Wo 27 Mei: 'n Geskrewe Verklaring

Lees Efesiërs 1: 15 – 23

“Wanneer ek in my gebede aan julle dink, bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus…deur sy Gees…julle geestesoë so verhelder dat jul­le kan weet…watter rykdom…Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo” (16-19).

In Leslie B. Flynn se boek, 19 Gifts of the Spirit, vertel hy hoe die groot prediker, C. H. Spurgeon, ’n bejaarde vrou besoek, waar sy `n enkele kamer, in ’n so­genaam­de Alms House, ’n tehuis vir armlastiges, be­woon. ’n Geraamde, handgeskrewe dokument, met hand­­­te­ke­ning en al, teen die muur, trek sy aandag. Hy vra daar­na. Sy vertel sy het ’n bejaarde man versorg en net voor sy dood het hy die brief van waardering vir haar gegee. Kort daarna is hy dood. Dit was vir haar kos­baar en sy het dit geraam en teen die kamermuur op­­ge­hang. Na baie oor­re­ding laat sy Spur­geon toe om haar kosbare klein­­nood vir ’n paar dae te leen. Spur­geon neem dit bank toe en dit veroorsaak ’n hele op­skud­ding. Die bankbestuurder kom na hom toe en roep uit: ”Dankie! Ons kon net nie uitvind aan wie die ou heer al sy skatte bemaak het nie!” Die vrou in die armetuiste was skatryk, maar omdat sy haar do­ku­ment nie gelees en verstaan het nie, leef sy in armoede.

Ons het ook ’n geskrewe dokument, wat ons rykdom, aan ons beskryf. Ons is erfgename van ’n groot, ewige er­­fenis, met baie huidige voordele, maar ons leef in die ar­moede van spanning en vrees en neerslagtigheid, om­­dat ons ons dokument nie deeglik bestudeer en van ons voor­dele gebruik maak, en ons in ons komende erf­por­sie verbly nie. Ons dokument word Die Bybel ge­noem. God se gawe aan sondaars in Christus Jesus se verlossing word ryklik daarin beskryf. In die Ou Tes­ta­ment staan dit in beeldende en profetiese taal. In die Nu­we Testament word dit duidelik, op die man af, be­skryf: “…die Skrif kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die ge­loof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God geïn­spi­reer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig…vir elke goeie werk” (2 Tim.3:15,16).

“Here, vandag weet ek u Woord is kosbaar.”