Lees 1 Thessalonisense 1: 1 – 10
“…julle (het) die die woord aangeneem met ’n blydskap wat van die Heilige Gees
kom…so het julle ’n voorbeeld geword vir al die gelowiges…Van julle af is die
woord van die Here verkondig…” (7,8).
In Emergy Post vertel iemand van ’n blommesaadwinkeltjie naby haar kollege in
Cambridge. Sy het menigmaal by die winkel se vensters verby gestap sonder om
haar te steur aan die uitstalling van blomsade en blombolle. Na een Kersvakansie
keer sy terug en vir die eerste keer steek sy vas by die winkel se vensters. In
die een venster is ’n oorvloed van blomme uitgestal: hiasinte, tulpe en nog
meer. In die ander venster is die gewone uitstalling van saad en bolle.
Voorheen het die kleurlose uitstalling van saad en blombolle haar nie in die
minster geïnteresseer nie. Toe sy egter die kleurlose bolle se kleurvolle produk
van blomme in die ander venster sien, besluit sy dadelik om uit haar plat
beursie geld te neem en vir haar tulpebolle te koop. In haar verbeelding kan sy
sien hoe haar woonplek gaan lyk as die tulpe blom. Aan die einde van haar
vertelling maak sy hierdie toepassing: The world is not interested in the Bible.
But let the world begin to see fruit in the lives of those who profess to be in
Christ Jesus; let the world begin to see beauties hither-to hidden and realise the
sweet savour of Jesus Christ, and I doubt not that men and women will begin to ask
for the way of salvation. The strongest argument for Jesus Christ today is a
convincing SPIRITUAL life!
So ’n aangename en kleurvolle Christenlewe is nie net die produk van stipte
navolging van Christelike reëls en beginsels, soos dit in die Bybel geskryf
staan en predikante van ons verwag nie. Met ons aangebore sondige natuur kry ons
dit nie reg nie. Dit is die produk van Christus se eie lewe in ons, deur die werk
van die Heilige Gees. “Julle moet in My bly en Ek in julle. ’n Loot kan nie sy
eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en julle ook nie as julle
nie in My bly nie. Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en ek in
hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie” (Joh.15:4,5).
“Here, vandag bly ek naby U om U bekend te maak.”