“Sorg dat jy nie die Here jou God vergeet…nie. As jy nie gehoorsaam is nie, kan dit gebeur dat jy genoeg eet en mooi huise bou en rustig woon…dat jou silwer en goud vermeerder en jou besittings al hoe meer word, en dat jy dan hoogmoedig word, en die Here jou God vergeet wat jou…bevry het…” (11-14).
“Soms dink ek ek is nie ’n Christen nie,” sê ’n jong seun vir sy dominee, met wie hy oor sy persoonlike geestelike lewe gaan praat het, vertel Bible Expositor and Illuminator. Dis of ek nie dieselfde geesdrif vir die Here se dinge het as vroeër toe ek lidmaat van die kerk geword het nie. Dis nie vir my maklik om aan God te dink en Hom te onthou nie.” Die dominee bid vir wysheid, want hy weet die seun het met sy belydenisaflegging sy hart vir die Here gegee. Hy antwoord met ’n vraag: “Hoe was dit die tyd toe jou pa so lank van die huis af was. Was dit vir jou swaar om hom te onthou?” ”Nee, glad nie,” antwoord die seun dadelik. ”Ons het elke week ’n brief van hom af gehad en ons het vir hom geskryf, en een keer ’n week het ons mekaar gebel, en ons het omtrent gedurig van hom gepraat. Daar was nie ’n kans dat ons hom kon vergeet nie!” ”Veronderstel julle het nie van hom briewe gehad of vir hom geskryf nie, of julle het mekaar nie gebel nie en julle het nooit oor hom gepraat nie, sou jy hom dan dalk vergeet het?” Die seun begin verstaan waarop die dominee afstuur. “Dan het ons hom dalk makliker vergeet,” sê hy met ’n glimlag. “Ek sien jy verstaan klaar wat ek vir jou wil sê,” sê die dominee ook nou met ’n glimlag. “Ja, dit is hoe dit met ons en God ook werk. Ons sien Hom nie en ons het niks om ons aan Hom te herinner nie. As ons nie sy Woord daagliks lees, en daagliks bid en met ander gelowiges gedurig oor Hom praat nie, kan mens Hom maklik vergeet.”
Soms gebruik die Here beproewing om ons aan Hom te herinner. Voorspoed is ’n sterk verdowing van ons bewussyn van God. Dit is wat met Salomo gebeur het (1 Konings 11). Sy afhanklikheid van God aan die begin en sy toewyding om die tempel vir God te bou, het sy gedagtes geboei en die Here het groot plek in sy lewe gehad. Hy het God se dinge verkondig, selfs twee Bybelboeke geskryf. Maar sy voorspoed en die ander volke en konings se vriendskap en bewondering, het hom van God af weggetrek. En veral het sy heidense vrouens, ’n duisend van hulle, wat elkeen ’n eie god gedien het, kort voor lank Salomo van sy God laat vergeet en hy is ’n afgodsdienaar dood. “Veral in sy ouderdom het Salomo se vrouens hom verlei om ander gode te dien…hy het nie getrou gebly aan die Here soos Dawid, sy pa, nie” (1 Kon.11:3-8).
“Here, vandag wil ek my aandag stip op U konsentreer.””