“Dit verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (3).
’n Gesiene sakeman, Robert Brown, vertel The Christian Railroader, was ’n goeie man, godsdienstig en altyd gereed om ’n ander te help. Uitgeput deur talle sakeverpligtinge, gaan hy en sy vrou vakansiehou in Skotland. Hulle kry in ’n plattelandse herberg huisvesting. Tevrede met hulle verblyfplek, begin hulle die omgewing verken.
Robert is alleen toe hy op ’n ou en verwaarloosde kerkhof afkom. Hy lees die grafskrifte. Die eienaardige, ouderwetse Skotse uitdrukkings op die grafstene boei hom. Hy kom op ’n plat grafsteen af wat met klimopranke half toegegroei is. Hy trek die ranke weg om die grafsteen se opskrif te lees. Hy skrik. Sy eie naam staan op die grafsteen, en hierdie Robert was feitlik net so oud as wat hy nou is, toe hy dood is. Robert was nie bygelowig nie, maar die voorval ontstel hom. Waar sou hy nou gewees het, as dit regtig sy graf was? Is hy gereed om te sterf? Jesus se gesprek met Nikodemus kom in sy gedagte. Jesus het vir Nikodemus gesê, hy sal nooit in die hemelse koninkryk kom, as hy nie weergebore word nie. Toe Nikodemus vra hoe ’n mens weergebore word, was Jesus se antwoord: “Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees” (Joh.3:6). Robert raak so rusteloos, dat hy en sy vrou hulle vakansie kortknip.
Tuis soek Robbert God se redding, maar hy kan nie vrede in sy hart kry nie. Radeloos en soekende na die weg van redding, lees hy die Bybel. Hy lees Saggeus se verhaal in Lukas 19. Jesus se woorde tref hom: “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (Luk.19:10). Hy lees ook Romeine 5:8: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” Dit bring Johannes 3:16 in sy gedagte: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”
Dit dring tot hom deur: Hy is verlore! Op grond van menslike beoordeling is hy nie goddeloos nie, inteendeel, hy is goed en godsdienstig, maar op grond van God se oordeel is hy ’n sondaar en verlore. Die Heilige Gees het hom oortuig, en hy bely in gebed aan God: “Ek is ’n sondaar en ek is verlore, Here, ek vertrou in Jesus Christus, wat vir my sondes gesterf het, en ek glo u vergewe my en neem my aan.” Vrede kom in sy hart. Hy rus op God se belofte: “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood” (Rom.8:1,2).
In later jare het hy dikwels na sy ondervinding in die kerkhof verwys en dit as ’n geleentheid gebruik om te getuig en aan ander die weg van saligheid aan te dui.
“Here, vandag soek ek u redding.”