Do 28 Mei: 'n Klein Saadjie

Lees Galásiërs 2:17 – 21

“…die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê” (20).

Die beroemde 16de eeuse skilder, Guido Reni, was besig om sy latere, wêreldberoemde skil­de­ry, Ecce Homo – Dít is die Mens – te skilder. Die benaming kom uit Johannes 19:5: “Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: ‘Dít is die mens!’” Hierdie toneel skiler hy. Eendag sien Re­ni ’n jong sigeunerin, baie mooi, met lang swart hare en fonkelende oë, langs die pad sit en mand­jies vleg. Haar ver­­weer­­de rok verraai haar ar­moe­de. Toe sy sien hoe die vreemdeling haar bekyk, spring sy op, klap haar vingers bokant haar kop en dans vir hom, hopende op ’n fooitjie. “Staan net so stil,” roep hy en vinnig maak hy ’n skets van die dan­­sen­de mei­sie. Hy sê vir haar hy wil haar as ’n Spaan­se dan­se­res skilder. Daarna kom sy drie keer ’n week na sy ateljee toe om vir die skil­der­stuk te po­seer. Haar naam was Papita. Ter­wyl Reni haar skil­der, bekyk sy nuus­kierig alles in die atel­jee. Haar oë val op die byna vol­tooi­de skil­der­stuk van Jesus se kruisiging. “Wie is daardie man in die middel?” vra sy. “Dis Jesus,” antwoord Reni kort­af. “Wat maak hulle met hom?” “Hulle kruisig hom.” “Wie is dan al die mense met die lelike ge­sig­te so om hom?” “Kyk hier,” sê Reni ergerlik, “ek kan nie met jou praat as ek jou skilder nie. Stil nou.” Vir die res van die ses­sie kyk sy net, maar sê nie weer ’n woord nie. Met haar volgende po­seer­ses­sie, was sy reg met ’n klomp vrae. “Hoe­kom krui­sig hulle hom? Was hy sleg?” “Nee,” kortaf van Reni af. “Hoekom doen hulle dit dan as hy nie sleg was nie?” “Kyk hier,” skree Reni op haar. “Ek gaan vir jou die hele storie vertel, maar dan bly jy stil dat ek met my werk kan aangaan.” Met groot oë luister Papita na die ver­haal van Jesus se krui­sig­ing – vir haar ’n aan­gry­pende, nu­we verhaal. Die kunste­naar se hart word lankal nie meer deur die verhaal ge­raak nie. Bang vir Reni praat sy nie weer oor Je­sus se kruisiging nie, maar toe haar skildery klaar is en sy haar geld ontvang en omdraai om te loop, kyk sy ’n laaste keer lank na die toneel van Jesus, soos Hy gelyk het na die soldate Hom “ge­gésel, geklap en met dorings gekroon het (Joh.19:1-5).” en Papita sê, met groot gevoel, omdat dit met ver­lange diep uit haar hart kom: “Meneer, jy het Hom seker baie lief, omdat Hy dit alles vir jou ge­doen het.” Die kun­ste­naar het niks geantwoord nie, maar hy kon haar woor­de nie vergeet nie: Hy het dit al­les vir jou ge­doen. Die saadjie was gesaai. Hy het kerk toe gegaan en (as Roomse Katoliek) skuld­be­ly­denis gaan doen. Dit het hom be­­ter laat voel. Tog kon hy nie vrede vir sy hart kry nie. Pa­pi­ta se vraag kom aanhoudend na hom toe terug: Jy moet hom seker baie liefhê. Hy kon nie meer rustig met die skildery van die ly­den­de Jesus voortgaan nie. Een aand gaan luister hy na ’n prostestantse evangelis se preek. Giudo Reni het aandagtig geluis­ter en daar­die nag, in sy kamer, vind hy waarna hy ge­soek het – vrede met God deur Jesus Chris­tus se kruisdood ook vir hom. Na hy die skildery vol­tooi het, het hy onderaan dié woorde geskryf: Dit het Ek vir jou gedoen. Wat doen jy vir my?

Die geringe saadjie wat Papita gesaai het, het deur die Heilige Gees in Giudo Reni se hart ont­kiem. Jesus het gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos ’n mosterdsaadjie wat…die kleinste van die soorte saad (is), maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit ’n boom, sodat…voëls in sy takke…nes maak” (Mat.13:31,32). Die evangeliesaadjie wat óns saai, kan ook maar klein wees. God gee deur sy Gees die groei. Die ontsaglike boom wat uit Papita se saadjie voort­gekom het, bekyk ons in môre se oordenking.

“Here, vandag wil ek ook vir U ‘n saadjie plant.”