Lees 2 Korintiërs 4: 1 – 6
“God wat gesê het: ‘Laat daar lig skyn uit die duisternis,’ het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal” (6)
In Dictionary of Illustrations vertel Walter Baxendale dat dr. Simpson, wat in 1862 die gebruik van chloroform ontdek het, ’n geliefde seun aan die dood moes afgee. Die jong seun was ’n belydende Christen met ’n blye vetroue in Jesus Christus as sy Verlosser. Die manier waarop sy seun gesterf het, sy geloof en vrede en geduld, het hierdie briljante mediese pionier diep beïndruk. In sy hart het die dokter tot die gevolgtrekking gekom dat blywende gemoedsvrede en ware blydskap slegs in Christus gevind kan word. In die ure van sy sterwe het die jongman getuig dat die vrolikheid van die wêreld verbygaande en onseker is; dat die wêreld se plesier en vermaak slegs, in sy woorde, vergulde droefheid is. Die vrede wat Jesus met sy bloed gekoop het, is so ewig en blywend soos sy troon. Toe hy sterf het die seun gesê: “Hoe heerlik en kosbaar is dit nou vir my om van Jesus te praat.” Die dokter, sy vrou en die ander kinders het rondom die bed gekniel en dr. Simpson het gebid dat hulle huidige beproewing hulle almal net nader na God sal trek: “Ja, dierbare Jesus, Jamie se God sal nou ons God wees en ons wil vir U getuig soos Jamie dit gedoen het.”
Dit is soos ’n lig wat ons hart inskyn wanneer ons die verlossing in Christus ontdek en die waarde en krag van Christus se sterwe en opstanding, deur die Heilige Gees, ons eie ervaring word. Die Here gebruik baie maniere om hierdie lig na ons harte toe te bring. Die luister na ’n evangeliese preek, of ’n evangeliese boodskap wat ons lees, of die evangelie wat iemand aan ons deur getuienis oordra, is die algemene weg waarlangs dit na ons toe kom. “Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié wat glo te red” (1 Kor.1:21). Soms bereik die Here nie op hierdie gewone manier mense se harte nie. Dan gebruik die Here in sy genade ’n ander manier om by hulle uit te kom.
“Here, vandag wil ek luister na u evangeliewoord.”