Lees Handelinge 9: 26-31
“Barnabas… het…Saulus…na die apostels toe gebring. Hy het vir hulle vertel hoe Saulus…in Damaskus openlik in die Naam van Jesus gepreek het. Saulus het toe oral in Jerusalem… rondgegaan en openlik in die Naam van die Here gepreek” (27,28)
Nelson Bitten vertel in The Regeneration of China van ’n invloedryke Sjinees wat ‘n hoë amp in Sjinese opvoedkundige kringe beklee het. Hy het goeie vooruitsigte en groot voorregte gehad. ’n Nuwe Testament het in sy hande beland. Hy het dit sorgvuldig deurgelees en tot die oortuiging gekom Jesus Christus is die Verlosser van mense en ook sy Verlosser is. Na ’n periode van worstelinge met homself en die berekening van wat dit hom gaan kos, het hy besluit om Christus openlik as sy Here en Saligmaker te bely. Sy beste vriend het hom probeer afraai en ompraat, om in die geheim van sy private lewe, ’n dissipel van Jesus te wees. “Buig vir die Confuciussteen, dis tog net ’n leë eerbiedsvorm. In jou hart kan jy mos glo soos jy wil.” Die man het geantwoord: “’n Paar dae gelede het Iemand in my hart kom woon; my lewe is deur Hom vir altyd verander. As ek vir enige iemand anders buig, kan Hy dalk van my af weggaan.”
Vir ’n sterk, invloedryke en vrugbare Christenlewe is dit nodig om die Here Jesus openlik te bely en te volg. “Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien …want die raadslede het hulle herken as volgelinge van Jesus” (Hand.4:13). In ’n Christelike land is dit makliker om Christus openlik te bely. Hoewel, selfs in ’n Christelike land, is daar omgewings: die werkplek, ook die vermaaklikheidsterrein, vriende- en familiekring, wat dit steeds moeilik maak om Jesus openlik te bely en sy getroue dissipel te wees. Die verlange om Jesus as Verlosser te erken en te bely, hang af van die plek wat Hy in ’n mens se hart het. Die Heilige Gees gee ons vrymoedigheid om Hom te bely. Vir Jesus self is dit belangrik dat ons Hom bely en Hy verwag dit van ons: “Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is” (Mat.10:31). Gelukkig, in ons bewuste swakheid om Jesus te volg, is Hy nog ons Voorspraak by die Vader: “Want ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word”(Heb.4:15).
“Here, vandag wil ek U vrymoedig bely en verheerlik.”