Lees Psalm 139: 1 – 6
“U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom … daar is nog nie ‘n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees… (2,4).”
Toe hy nog ’n seun was, vertel David Morgan in sy boek Stories, Illustrations and Quotes, het sy ouers hom na die skou, Tennessee Valley Fair, geneem. Wat hom en sy ouers die meeste beïndruk het, was ’n uitstalling van byekorwe vol bye. Die korwe was almal van glas en dus heeltemaal deursigtig. Hulle kon die duisende bye se bedrywigheid duidelik in die deursigtige korwe bekyk. Die uitstaller wys vir hulle die koningin, die werkers in die byekoeke, die wagte, die waterdraers, almal baie besig en hulle weet nie die mense hou hulle dop nie. “In the same way, our heads are like glass hives, and God sees every hustling, bustling thouht buzzing through our brains,” sê hy.
Ons ken mense aan wat hulle sê en doen. Gelukkig is ons gedagtewêreld vir mekaar geslote. Maar die Here ken ons gedagtes deur en deur. Vir Dawid was dit nie ’n skok dat die Here sy gedagtes ken nie, inteendeel, hy vra die Here moet nog dieper kyk en sy hart ken. “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my… kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad.” Ons sondige, menslike aard, vind aansluiting by versoeking, wat die gedagtes opwek. Ons moet, toegewy aan die Here, ons gedagtelewe van hierdie indringers skoonhou. Slegte gedagtes loop uit op sondige woorde en dade.
“Here, vandag wil ek waak oor my gedagtelewe en dit onder u toesig plaas. Ken my hart, Here!”