Lees Johannes 15:1 – 7.
“Wie in My bly en Ek in Hom dra baie vrug…my Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is” (5,7).
Kapt. James Haldane was ’n jong, vloekende vlootoffisier, aan boord van die Melville Castle. ’n Jong matroos, onder sy bevel, was ’n Christen. Hierdie jongman, het deur die voorbeeld van sy gedrag en blymoedige houding, en sy openhartige getuienis, sy kaptein vir die Here gewen. Kapt. Haldane het sy loopbaan in die vloot laat vaar en vir byna ’n halfeeu, ’n verkondiger van die evangelie geword. Hy het die naam van die jong matroos vergeet. Baie mense het onder James Haldane se bediening tot bekering gekom, onder andere sy broer Robert. Die Here het Robert gebruik om Felix Neff, die Switserse protestante leier, vir die Here te wen, sowel as Merle D’Aubigne, die beroemde historikus van die Hervorming, en die welsprekende prediker, Frederick Monod.
Hierdie vier manne, en mense wat weer deur hulle die Here gevind het, sal vir die jong matroos wat sy kaptein na die Here gelei het, en wie se naam op aarde nie bekend is nie, tot ’n blydskap en roem wees op die dag wanneer die boeke oopgemaak word en elkeen ontvang na wat hy vir die Here gedoen het. “Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad” (2 Kor.5:10). Ons ken die lied wat ons waarsku en aanmoedig om tot die Here se diens te wees:
Moet ek gaan met leë hande, moet ek so my Heer ontmoet?
Nie een dag aan Hom gewy nie, niks te offer aan sy voet?
Daar`s g`n vrees vir doodse bande, want my Heiland is getrou;
Maar te gaan met leë hande baar my bittere berou
”Here, vandag wil ek vir U ’n gewillige werktuig wees, en ander vir U bereik”.