“’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom” (4)
’n Vrou wat erg aan senuweespanning gely het, het die wêreldberoemde dr. Howard A. Kelly besoek. Die lewensdruk het ’n tol geëis, fisies en selfs verstandelik. Sy het hom van al haar simptome vertel en hy het haar deeglik ondersoek. Sy voorskrif het haar verbaas. “Wat jy nodig het, Mevrou,“ sê hy, “is dat jy die Bybel meer sal lees.” “Maar, Dokter….” begin die verwarde vrou teëpraat. Met simpatieke gesag herhaal hy: “Gaan huis toe en lees vir ’n maand lank jou Bybel ’n uur elke dag, en kom dan terug na my toe.” Eers wou sy haar vererg. Sy besef toe egter, met ’n steek van haar gewete, sy hét die afgelope tyd die lees van die Here se woord totaal verwaarloos. By haar huis gaan sy bid en bely haar versuim van die lees van die Here se woord, en haar gebedsomgang met God. Met haar terugkeer na die Here toe, en haar daaglikse Bybellees en bid, keer die vreugde van haar vorige geloofsverhouding met die Here terug. Toe sy ’n maand later na dr. Kelly toe teruggaan sê hy dadelik: “Wel, ek sien jy was ’n gehoorsame pasiënt. Voel jy steeds dat jy medikasie nodig het?” “Nee, Dokter,” antwoord sy, “ek voel ’n nuwe mens. Maar hoe het u geweet ek het dít nodig?” Hy tel sy eie verslete en goedgemerkte Bybel op. Hy sê: “As ek my daagliks Bybellees verwaarloos, verloor ek nie net my vreugde nie, maar ook my bron vir krag en bekwaamheid….” Hy gaan voort, in sy eie woorde: “Your case called not for medicine, but for a source of peace and strength ouside your own mind. My prescription, when tried, works wonders!”
Die Heilige Gees maak die Bybelwoorde wat ons lees en verstaan vir ons voedsel, water, lig, krag, medisyne. “…wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak (Trooster – Ou Vert.), die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh.14:26).
“Here, vandag lees en oordink ek U Woord.”