Lees Lukas 13:6-9
“Maar die tuinier antwoord: ‘Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom…bemes. Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra” (8,9).
Alex Allen vertel van 19-jarige Robert wat in sy tronkbybelklas tot bekering gekom het. Na sy ontslag, het Allen hom, by sy huis besoek. Ek haal Allen se eie woorde aan, om die krag van die nuwe lewensenergie wat bekering in ‘n mens se lewe bring, uit te beeld: “The area in which this Christian young man of nineteen lived with his wife was one of indescribable squalor and filth, but his own home was showing signs of practical Christianity in the removal of some of the layers of filth that had accumulated over years. Robert had started moving around among his neighbours telling them of the Saviour he had found in prison”.
‘n Jongvrou, wat Robert met sy ywerige getuienis vir die Here in sy omgewing, bereik het, wou met Alex Allen praat. Robert het ‘n ontmoeting gereël. “She told me a fascinating story”, skryf Allen oor die onderhoud. Sy was 28 jaar oud. Haar man was in die tronk en sy moes alleen haar drie kinders versorg. Sy was self ‘n dwelmverslaafde. Sy het vir Allen die merke van die spuitnaalde op haar arms gewys. Sy was reeds 12 jaar aan dwelms verslaaf. Een namiddag besluit sy sy gaan die kinders vroeg in die bed sit en dan ‘n oordosis pille drink. Haar lewe het vir haar ondraaglik geraak. Net na sy die kinders in die bed gesit het, klop Robert aan haar deur. Hy vertel haar van die verandering in sy lewe, vandat Christus in sy lewe gekom het. Hy het vir haar ‘n stelletjie Bybellesings saamgebring en hy oorreed haar om dit deur te werk. Sy besluit om haar selfmoordplan vir ‘n uur of twee uit te stel en eers die lesings deur te kyk. Wat sy daarin lees, gryp haar aan, want dit hou vir haar die moontlikheid van ‘n nuwe lewe en nuwe hoop in. Alex Allen sê dit was vir hom ‘n vreugdevolle belewenis om hierdie verlore vrou na Christus te lei, en voeg by, “…and it is an added joy to know that she goes on well after five years, with the drug habit completely broken”.
Die vrug van die jong Robert se werk in sy ongure buurt word verder beklemtoon deur ‘n berig in die Church of the Nazarene se tydskrif waarin die omgewing uitdruklik vermeld word: “Over the past year the church at …has increased its membership by fifteen, all of these directly due to the witness of a young man who returned from prison, having found the Saviour there.” Paulus beskryf die krag van die nuwe lewe wat uit die jongman, Robert, se lewe gevloei het in 2 Korintiërs 5:17: “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit is alles die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou…dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van die versoening het Hy aan ons toevertrou.” Satan wil verwoes en doodmaak. Dit is die doel van sonde. Christus wil red en lewe gee. Dit is die doel van die evangelie.
“Here, vandag wil ek ook vir u ‘n kanaal wees waardeur u nuwe lewe na ander toe kan vloei.”