Ma 11 Mei: Merkwaardige Insidente

Lees Lukas 19: 1 – 9
“Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuisgaan…Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (5,10).

Die plekke en maniere waarop die Here Jesus Christus mense ontmoet, roep en red, is merkwaardig. Hy roep Saggeus wat in ’n boom sit, die vrou van Sigar by ’n put (Joh.4), Matteus wat agter sy toonbank in sy tolhuis sit (Luk.5). So gebeur dit ook in ons dag. Deur die evangeliewoord werk die Heilige Gees in iemand se hart en hy/sy kom tot bekering.

Een so ’n persoon was die president van die kommunistiese Scottish Worker’s Republican Party, in Glasgow, Skotland, Keir Hardy. Oor homself skryf hy in ’n blaadjie van die M.P.Tract Society: “I held, with enthusiasm, the sentiments of the doubter and agnostic, and eventually discarded completely the idea of a God, and poured scorn upon Him and His Christ from platforms thoughout Britain.” Eendag woon hy die begrafnis van ’n jong meisie by. Om die graf sing die familie en vriende die aangrypende lied: “Veilig in Jesus arme, sag aan sy bors gesus, daar in sy liefdeskadu vind ook my siel eens rus!” Dáár praat God met hom, skryf hy: “My cold, logical mind was melted in the divine gulfstream of His love, and an actual revolution took place in my soul. The pleading of a Risen Christ was irresistable.” Nou het hy ’n vurige getuie vir Christus geword. Die Skotse koerante het die storie van die bekende kommunis se bekering tot Christus wyd en syd verkondig. Na ’n jaar se bedrywige evangeliese werk, word hy aangestel as sendeling van die Skotse Sending. As hy gaan preek, neem hy ‘n draagbare orrel saam. Op ’n dag vra hy ’n werksman by ’n werkerskamp om sy orrel te help dra, na ’n ander preekplek, ’n myl of wat daarvandaan. Die man weier, maar wys grappenderwyse na sy maat, ’n endjie verder. Keir Hardy herken hóm as een van die leiers van ’n tak van die werkersunie wat hy ook vroeër besoek het. Tot sy verbasing is die man gewillig om die orrel te help dra, maar hy waarsku Hardy, hy sal beslis nie die diens bywoon nie. Aangekom by die preekplek moet Hardy uitvind, daar is nie vir ’n orrelis gereël nie. Hy weet egter die man wat hom die orrel help dra het, is ’n bekwame pianis. Tot sy verbasing is die man gewillig om die orrel tydens die diens te bespeel. Sy preek is dié middag oor Johannes 3:16: “God het die wêreld so lief gehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” Hy sluit sy vertelling af: “After the service I had the joy of leading my former comrade to Christ.”

“Here, vandag weet ek dat U my wonderbaar geroep het.”