Wo 20 Mei: Blywende Uitstraling

Lees Filippense 2: 12 – 18

”Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra” (15,16).

In Sunday School Chronicle verskyn ’n kort be­spre­king van radium se werking. As ’n mikro­sko­piese krum­el ra­dium dopgehou word, sal ge­sien word hoe ’n on­ophou­de­li­ke stroom vonke uitgestuur word. Hierdie von­ke gee lig en hitte af, maar die korrel ra­dium ver­loor niks van sy eie energie nie. Soos die brandende do­ringbos in Moses se ge­skiedenis, is dit ’n wonderwerk. Dit bly onveranderd al stuur dit vir altyd chemiese en elek­trie­se energie uit. As dit in yskoue vloeibare lug of waterstof geplaas word, hou dit net aan hit­te en lig uitstraal en word nie deur die hef­tigste koue atmosfere gedemp nie. Die skrywer merk op: “Such ought to be the Christian life – living because Christ lives, a manifestation of the life and light of Christ.”

Die Heilige Gees gee in die hart ’n geestelike le­wens­­energie wat warmte en lig versprei, ongeag in wat­ter ne­ga­­tiewe atmosfeer dit plaasvind. Dit het die Chris­tene on­der vervolging krag gegee om in die aangesig van die dood hul getuienis te gee. Dit gee ook die Christen krag om in onvriendelike omstandighede van die werksplek of woon­omgewing Christus se Naam bekend te maak en sy le­wensbeeld uit te dra. “Vroeër was julle die ene duister­nis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is. Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aan­neemlik is, en moenie meedoen aan die die vrugte­lose praktyke van die duisernis nie, maar stel dit eerder aan die kaak” (Ef.5:8-11).

“Here, vandag wil ek deur u krag warmte en lig versprei.”