Lees Eksodus 12: 21 – 23
“As die Here verbykom om die Egiptenaars te tref, sal Hy die bloed aan die bokant en die sykante van die deurkosyn sien en dié deur oorslaan”(23).
Gedurende ’n wrede en bloedige oorlog, het die aanvoerder van ’n regiment troepe, voor sy manne ’n eed geneem, om al die inwoners, van ‘n bepaalde dorp, wat hom probeer dwarsboom het, dood te maak. Hy het sy bloeddronk soldate op die dorp losgelaat, Hulle het straat op en straat af beweeg, mense uit hul huise gesleep en voor die voet, mans, vrouens en kinders doodgemaak. Een van die dorp se inwoners het, in sy poging om vir die soldate weg te kruip, ’n voorval gesien wat hom en ’n aantal van sy vriende van ‘n gewisse dood gered het. Hy het gesien hoe die soldate bloed gooi, teen die deur van elke huis, waar hulle hulle doodslag gelewer het. Soldate wat dan verbykom het so ’n deur eenvoudig verbygegaan, wetende daardie huis se mense is reeds doodgemaak. So vinnig as wat hy kon, hardloop hy na ’n groot huis, waar ’n aantal van sy vriende reeds skuil. Uitasem vertel hy hulle wat hy gesien het. In die agterplaas was ’n klein bokkampie. Gou slag hulle een van die bokke en gooi die bloed teen die deur…en wag. Nie lank nie of ’n afdeling soldate storm die straat in, versprei op en af met die straat, en van huis tot huis sleep hulle die inwoners uit en maak hulle dood. By hierdie deur, met die bloedmerke op, hardloop hulle verby sonder om te talm. Van hulle makkers was reeds hier, dink hulle en storm verby.
Dit is wat met die Paasnag in Egipte gebeur het. Die paaslam se bloed, aan die deurkosyn, het die boodskap uitgespel: Die dood was reeds in hierdie huis. Dit was ’n geldige boodskap wat deur die doosengel eerbiedig is, want God het dit ingestel. Die doodsengel het so ’n huis dan oorgeslaan. Die Engelse benaming van hierdie geskiedkundige nag is: The Passover (pass over). Die huis is oorgeslaan.
Hierdie menslike verhaal, laat ons die gebeure van die Paasnag en die evangelieboodskap, duideliker verstaan. Jesus het ons met sy bloed van die gewisse oordeelsdood vrygekoop. In die geval van die dorpie se inwoners was dit ’n stukkie misleiding – goeie misleiding – die bok was nie regtig een van hulle nie. Maar in die geval van die paaslam die nag in Egipte, was dit nie misleiding nie. God het bepaal dat die lam die plek van die eersgeborene ingeneem het, want die ware Lam van God, sou kom en regtig ons plek inneem en vir ons sterf. “Ons paaslam is immers geslag: dit is Christus” (1Kor.5:7). Die nag van die eerste nagmaal, net voor Jesus gekruisig is, toe Hy en sy dissipels die Paasmaaltyd gehou het, het Hy dit duidelik gemaak. Hy neem die plek van die lam, wat met Paasfees geslag is, in. “Toe neem Hy die beker en…sê vir hulle: ‘Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word’” (Markus 14:24). Johannes die Doper het dit ook so verkondig: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh.1:29).Elkeen wat weet: deur my geloof in Christus is my lewe ook, soos die huise in Egipte, met God se Paaslam se bloed bestryk, kan ook met gerustheid weet: ek is veilig teen die sonde se ewige dood. God se oordeel sal my oorslaan!
“Here, ek eien my vandag die ewige veiligheid toe wat die bloed van die Here Jesus aan my gee.”