Lees Handelinge 7:54-60
“Kyk,” het Stefanus gesê, “ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan” (56).
Die Victoriakruis vir dapperheid is in 1857 die eerste keer deur koningin Victoria self in Hyde-park, Londen, toegeken. Die King’s Business haal ’n insident in dié geskiedkundige gebeurtenis aan. Een van die leër se veterane, gruwelik in ’n geveg vermink, het na die koningin toe opgestap, of liewer opgesukkel, om sy medalje te ontvang. Die koningin kyk na hom, gooi die medalje neer, draai haar rug op hom, bedek haar gesig met haar hande en gaan bitterlik aan die huil. Die verminkte man bly heel tyd doodstil staan. Uiteindelik kom die koningin tot bedaring, vee haar oë met haar sakdoek droog en speld die medalje teen die man se bors vas. Sy sê vir hom ’n paar woorde. Hy antwoord met ’n stralende gesig: “God bless Your Majesty; we’d bear it all again for Queen and country.” Hieroor maak King’s Business die opmerking: “It was not the medal itself that brought joy to the soldier’s heart, but the fact that his service for the Empire was recognized at the hand of his sovereign.”
Die Bybel beloof beloning, bo die gawe van die ewige lewe, aan almal wat in die Here se koninkryk gewerk het: “…elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word …as iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word; as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word…” (1 Kor.3:13-15). Ons word uit genade gered, soos die moordenaar aan die kruis, maar ons werk vir die Here word beloon. Ons sal ons loon uit die Here se hand ontvang. Petrus beskryf die loon as ’n kroon van heerlikheid: “…wanneer die Opperherder kom, sal julle die heerlikheid as onverganklike kroon ontvang” (1 Pet.5:2,4). Die beloning gaan wonderlik wees, maar dat ons die Here se eie erkenning sal ontvang, maak dit heerlik. Stefanus het by sy steniging uitgeroep: “…ek sien…die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan”. Watter prys is te hoog vir ons as ons dink aan die wonder om uit Jesus se deurboorde hand ’n kroon te ontvang!
“Here, vandag wil ek U voluit vir my kroon dien.”