Lees Johannes 14: 22 – 31
“Vrede laat Ek julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie” (27)
In sy boek, An Oral History of World War II, vertel Studs Terkel, die storie van ‘n 18-jarige seeman, David Milton, wat aanboord was van ’n handelskip, wat in 1942 Sherman-tenks, na Europa vervoer het. Die skip het eendag, in ’n storm, in die moeilikheid geraak. In die middel van die Atlantiese Oseaan, in die storm, het die swaar tenks, elkeen twintig tot dertig ton gevaartes, losgebreek van die kabel wat hulle aan die skip vasgeanker het. Milton vertel: “As the ship would roll, these tanks would just slide through the hole and bang up against the bulkhead. Then they’d roll the other way, just shaking the ship apart. So we pulled out of the convoy.” Die storm self was nie hulle probleem nie. Die swaar tenks, los binne-in die skip se ruim, was hulle probleem. Nie die hoë branders buite die skip sou die skip laat sink nie, maar die onbeheerbare vrag binne in die skip sou die skip se einde beteken. Die matrose het in die vragruimte afgegaan en met lewensgevaar die tenks weer met die staalkabels aan die skipromp vasgeanker. Studs Terkel se opmerking hieroor is: “We can handle the stresses without only when we are battened down within.”
’n Stormagtige hart, maak dit vir ’n mens onmoontlik, om die lewensbranders, wat van buite af op ons afstorm, die hoof te bied. Hoe kry ons ’n vrede in ons hart wat ons moed gee om teëspoed, lyding en bedreiging te hanteer? Jesus het aan sy dissipels so ’n vrede beloof. Ons deel deur geloof ook in sy vrede. “Daar het nou vrede gekom tussen God en ons…ons is nou nie meer skuldig nie. Dit is Jesus Christus wat hierdie vrede vir ons bewerk het…ons geniet nou die goedheid van God… ons (word) nooit teleurgestel nie, want God het vir ons sy Heilige Gees gegee en die Gees maak ons harte vol van die…liefde wat God vir ons het” (Rom.5:1-5). Bewus van God se vredevolle teenwoordigheid, het ons krag teen die aanslae wat van buite af kom.
“Here, vandag soek ek die vrede van u nabyheid.”