“…omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie” (9).
Die Amerikaanse prediker, D. L. Moody, was ‘n verbeelding- en kleurryke prediker. Eenkeer preek hy oor Jesus se opdrag aan die dissipels, om die boodskap van sy kruisdood en opstanding, die wêreld deur te verkondig, sodat mense gered kan word: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels…” (Mat.28:19). Moody vertel hoe Petrus teëstribbel: “Here, maar geld dit ook vir die mense wat U so wreed gekruisig het? Daardie soldaat wat die doringkroon gevleg en op u kop geplak het – moet ons vir hóm ook gaan sê?” “Ja,” antwoord Jesus, “gaan sê ook vir hóm en sê vir hom, as hy na My toe kom, sal ek vir hom in my koninkryk ‘n kroon van heerlikheid gee.” “…dan…sal julle die heerlikheid as onverganklike kroon ontvang” (1 Pet.5:4). “En Here,” maak Thomas beswaar, “daardie een wat so spottend die pers mantel om U gegooi het, en kastig voor U gebuig het – moet ons vir hóm ook gaan sê?” “Ja,” antwoord Jesus, “en gaan sê vir Hom, as hy na My toe kom, sal ek die wit kleed van verlossing ook om hóm hang en hom plek in my ewige hemelwoning gee. “…ek het ‘n groot menigte gesien…hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon… gestaan. Hulle het wit klere aangehad.” Johannes maak keelskoon. “Here, en dáárdie een wat met die spies deur u sy in u hart in gesteek het – moet ons vir hóm sê?” “Ja,” antwoord Jesus, “en sê vir hom daar is ‘n náder weg na my hart toe as om My met ‘n spies te deurboor.” “…Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie” (Joh.6:37). Sou daardie manne Jesus se groot liefde en vergifnis vir húlle verstaan, dit waardeer, dit aanneem?
Dan peins Moody oor Jesus se plek in óns harte, want die wêreld het Hom nie ontvang nie: “Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. Hy wás in die wêreld…en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie” (Joh.1:10,11). Toe Hy gebore is was Hy nie welkom nie: “En sy het…Hom in die krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie” (Luk.2:7). Hy het as Redder na ‘n wêreld toe gekom wat Hom nie wou hê nie, Hom verwerp het, Hom gekruisig het. Moody vra: “As Christus na die aarde toe sou terugkom, is daar ‘n volk wat Hom nou sou verdra? Is daar ‘n stad in die wéreld wat nou vir Hom sou stem? Hoe het die aanbieding van die goeie nuus van redding al in óns harte gevaar?
“Here, vandag is U in my hart Here en Koning.”