Do 7 Mei: 'n Lewensbron

Lees Johannes 4: 1 – 26

“Maar Jesus antwoord haar: ‘Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee’” (13).

Die sendeling, dr. Robbert Moffat, en sy helpers was na ’n lang dagskof moeg, honger en dors toe hulle by die inboorlingdorpie aankom. Hulle was in leeuwêreld en wou die nag liewer in die inboor­ling­dor­pie oornag. Die mense van die dorpie het hulle egter met vyandige uitroepe weggejaag. Dr. Moffat het die paar knope wat aan sy baadjie was, aange­bied vir water en melk. Dit is botweg ge­weier. ’n Ge­vaar­like nag van honger en dors het vir hulle voor­gelê. Toe die skemer toesak, sien hulle ie­mand kom van die dorpie se kant af nader. Dit was ’n vrou met ’n drag hout op haar kop en ’n kan melk in haar hand. Sonder ’n woord gooi sy die hout neer en gee die melk vir dr. Moffat. Sy loop te­rug na die dorpie toe. Na ’n rukkie kom sy weer aan. Hier­die keer het sy ’n kookpot op haar kop en in haar hande ’n kan water en ’n stuk vleis. Sy maak vuur en begin die kos voorberei. Hulle praat met haar, maar sy ant­woord nie. Sy deel die kos aan hulle uit. Dr. Moffat praat weer met haar. Hoekom sorg sy vir hulle, terwyl die dorpie se mense so vyandig is. Met geboë hoof antwoord sy: “Ek het Jesus lief en dien Hom. Julle werk vir Hom. Ek moet vir julle sorg. My hart is so vol blydskap dat julle hier is, dat ek nie kan praat nie.” Dr. Moffat is totaal uit die veld ge­slaan. Hier in die donker heidendom brand ’n lig vir Here. Hy vra haar hoe sy dit regkry om so aan te hou om vir die Here te lewe, terwyl almal om haar so kwaai teen Hom is. Sy haal ’n boekie uit. Dit is ’n Hollandse Nuwe Testament wat sy ge­kry het, toe sy jare te vore in ’n sendingskool tot bekering gekom het. “Dít,” antwoord sy, “is die fontein waaruit ek drink; dít is die olie wat my lamp aan die brand hou.”

Soos ons fisiese lewe voeding en water nodig het, het ons geestelike lewe ook voeding nodig. Uit Christus se kruisdood en opstanding het God, deur sy Woord, deur die werk van die Heilige Gees, die geestelike lewe in ons ge­­skenk. Die­selfde Woord, die Skrif, ons Bybel, hou ons gees­te­like lewe lewend, gesond en groei­end. “Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewi­ge woord van God….Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk (van die Woord), sodat julle daar­deur kan opgroei en die saligheid verkry” (1 Pet.1:23 & 2:2). Sonder Bybellees kwyn ons gees­telike lewe.

“Here, vandag wil ek uit u Woord gevoed word.”