100% seker maak dit is regtig nou sy grond. Hy kry bevestiging van die korrektheid waarmee alles afgehandel is. Tevrede begin hy met sy werk op sy nuwe plaas. Die onrus wil egter nie heeltemaal gaan lê nie. Telkens onderbreek hy sy werk om eers weer dorp toe te gaan en te gaan seker maak. Is die opmetings reg gedoen? Was die landmeter goed gekwalifiseer? Daar is nie dalk in die verlede foute gemaak nie? Watter een van die twee stukke grond gaan eerste tekens van vordering, groei en ‘n oes toon? En waarom lê die een stuk grond nog net soos die man dit gekry het? Ons antwoord dit maklik.
Dieselfde kan in ons geestelike lewe gebeur. Een Christen vorder in die geestelike lewe. ‘n Ander een se geestelike groei staan stil en gaan selfs agteruit. Die een het die Woord van God met blye sekerheid aanvaar, die belofte van die verlossing in Christus Jesus geglo, in die krag van Heilige Gees vertrou, daagliks sy geestelike lewe met die Woord en deur gebed begin lewe en sy lewe toon vordering en vrug. ‘n Ander een hou hom met twyfelvrae besig, toets sy gevoelens, hou sy swakhede dop en sy geestelike ontwikkeling word onderbreek en kom tot stilstand.
Die prediker C. H. Spurgeon het een oggend, voor hy begin preek, sy hande opgesteek en vir sy gemeente gesê: “Ek voel vanoggend onbekeerd. Gelukkig lê ons redding nie in ons gevoelens nie, maar in wat ons uit God se Woord weet.” Hy vervolg: “God’s witness concerning his Son is this, that if you trust his Son you are saved. His Son suffered for you, his Son bore the punishment that was due to your sins: God declares it that you are forgiven for Christ’s sake…it is a matter of certainty, it is not a matter of ‘ifs,’ and ‘ands’, and ‘buts’ but of facts.’Believe in the Lord Jesus Christ, and thou shalt be saved’.”
“Here, vandag glo ek U het my gered.”