“…die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê” (20).
Die beroemde 16de eeuse skilder, Guido Reni, was besig om sy latere, wêreldberoemde skildery, Ecce Homo – Dít is die Mens – te skilder. Die benaming kom uit Johannes 19:5: “Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: ‘Dít is die mens!’” Hierdie toneel skiler hy. Eendag sien Reni ’n jong sigeunerin, baie mooi, met lang swart hare en fonkelende oë, langs die pad sit en mandjies vleg. Haar verweerde rok verraai haar armoede. Toe sy sien hoe die vreemdeling haar bekyk, spring sy op, klap haar vingers bokant haar kop en dans vir hom, hopende op ’n fooitjie. “Staan net so stil,” roep hy en vinnig maak hy ’n skets van die dansende meisie. Hy sê vir haar hy wil haar as ’n Spaanse danseres skilder. Daarna kom sy drie keer ’n week na sy ateljee toe om vir die skilderstuk te poseer. Haar naam was Papita. Terwyl Reni haar skilder, bekyk sy nuuskierig alles in die ateljee. Haar oë val op die byna voltooide skilderstuk van Jesus se kruisiging. “Wie is daardie man in die middel?” vra sy. “Dis Jesus,” antwoord Reni kortaf. “Wat maak hulle met hom?” “Hulle kruisig hom.” “Wie is dan al die mense met die lelike gesigte so om hom?” “Kyk hier,” sê Reni ergerlik, “ek kan nie met jou praat as ek jou skilder nie. Stil nou.” Vir die res van die sessie kyk sy net, maar sê nie weer ’n woord nie. Met haar volgende poseersessie, was sy reg met ’n klomp vrae. “Hoekom kruisig hulle hom? Was hy sleg?” “Nee,” kortaf van Reni af. “Hoekom doen hulle dit dan as hy nie sleg was nie?” “Kyk hier,” skree Reni op haar. “Ek gaan vir jou die hele storie vertel, maar dan bly jy stil dat ek met my werk kan aangaan.” Met groot oë luister Papita na die verhaal van Jesus se kruisiging – vir haar ’n aangrypende, nuwe verhaal. Die kunstenaar se hart word lankal nie meer deur die verhaal geraak nie. Bang vir Reni praat sy nie weer oor Jesus se kruisiging nie, maar toe haar skildery klaar is en sy haar geld ontvang en omdraai om te loop, kyk sy ’n laaste keer lank na die toneel van Jesus, soos Hy gelyk het na die soldate Hom “gegésel, geklap en met dorings gekroon het (Joh.19:1-5).” en Papita sê, met groot gevoel, omdat dit met verlange diep uit haar hart kom: “Meneer, jy het Hom seker baie lief, omdat Hy dit alles vir jou gedoen het.” Die kunstenaar het niks geantwoord nie, maar hy kon haar woorde nie vergeet nie: Hy het dit alles vir jou gedoen. Die saadjie was gesaai. Hy het kerk toe gegaan en (as Roomse Katoliek) skuldbelydenis gaan doen. Dit het hom beter laat voel. Tog kon hy nie vrede vir sy hart kry nie. Papita se vraag kom aanhoudend na hom toe terug: Jy moet hom seker baie liefhê. Hy kon nie meer rustig met die skildery van die lydende Jesus voortgaan nie. Een aand gaan luister hy na ’n prostestantse evangelis se preek. Giudo Reni het aandagtig geluister en daardie nag, in sy kamer, vind hy waarna hy gesoek het – vrede met God deur Jesus Christus se kruisdood ook vir hom. Na hy die skildery voltooi het, het hy onderaan dié woorde geskryf: Dit het Ek vir jou gedoen. Wat doen jy vir my?
Die geringe saadjie wat Papita gesaai het, het deur die Heilige Gees in Giudo Reni se hart ontkiem. Jesus het gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos ’n mosterdsaadjie wat…die kleinste van die soorte saad (is), maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit ’n boom, sodat…voëls in sy takke…nes maak” (Mat.13:31,32). Die evangeliesaadjie wat óns saai, kan ook maar klein wees. God gee deur sy Gees die groei. Die ontsaglike boom wat uit Papita se saadjie voortgekom het, bekyk ons in môre se oordenking.
“Here, vandag wil ek ook vir U ‘n saadjie plant.”