“Al val die regverdige ook hoeveel keer, hy staan weer op” (16).
Eenkeer preek Robert J. Morgan oor die geleentheid en die genade van ’n nuwe begin. “The first person to invent the wheel only discovered what God had al ready designed, for the Lord created things in circles.” Die sterre en planete is rond en beweeg in sirkelbane. Die natuurlewe beweeg in siklusse. Na elke honderd jaar het ons ’n nuwe eeu. Na elke 365 dae het ons ’n nuwe jaar. Na elke 24 ure het ons ’n nuwe dag. Na elke 60 minute het ons ’n nuwe uur. Na elke nag het ons ’n nuwe dag en na elke winter het ons ’n nuwe lente. “God created the potential for new beginnings into the very design of our universe.” Hy noem voorbeelde van die behoefte aan ’n nuwe begin soos ons dit in die Skrif lees: Abraham soek ’n nuwe geleentheid, na hy in Egipte gesê het sy vrou Sara, is sy suster en Farao hom weggejaag het; Jakob, na hy sy blinde vader, Isak, be drieg het; Moses, na hy die Egiptenaar doodgeslaan het; Dawid, na sy owerspel met Batseba; Elia, na sy emosionele ineenstorting onder die besembos in die woestyn; Jona, na hy sy opdrag om in Nenive te gaan preek probeer ontvlug het; Petrus na hy Jesus drie keer verloën het.
Die helfte van 2010 is verby. Het ons iewers gestruikel, misluk? God bied ons die moontlikheid van ’n nuwe begin aan, ’n nuwe begin met ons lewe. Ons durf dit nie alleen, of in eie krag aan nie. God nooi ons om saam met Hom ’n nuwe begin te maak. In Hosea se prediking belowe die Here om dit te doen: “Keer terug na die Here, jou God, Israel, want jy het geval deur jou sonde. Bely jou sonde en kom terug…” Dan belowe die Here: “’Ek sal hulle ontrou genees. Ek sal hulle van harte liefhê…Ek sal vir Israel wees soos die dou…hy sal bloei soos ‘n lelie en hulle sal so vas staan soos die Libanon’…Wie wysheid het, sal op hierdie woorde ag slaan. Wie verstandig is, sal dit ter harte neem, want wat die Here doen, is reg” (Hos.14:2-10).
“Here, vandag kom maak ek by U ’n nuwe begin.”