Di 12 Mei: God het geweet en gesorg

Lees Genesis 22: 1 – 14

“Abraham…sien agter hom ’n skaapram wat aan sy ho­rings in ’n bos vasgevang is. Hy het die ram gaan vat en hom in die plek van sy seun…geoffer. Toe noem hy die plek: ‘Die Here voorsien.’ Daar word nou nog gesê: ‘Op die berg van die Here word voorsien.’” (13,14)

In The Pilgrim van Desember 1976, vertel S. Nathan dat die sendeling, An­gus Brower, wat diep in die Kon­go­­woud sendingwerk gedoen het, deur van gram­mo­foon­plate, met die evangelie in die inboorlingstam se taal, gebruik gemaak het. Dit was natuurlik in die tyd voor die gerief van kassetbande. Toe raak sy gram­mo­foon­naal­de op. Hy het in die destydse Leopoldville en ander be­reik­bare win­kels vergeefs na grammo­foon­naalde ge­soek. Toe Kerstyd nader kom, het Nathan in Enge­land gereël dat ’n alge­me­ne win­kel vier pakke met droë­­vrugte na vier ad­res­se in die Kongo (nou Zaïre), moes stuur. Een van die pak­ke het by ’n sendinghos­pi­taal beland. Mej. Forrel, die se­kretaresse van die hos­pi­taal, het dit ontvang en oop­ge­maak. Net daar­­na kom Angus Brower daar aan. Sy eerste be­soek in sewe jaar aan die hospitaal. Sy nooi die sen­de­ling om vir hom van die droëvrugte uit die pak uit te haal. Net toe hy die pakkie droë­vrug­te uit die houer uit­lig, roep hy in verbasing uit: “Loof God!” Die bodem van die houer lê vol gram­mo­foonnaalde, wat blykbaar in die winkel, sonder dat iemand dit opgemerk het, in die houer uitgeval het. “Ek het so gebid vir grammofoonnaalde,” ver­dui­delik hy aan die verbaasde mej. Forrel.

Soos met Abraham weet God van sy kinders se behoeftes en Hy voorsien op sy eie wonderlike ma­nier vir hulle. Die geheim is egter: dit gebeur met die Christen wat in die wil van God beweeg. Abra­ham het in gehoorsaamheid aan God sy seun gaan offer, en op daardie plek van gehoorsaam­heid, het die Here in sy behoefte voorsien. Weg van God af, op ’n weg van ongehoorsaamheid, sal dit nie gebeur nie, tensy die persoon tot stilstand kom en na God toe omdraai. Elkeen wat weet hy bevind hom op die berg van die Here, die plek van gehoorsaamheid aan God, kan vertrou in God se presiese, tydige voorsiening.

“Here, vandag wil ek in u wil wandel en gerus wees.”