Na 1 Jun: 'n Dag wat anders was

Lees Johannes 19:17-34

“Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe…in Hebreeus Golgota. Daar het hulle Hom gekruisig…” (17,18).

Dáárdie Vrydag sou ’n dag wees, anders as al die an­der dae wat die aarde ooit geken het. Die dag toe God sy profetiese afspraak met die mens­dom nagekom het.

By een van die stadspoorte gil die eerste voor­lopers van haat en venyn. Die eerste lentegras­sies buig en knak voor driftige voete en ’n kreet, wat nooit vergeet sal word nie, swel uit: Kruisig Hom! Kruisig Hom! Die swepe van die soldate klap met wilde min­ag­ting onder die jillende, springende skare…dan val die lenteson op ’n Man wat uit die skadu van die stadsmuur strompel on­der die dwars­balk van ’n kruis. ’n Entjie, asof ge­dra deur die ge­weld van die haat, bly Hy regop, maar as die paadjie op­styg teen die heuwel van Golgota, knak die brose lig­gaam van ’n mens, wat reeds foltering op foltering moes verduur, in die nag wat verbygeskuif het.

Simon van Ciréne word deur die skare voren­toe gestoot: “Kom, ou sterke, dra vir Hom die kruis!” Op teen die paadjie van Gólgota…op onder ’n son wat neerskroei op die flar­de van ’n verskeur­de, gegéselde rug… op na die plek waar die Lam van God ge­slag moet word…op na die rots van skedels.

Sy klere word wegge­neem…die bebloede rug word uitge­strek op die kruis…die arms uitgespalk op die dwarsbalk…Hy bied geen weerstand nie…die skare word stil en stiller… me­taal slae van die hamer val op die spy­kers en die voorste toe­skouers steier terug…sy ving­ers span strak en bewend teen die hout…die voete word oor die genadebalkies gespan en vuil, skerp yster dring deur sag­te vlees en strakke senu­wee … bloed wel stadig op en drup af van die hande en die voe­te… die kruis word op­gehys…die voetstuk glip in ’n vlak gat en word met los klippe vas­gepak…nou moet die oë gelig word om Hom te sien…die skare kyk op en dan bars die haat, aan­ge­­hits deur die leiers, weer los: “Ha! Ander het hy verlos! Laat hy homself nou verlos!” Aan die voet van die kruis tap sy bloed in die stof op die grond…die dobbelstene van die soldate kletter op ’n plat klip…een uur en nog een gaan verby …die skare skreeu en raas deurmekaar…’n dra­len­de oomblik tus­­sen blik­­sem­­straal en donderslag…sy lippe roer: ”Vader, ver­geef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie…… Dit is volbring!”…in die tempel skeur die voorhangsel van bo na onder. Vir sondaars is die weg na God toe oopgemaak!

Dít het Hy vir jóú gedoen, wat doen jy vir Hóm?

“Here, vandag wil ek dié vraag eerlik antwoord.”